Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nie geleentheid meer om die sipresse te ruik

Dooie mense. Elke dag. In die koerant, oor die TV, oor die radio. Internet. Facebook.

Dit was nie altyd só nie. Op die dorp waar ek grootgeword het, is twee of drie mense, dalk vier, elke jaar dood, en op omtrent elkeen van hulle se begrafnis was jy.

Jy het saam met die ander dorpsmense by die oop graf op ’n Donderdagoggend gestaan en jy kon oom Boet se kis stadig die aarde in sien sak.

Jy kon tannie Koba, sy vrou van 37 jaar, se snikke hoor en sien hoe haar seuns haar moet vashou wanneer sy agter oom Boet aan die graf in wou spring. In die lug die reuk van sipresse. Ná die tyd het jy tee by die kerksaal gaan drink. Op ’n tafel was die troos uitgepak: reënboog-toebroodjies, klein frikkadelletjies, gevulde eiers.

Uiteraard is daar ook mense in die dorp se lokasie dood, maar van hulle was jy net vaagweg bewus. Die dood was iets ver, en wanneer dit nader aan jou gekom het, kon jy saam treur en rou en dit verwerk. Daar is byna van jou verwag om dit te doen.

In die koerant was die dood hoofsaaklik beperk tot die doodsberigte – ’n kort stukkie op bladsy 24, met ’n foto’tjie daarby. “Ma se heengaan word diep betreur. Rus sag, Ma.” Soms sou daar ’n berig wees oor iemand wat vermoor of in ’n motorongeluk dood is.

Oor ’n bekende se dood is waardig verslag gedoen. Televisie was daar nog nie. Ek hoor nog Nic Swanepoel, die Radio Suid-Afrika-omroeper, se lanferstem wanneer hy ’n staatsbegrafnis uitsaai: “Terwyl die wolke soos swierige skepe stadig deur die lug seil, kom die stoet in Kerkstraat af . . .”

Nou sien jy daagliks lyke onder komberse of in plastieksakke lê. Jy sien die kiste, die grafte, en die gesigte van die sterwendes. Jy hou die getalle dop: soveel in Amerika, soveel in die Wes-Kaap, soveel in Gauteng. Gesiglose, naamlose syfers op ’n kurwe wat opwaarts of afwaarts neig.

Dit voel asof niemand meer waardig in ’n bed in ’n kamer met toegetrekte gordyne in ’n plaasopstal sterf nie. Die werksmense wat kom groet. Gedempte stemme in die sitkamer.

Jy beleef té veel mense se dood deesdae van té naby, sonder om die geleentheid te kry om die sipresse te ruik en saam met tannie Koba agter oom Boet se kis aan te wil spring.

Elke keer hoor en sien jy maar net weer nóg een is op ’n plaas vermoor.

As ek doodgaan, wil ek nie ’n begrafnis hê nie, sê baie mense. Drink wyn. Speel my gunsteling-Bruce Springsteen-lied. Vier my lewe.

Is dit nie dalk ’n simptoom van die heersende verbruikerskultuur nie? Jy moet altyd gelukkig en gesond en mooi en geborge wees, soos iemand in ’n tandepasta-advertensie. Dit terwyl ’n mens soms die natuurlike behoefte het om te wil treur en soos Dylan Thomas te “rage, rage against the dying of the light” oor iemand se dood.

Jy wil liewer iemand se lewe saam met hom of haar vier terwyl hy of sy nog leef. Jy beleef té veel mense se dood deesdae van té naby, sonder om die geleentheid te kry om die sipresse te ruik en saam met tannie Koba agter oom Boet se kis aan te wil spring.

Jy is nog besig om een se dood te verwerk, dan is die volgende een al weer daar.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.