Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nie ’n land vir wit mans?

Jessie Duarte, die ANC se sekretaris-generaal, word nie gewoonlik met logika en gesonde verstand vereenselwig nie.

Sy is moontlik die bitsigste lid van die party se leierskorps. Sy babbel en tier en trek vir die geringste rede los.

Waar sommige in ANC-kringe samesweringsteorieë as ’n manipulasie-instrument gebruik, glo Duarte dit regtig.

Moenie verbaas wees as sy beweer die huidige hittegolf is ’n listige plan van imperialistiese magte om ons damme te laat opdroog en ons kwesbaar vir ’n regimeverandering te maak nie.

Maar Duarte was merkwaardig logies en verstandig tydens haar onlangse Albertina Sisulu-gedenklesing in Soweto. Sy het gewaarsku die ANC verloor sy nierassige karakter en word selfs deur stamneigings besmet.

Ons in die ANC is rassisties omdat ons mense wat nie swart Afrikane is nie, marginaliseer.
Jessie Duarte

“Ons het amper stamgebonde geraak in die manier waarop ons onsself voorhou. Ons in die ANC is rassisties omdat ons mense wat nie swart Afrikane is nie, marginaliseer. Ons hou hulle tot elke prys uit die ANC. Ons wil nie aanvaar dat nierassigheid ’n kernwaarde van die ANC is nie. Ons skep selfs mites.”

Sy was in die kol.

’n Ontstellende regressie het die laaste paar jaar in die nasionale psige plaasgevind. ’n Stuurlose nasie het toegelaat dat afgedwaal word van die pad na die skepping van ’n waarlik nierassige gemeenskap gegrond op gelykheid.

Dit lyk asof ons daarop uit is om die Grondwet se voorwoord, dat “ons glo Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons diversiteit” en dat ons die “verdeeldheid van die verlede” moet genees, te verwerp.

Pleks daarvan het ons rassespanning aangewakker, met wit rassisme wat vryliker beoefen word en swart mense wat met ewe veel energie daarop reageer.

Etniese bewustheid vind sy weg terug na die hoofstroomlewe nadat ons gedink het ons het dit tydens die struggle teen apartheid aangepak.

’n Mens sou verwag dat die land se kollektiewe leierskorps hierop sou reageer, maar helaas. Pleks daarvan stook talle Suid-Afrikaanse leiers die vuur.

Van die DA se terugtrekking in die wit laer en sy wantroue van swartheid tot by die ANC en die EFF se rasse-uitlokking, is daar ’n gevoel ons word na die loopgrawe gelei.

So, elke keer as ’n EFF-LP “agbare Jamnadas” sê, noem hulle Gordhan eintlik ’n “agbare Indiër”.

Die EFF wil hê ons moet glo sy aanvalle op Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, is op beginsels en politieke verskille gegrond. Tóg is die party se taal en gedrag deurtrek van rasse-renons en wantroue jeens Indiërs.

Die jongste voorbeeld hiervan, wat die EFF blyk snaaks te vind, is sy verwysing na Gordhan as Jamnadas. Al is dit sy tweede naam, verg dit nie ’n ruimtewetenskaplike om uit te werk die EFF speel met die term “jananda” nie – sleng vir Indiër.

So, elke keer as ’n EFF-LP “agbare Jamnadas” sê, noem hulle Gordhan eintlik ’n “agbare Indiër”.

Maar hierdie rubriek gaan nie oor Gordhan nie.

Die onderwerp is die kinderagtige reaksie uit talle leierskapskringe oor die aanstelling van André de Ruyter as Eskom se uitvoerende hoof. Leiers het die regering gekritiseer omdat ’n wit man aangestel is.

Die EFF was voor in die koor en het die “anti-transformasie-”, “rassistiese”, “skandalige” en “irrasionele” aanstelling gekritiseer as deel van ’n “rassistiese projek om Afrikane te ondermyn”.

Die party het gesê hy is “gewalg deur die voortgesette uitwissing van Afrikane” in staatsbeheerde ondernemings.

Vir die metaalwerkersvakbond Numsa was die aanstelling “ ’n belediging van swart mense en Afrikane in hierdie land”.

Die Black Management Forum het die regering daarvan beskuldig dat hy “wit mense aan die kant van die pad”optel en hulle met magtige posisies vertrou.

Daar was nog talle skel uitroepe van afkeur, suiwer op grond van De Ruyter se velkleur.

Tot sy krediet het die ANC die besluit van die regering wat hy beheer, gesteun.

Dit bring ons by die vraag wat transformasie behels. Is die blote aanstelling van ’n wit persoon transformasie in trurat en bevorder die blote aanstelling van ’n swart mens transformasie?

En as ’n swart visekanselier sy of haar termyn voltooi, beteken dit geen wit akademikus kan as opvolger oorweeg word nie?

En as ’n swart visekanselier sy of haar termyn voltooi, beteken dit geen wit akademikus kan as opvolger oorweeg word nie?

Sê ons as ’n gemeenskap dat geen wit mens ooit weer aan die stuur van ’n instelling in Suid-Afrika mag staan nie, ongeag vaardighede, houding en toewyding?

En sê ons aan slim wit kinders wat hul loopbaan begin daar is ’n plafon en dat hulle nie na die hoogste sport moet reik nie?

As ons houding is dat daar geen plek vir wit mense is nie, veral wit mans, moet ons so sê.

Dit is baie duidelik dat die Suid-Afrikaanse gesprek in die afwesigheid van koherente leiding van bo – en met Bell Pottinger se hulp – ’n dom gesprek geword het.

Ons interpretasie van transformasie en herstel het letterlik geword en ons het vergeet dat die doelwit is om die samelewing te normaliseer.

Daar is in geen stadium van ons edel revolusie gesê hierdie land is nie ’n land vir wit mans nie.

  • Makhanya is hoofredakteur van City Press.
Meer oor:  André De Ruyter  |  Wit Aanstellings  |  Anc  |  Swart Aanstellings  |  Eff  |  Eskom  |  Wit Mans  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.