Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nie gyselaar van Gedleyihlekisa
Gert Coetzee

Jacob Gedleyihlekisa Zuma – ook JZ, Msholozi of “hy wat glimlag terwyl hy jou groot skade berokken” (die betekenis van Gedleyihlekisa).

Dit is ’n maklike prentjie – hoe hy in die Estcourt-gevangenis, “die paleis van tronke”, in die oggendsonnetjie saam met sy ontbytpap kop agteroor gooi en “Hê-heê-hêêê!” koggellag, soos ons dit geleer ken het. Nes hy smalend “Nkááándla, Nkááándla, Nkááándla” in die parlement na die opposisie gespoeg het.

Selfingenome, dat hy – lank ná die “nege vermorste jare” – die land gyselaar hou. En uit verset gebrand, geplunder en doodgemaak word. In sy naam, maar hy is in die tronk en – weer – nie aanspreeklik nie. Ubaba! Wat ’n man.

Soos die twee vroue wat met die baba na koning Salomo is, is dit. Die een wie se kind dit nie is nie, sal hom graag in twee laat kap, dan het nie een iets nie.

Só is dit met Gedleyihlekisa en sy kaal bende. Eerder ’n verskroeide aarde en niemand het niks nie, as dat die smulpape nie verder kan vreet nie.

Die afgelope dae se anargie, stropery en verwoesting vat aan die siel van Suid-Afrika.

Die afgelope dae se anargie, stropery en verwoesting vat aan die siel van Suid-Afrika. Soos skouerophalend ontken sal word, staan Zuma nie pa vir die geweld en skade wat elke dief en vandaal aangerig het nie. Dat die kruitvat vir hul Zuma-lont so ryp en smeulend was, het sekerlik die aanhitsers se stoutste verwagtinge oorskry.

Die oorsake is verweef en meervoudig en die gevolge klinkklaar.

Die oplossing?

As die meerderheidsparty en die regering is die ANC “Beskuldigde Nommer Een”, soos sy leier al gesê het, wat korruptes, kripvreters en kohorte die land siender oë laat kaal steel en verkrag het, terwyl ontmagtigdes krepeer.

Regsverydeling, minagting van die hof, ’n weelde-elite, armoede, wetteloosheid, wanbestuur en dienste-inploffing het ’n rype teelaarde geskep vir dié anargie. Met die ANC nie in staat om sy maaksel ongedaan te maak nie.

Bevoorregtes en “geregsdienaars” plunder saam.

Die beskaming is hoe Bheki Cele, die Kampsbaai-kampioen, skitter in sy afwesigheid wanneer sterk leierskap met polisieëring werklik nodig is. En wie is die minister van verdediging nou weer?

Die waarheid is ook dat die keerpunt vir ’n keuse vír of téén wet en orde uit die ANC-geledere moet kom. Onder stukrag uit die geledere van die opposisie, drukgroepe en ons gewone mense.

In die ANC is die suiwering aan die gang – en word die politieke rekonfigurasie nou op die spits gedryf. Met die afgelope brandende dae as ’n simptoom.

In die ANC is die suiwering aan die gang – en word die politieke rekonfigurasie nou op die spits gedryf. Met die afgelope brandende dae as ’n simptoom.

Als gegiet in die konteks van Suid-Afrika se bedroewende geskiedenis.

Die krisisdae se gevolge is onmeetbaar in terme van lewensverlies, finansiële skade, houe vir die ekonomie (met buitelandse beleggers wat die nuus volg), ontwrigting, trauma en wanhoop.

Oplossingsgerig is dit maklik om vanuit ’n gerieflike enklave te sê wat moet gebeur. Herstel wet en orde. “The safety of the people shall be the highest law,” het Cicero in De Legibus mos al gesê.

Ja. En wat op die duur moet gebeur weet ons ook: Werkskepping (én werk-ywer), uitwissing van ongelykhede, uitroei van korrupsie, bemagtiging én, én, én . . .

Tussen móét en kán lê ’n wêreld.

Een ding is beslis – die ommekeer is nie een euforiese oomblik nie, maar ’n nimmereindigende proses. En nie ligtelik nie. Die skuif van een orde van vóór 1994 na ’n ander was nie in 1995 (met die Wêreldbeker-sege) afgehandel nie, maar is steeds aan die gang.

Een ding weet ek wel – ons is nie Gedleyihlekisa se gyselaar nie. Ons sal hier deurkom. Hoe ook al. En nie omdat ons nie ’n ander keuse het nie.

Deur voorbeeld, teenspraak, gesonde verstand en uitoefening van keuses.

Gordel vas. Dis ’n rowwe en ’n rou rit. Sonder kitskure of pleistertjies.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Jacob Zuma  |  Plundertogte  |  Korrupsie  |  Gyselaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.