Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nie net boos of goed

In ’n eerlike gesprek oor kolonialisasie kan Afrikaners as moderne mense ontdek dat hulle baie dinge met die voorkoloniale Afrika in gemeen het, soos sy sin vir gemeenskap, lokale selfstandigheid en respek vir tradisie en wysheid, skryf Danie Goosen.

Die storm wat Helen Zille met haar twiet oor die koloniale erfenis ontketen het, sal nie gaan lê nie. Selfs lank nadat Zille deur die DA tot orde geroep is, sal ons steeds heftig met mekaar oor die betekenis van dié erfenis verskil.

’n Belangrike rede daarvoor lê in die aard van die gesprek opgesluit. In plaas daarvan om mekaar te hoor, word in uitsluitende terme geredeneer: Óf die koloniale erfenis is boos óf dit is goed. In die proses word geen nuanse geduld nie.

Kan ons anderkant die gebruik van “boos” en “goed” beweeg? Uit ervaring weet ons mos dat dit ’n eerlike gesprek verhoed. As ons beter instrumente inspan, kan die verskillende standpunte mekaar ten minste beter hoor. En selfs iets van mekaar leer.

Byvoorbeeld, Afrikaners kan as moderne mense ontdek dat hulle baie dinge met die voorkoloniale Afrika in gemeen het, soos sy sin vir gemeenskap, lokale selfstandigheid, respek vir tradisie en wys­heid, ensovoorts.

Trouens, hulle is primitief en agterlik, is aangevoer.

egelyk kan die antikoloniale kragte ontdek dat hulle politiek van wrokkigheid jeens die koloniale verlede ’n selfvernietigende pad is. En dat ’n aansluiting by die moderne wêreld, wat saam met kolonisering gekom het, moontlik is sonder dat die eie identiteite prysgegee hoef te word.

’n Belangrike sleutel tot ’n verstandige hantering van die koloniale erfenis lê juis in ’n beter begrip van die “moderne era” opgesluit.

Histories gesproke het die Europese kolonisering van bykans die hele aardbol met die era van “modernisering” saamgeval. Waar kolonisering gebeur het, het modernisering in sy voetspore gevolg. As ons die koloniale era wil verstaan, moet dit begryp word.

Indien ons dit doen, sal Afrikaners byvoorbeeld beter begryp watter krisisse met kolonisering gepaardgegaan het.

Modernisering het met ’n radikale verandering van die ou wêreld gepaardgegaan. En dit nie net ten goede nie.

Tegelyk behoort die antikoloniale beweging beter te begryp met watter yslike teenstrydigheid hyself opgeskeep sit. Alhoewel dié beweging tereg krities is op die kolonialisme, het sy belangrikste leiers en intellektuele vanaf die middel van die vorige eeue die proses van modernisering omhels.

In die mate waarin hulle dit egter gedoen het, het hulle ironies genoeg juis by die dieperliggende idees ten grondslag van die kolonialisme aangesluit.

Twee voorbeelde kan dit verduidelik, naamlik die moderne individualisering van die mens en die belangrike rol van die moderne territoriale staat.

Albei eienskappe van modernisering is deur die koloniale magte na die gekoloniseerdes uitgedra. En albei is ironies genoeg deur die antikoloniale magte as deel van hul eie mondering aanvaar.

Afrika was voor die koms van die moderne koloniale magte ’n tradi­sionele wêreld. Kenmerkend van die tradisionele Afrika was die gedagte dat mense nie losstaande individue is nie, maar dat hulle tot ’n digte netwerk van ekonomiese en sosiale gemeenskappe behoort het. Om deel van jou gemeenskappe te wees, was as natuurlik ervaar.

Tegelyk was daar ook nie in die tradisionele Afrika iets soos moderne state wat vanuit ’n burokratiese sentrum groot gebiede en ’n veelheid van gemeenskappe aan hul mag onderwerp het nie. Gemeenskappe het eerder ’n relatief selfstandige lewe gevoer.

Hieraan het die moderne wêreld met sy koloniale kragte vooraan ’n reuse-verandering gebring. In aansluiting by sy modernistiese uitgangspunte het die koloniale magte die gedagte gevestig dat jou eie gemeenskapsverbintenisse minderwaardig is.

Trouens, hulle is primitief en agterlik, is aangevoer. Daarom moes hulle agterweë gelaat en met ’n moderne (lees: Engelse of Franse) lewenstyl vervang word.

Tegelyk het die koloniale magte diep in die vesel van die tradisionele gemeenskapstrukture gesny en ou familie- en stamstrukture ontwrig.

Hoe? Deur die gekoloniseerdes aan die gesag van die staat te onderwerp. Voortaan was jy as volwaardige mens beskou as jy jou stam agterlaat en jouself soos ’n “burgerlike individu” gedra wat die staat gehoorsaam.

Ironies genoeg het die leiers van die gekoloniseerdes albei aspekte van die moderne wêreld omhels. Geen wonder dat hulle vandag steeds deur ’n diep veragting (tipies koloniaal) vir hul ou gemeenskapsbande gekenmerk word nie.

Tegelyk het die antikoloniale magte die moderne staat, die magtigste instrument van die koloniale era, vir hulself opgeëis.

’n Tipiese uitdrukking hiervan is die feit dat die moderne state telkens gepoog het om één amptelike taal op almal in hul onderskeie gebiede af te dwing.

Die antikoloniale kragte het sonder uitsondering hierdie strategie nageboots (dit alles nogal in die tale van hul koloniseerders).

Waar laat dit ons? Vandag word die “moderne afspraak” met sy klem op individu en staat deur verskeie intellektuele aan ’n geldige kritiek onderwerp. Hiper-individualiteit is die resep vir groot ongeluk, vereensaming en sosiale ontbinding, sê hulle tereg.

Tegelyk voer hulle aan dat die staat gemeenskappe daarvan weerhou om ’n seggenskap in dié sake te hê wat hulle ten nouste raak. Denke anderkant die eng voorskrifte van die staat het daarom dringend noodsaaklik geword.

Kan die strydende partye mekaar rondom hierdie sake vind? So ’n verstandhouding kan deur minstens twee dinge gekenmerk wees: Eerstens, ’n moderne gemeenskap soos die Afrikaners kan, sonder om sy eie moderne aard te ontken, aansluiting vind by die hedendaagse kritiek op die eensydige beklemtoning van individu en staat.

Saam met die antikoloniale beweging kan ons sê dat ons nie net vryswewende individue is nie, maar ook gemeenskapswesens.

Tweedens, die antikoloniale kragte behoort egter ook te erken – en dit verteenwoordig die moeiliker deel – dat die proses van modernisering nie net onheil gebring het nie.

Alhoewel die state negatiewe gevolge gehad het, het hulle ook dinge moontlik gemaak soos die aanlê van moderne spoorlyne, moderne hoofweë, moderne poswese, maar ook die moderne wetenskap, moderne gesondheidsorg, moderne universiteite, ensovoorts.

Is die feit dat die antikoloniale kragte self reeds hierdie dinge omhels het, nie ’n bewys daarvan dat dit tog ook met groot voordele gepaardgegaan het nie?

As so ’n verstandhouding nie moontlik is nie, sal ons enersyds aan ’n politiek van skuld en andersyds ’n politiek van wrokkigheid en die heillose soeke na sondebokke uitgelewer bly. En dit verteenwoordig nag – vir ons almal.

Prof. Danie Goosen is die voorsitter van die FAK.

Meer oor:  Kolonialisme  |  Politiek  |  Afrika  |  Brittanje
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.