Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Nie net Lesufi se oorlog’

’n Ou uitknipsel het ’n onderwyseres van ’n Oos-Randse skool laat besluit om die pen op te neem oor die rassisme wat hul dubbelmediumskool van ander Afrikaanse skole ervaar.

Beeld se voorblad op 18 Januarie 2018.

Geagte redakteur,

Ek is net ’n doodgewone onderwyseres aan ’n Oos-Randse hoërskool wat Afrikaans was. Ons skool het sowat 13 jaar gelede ons eerste Engelse (lees “gekleurde”) kinders ingeneem.

Ons is nie deur die onderwysdepartement genader nie, maar die beheerliggaam het besef dit moet gebeur en het proaktief opgetree en dit op eie inisiatief gedoen. Die opregte strewe was dat ons ’n baie goeie dubbelmediumskool wou wees. Ongelukkig het die ander Afrikaanse skool in ons omgewing die geleentheid aangegryp om die feit dat ons Engelse (lees swart) kinders ingeneem het, vir hul bemarking te gebruik.

Omdat my kinders toe in die laerskool was, het ek dit eerstehands beleef. Die ander skool het dit fyn beplan – dit was altyd kinders wat “informeel” by die hekke van die laerskool afgelaai is en dan sou vertel dat hul skool net wit Afrikaanse kinders gaan inneem.

Omdat die “swart gevaar” vir baie wit Afrikaanse ouers ’n werklikheid is, het baie van die kinders wat in ons voedingsgebied woon gevolglik na daardie skole gegaan. En binne vier jaar was daar net twee Afrikaanse klasse per graad in ons skool, toe net een en vanaf 2016 was daar so min Afrikaanse gr. 8’s dat hulle van gr. 8 af in ’n dubbelmediumklas was. Ons huidige gr. 9- en gr. 8-groepe (2018-inname) het geen Afrikaanssprekende kinders nie. En tog kan niks kinders beter voorberei vir die regte lewe as ’n dubbelmediumskool nie.

Die skool, personeel en beheerliggaam het die nuwe dinamika letterlik omhels en 90% van die personeel sal baie maklik vertel dat hulle nooit weer by ’n net Afrikaanse wit skool wil skoolhou nie.

Ons het ons stout kinders; ons het ons probleme; die omgewing se tannies kerm partykeer oor “hulle” wat in die strate kuier en luidrugtig is.

Ons sport doen goed, ons akademie doen goed en ons is vir baie ouers die eerste keuse, wat veroorsaak dat ons lang waglyste het. Ons het ons stout kinders; ons het ons probleme; die omgewing se tannies kerm partykeer oor “hulle” wat in die strate kuier en luidrugtig is.

Daar is verloorstories – soos die invloed van drank en dwelms; die oumas wat na hul kleinkinders moet kyk en dan raak die kinders, veral seuns, rammetjie-uitnek.

Maar daar is soveel, soveel wenstories – in die algemeen gaan dit goed.

Ons skool het ’n geskiedenis en tradisie van gemeenskapsbetrokkenheid en ’n sosiale bewustheid.

Ek wil net byvoeg dat dit hoofsaaklik ’n werkersklas-skool is. Daar is kinders wat baie, baie arm is. Ons probeer help. Só kry ons kinders hul skryfbehoeftes en handboeke gratis. Toere word deur die skool gesubsidieer. En ons skoolfondsinbetaling is omtrent 85%. Ons finansies word goed bestuur deur ’n baie betrokke beheerliggaam.

Ek persoonlik dink ook dat Panyaza Lesufi baie aanjaag, en jou stuk het beslis by my geresoneer.

Barnard (Beukman), in 2018 het jy in Beeld se Standpunt-ruimte ’n rubriek geskryf met die opskrif “Lesufi se oorlog; Skole dra nou gevolg van ander se oorsaak”. Ek het so baie van die stuk gehou dat ek dit uitgeknip het. Ek persoonlik dink ook dat Panyaza Lesufi baie aanjaag, en jou stuk het beslis by my geresoneer. Ek was jammer vir Overvaal se kinders – maar omdat ons die ander pad geloop het, was ek persoonlik in my agterkop van mening dat Overvaal ’n ander roete kon volg. Ek het egter 100% met jou saamgestem dat Lesufi simpel optree.

Maar ek wil graag met jou deel wat ek hierdie jaar beleef het.

Tot 75% van ons skool se kinders is rugbymal. Ek persoonlik is seker (beslis baie bevooroordeeld) dat die volgende Siya Kolisi in ons skool is. Ons jong rugbyafrigters is beskermend oor hul spanne, word hul mentors, raas oor hul punte, bring hulle na ekstra wiskundeklasse, gee die helfte van hul salarisse uit om te sorg dat die kinders kos het.

So speel ons toe vanjaar op ’n Vrydagmiddag op ons velde teen ’n ander Oos-Randse skool rugby. En dit word een van die aakligste dae van die jaar. Ek het nog nooit by personeel en ouers – en by kinders – sulke rou rassisme beleef nie.

Hoe hou julle dit uit om vir bobbejane skool te hou? Ons kry dit reg om hulle uit te hou.

Ek deel van die voorvalle wat ek self beleef het, of wat onderwysers aan my vertel het: Ten tyde van die klein geselligheid voor die tyd het ’n afrigter van die ander skool gevra: “Hoe hou julle dit uit om vir bobbejane skool te hou? Ons kry dit reg om hulle uit te hou.” En boonop vertel hy dat hulle “oop klaskamers” het. Dít aan jong onderwysers wat in ’n skool skoolhou waar daar meer as 1 800 kinders is in ’n gebou wat vir 800 leerlinge gebou is. Waar tien personeellede nie klaskamers het nie, maar moet swerf.) Langs die rugbyveld het ouers die k-woord mildelik gebruik. Hoe verduidelik ’n mens dit aan o.14- en o.15-seuns?)

’n Jong swart afrigter van ons skool is langs die veld aangesê om te “f**of – ons staan hier”. Toe een van ons jong onderwyseresse die o.15-span aanmoedig, waarvan sommige lede in haar registerklas is, het ’n ouer vir haar gevra “as jy so ’n k-boetie is, n*** jy hulle ook?” Tydens die o. 15-wedstryd het ons seuns toe (baie verkeerdelik) besluit dat hulle in die volgende losgemaal “per ongeluk” oor die kantlyn gaan val en die groep besoekende ouers gaan probeer omstamp.Nodeloos om te sê het die ouers op die veld gestorm en as dit nie vir ’n goeie skeidsregter was nie, sou die bakleiery baie erger kon wees. 

Selfs eerstespan-seuns kan net soveel keer hoor “jou ma is ’n m**d” voordat hulle ontsteld raak.

Ma’s van die besoekende skool het ons oudleerlinge gevloek.  Ons spanne het almal gewen, maar dit was ’n aaklige, aaklige aand. Op die veld is ons spelers die hele tyd aan rassisme blootgestel. Selfs eerstespan-seuns kan net soveel keer hoor “jou ma is ’n m**d” voordat hulle ontsteld raak. En onthou, ons swart seuns verstaan almal beslis Afrikaans.

So, toe ek jou rubriek weer kry (ek is besig om op te ruim), het ek dit nie weggegooi nie. Maar ek het van verlede week af geloop en tob. En toe vanoggend besluit om vir jou te skryf. Want daar is dubbelmediumskole waar dit goed gaan, selfs baie goed.

En dit is nie net wit Afrikaanse skole wat die slagoffer is nie. As daar die dag ná die rugby betogings by ’n Afrikaanse skool was, sou ek waarskynlik hartlik meegedoen het.

Ek wil net die punt maak dat die skole wat probeer om goeie parallel- en dubbelmediumskole te wees, deur die Afrikaanse skole en deur Lesufi geboelie word. En eintlik doen ons goeie werk. En daar is baie sulke skole soos ons. As jy ooit Dana Snyman se Donkie kan sien – dis waarvan ek praat.

Ek gaan jou rubriek nog nie weggooi nie, want dit was baie goed. Maar twee jaar later het ek besef: Dit is nie net Lesufi se oorlog nie.

Van Juffrou.

Juffrou se identiteit en skole waarna verwys word se name is aan Beeld bekend. Die brief is egter onder ’n skuilnaam aanvaar.

Meer oor:  Betogings  |  Rassisme  |  Onderwys  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.