Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nie plek vir draadsitters
06 September 2018

Die Ou Hoofgebou op die kampus van die Universiteit Stellenbosch.Foto: leanne stander

Volgende week is D-dag vir Afrikaans, sê Jan Heunis in hierdie toespraak. Want op 13 September hoor die konstitusionele hof Gelyke Kanse se aansoek aan om die taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch tersyde te laat stel.

Oor hierdie saak moet ons met mekaar reguit praat. Wanneer daar nie meer ’n universiteit is wat Afrikaans as ’n primêre taal van onderrig gebruik nie, sal dit die begin van die einde van die breër Afrikaanssprekende gemeenskap se kulturele huis wees.

Dit het nie alleen enorme implikasies vir Afrikaans se hoër funksies nie, vir Afrikaans as wetenskapstaal nie, maar ook vir huidige en voornemende studente wat in Afrikaans wou en wil studeer.

Asook vir primêre en sekondêre skoolonderrig in Afrikaans wat noodwendig sal afneem namate daar nie meer ’n geleentheid vir tersiêre onderrig in daardie taal is nie. Vir Afrikaanse boeke, koerante en tydskrifte – noem maar op.

Omkring Donderdag 13 September 2018 op u kalenders. Dit is die dag waarop die konstitusionele hof Gelyke Kanse se aansoek om die taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US) tersyde te laat stel, sal aanhoor.

Ten spyte van al die versekeringe dat dié beleid nie sou lei tot ’n noemenswaardige vermindering van die Afrikaanse aanbod nie, is dit ’n gegewe dat daar van Afrikaans in lesinglokale bitter min oorgebly het en in die administrasie van die US feitlik niks.

So seker as wat die son in die ooste opkom, is 13 September 2018 dus D-dag vir Afrikaans. Dit is Afrikaans se quo vadis-oomblik.

So seker as wat die son in die ooste opkom, is 13 September 2018 dus D-dag vir Afrikaans. Dit is Afrikaans se quo vadis-oomblik.

In ’n artikel in Die Burger van 29 Augustus 2018 skryf Christo van der Rheede dat gedeelde waardes die grondslag lê vir ’n gedeelde visie en dat dit ’n waardegedrewe en verenigde Afrikaanse gemeenskap is wat die toon moet aangee om die waardes en ideale soos vervat in ons Grondwet te respekteer, te beskerm en daaraan uitvoering te help gee.

Maar hy bespeur in sy daaglikse omgang met die Afrikaanse gemeenskap hoe erg verdeeld Afrikaanssprekendes is en dat dit gepaardgaan met ’n vyandigheid en aggressiwiteit wat simptomaties is van ’n groter probleem waarvan die wortels diep strek.

Hiermee het die geskiedenis en hedendaagse politieke, ekonomiese, kulturele en sosio-maatskaplike uitdagings en onsekerheid waarmee die Afrikaanse gemeenskap gekonfronteer word, veel te make.

Die risiko, sê hy, is dat onderlinge konflik so ’n destruktiewe impak op die Afrikaanse gemeenskap sal hê dat dit weldra geen konstruktiewe bydrae meer tot Suid-Afrika se vooruitgang te lewer sal hê nie.

Daarby laat sommige van ons toe dat ons die mond gesnoer word of bly ons sommer uit eie beweging stil, kwansuis asof ons nie geregtig is op ’n standpunt nie of nie geregtig is om ons standpunt uit te spreek nie – so asof die Grondwet nie ook ’n dokument van versoening en ’n nuwe begin is nie.

Volgens Van der Rheede sal die faktore wat die breë Afrikaanse gemeenskap se bydrae ondermyn, geïdentifiseer moet word en ’n werkbare, regverdige oplossing daarvoor gevind moet word.

Dit is vir so ’n stryd dat ek u oproep. Dat ek ’n beroep doen op u rede en u hart.

Indien hierdie faktore in stryd is met die beginsels soos in die Grondwet vervat, is daar sekerlik ’n geregverdigde stryd wat ’n nie-rassige Afrikaanse gemeenskap kan voer om dit uit die weg te ruim.

Dit is vir so ’n stryd dat ek u oproep. Dat ek ’n beroep doen op u rede en u hart.

Min gebeurtenisse het hierdie Van der Rheede-waarhede skerper in fokus gebring as die US se besluit om Engels te promoveer tot die primêre onderrigtaal en die gebruik van Afrikaans af te skaal tot so ’n mate dat dit in die praktyk noodwendig daartoe sal lei dat dit kort voor lank sy status as onderrigtaal heeltemal sal verloor.

Hierdie is nie ’n saak vir draadsitters nie.

Hierdie onreg aan die hand van ons taalgenote roep ’n nie-rassige Afrikaanse gemeenskap op tot ’n geregverdigde stryd in ooreenstemming met beginsels soos in die Grondwet verwoord.

Die besluit van die US stapel die een skokkende feit op die ander:

  • Die mense wat die proses van verengelsing dryf, is Afrikaans-sprekendes;
  • Hulle doen dit, so argumenteer hulle, ter wille van transformasie, terwyl transformasie en onderrig in Afrikaans nie vreemdelinge vir mekaar, of teenpole, of uitsluitend hoef te wees nie en die breë Afrikaanssprekende gemeenskap dit nie voorstaan of bepleit nie;
  • Hulle weier om na rede te luister, soos wat hulle weier om in ’n eerlike oop debat te tree met diegene wat van hulle verskil;
  • In die strewe om van die US ’n wêreldklas-instelling van uitnemendheid te maak, het die US veral in Gauteng en KwaZulu-Natal uitnemende studente gewerf wat verdien om aan so ’n uitnemende instelling te studeer, met die gevolg dat die getal wit Engelssprekende studente tot so ’n mate gegroei het dat hulle getalle gelyk is aan dié van Afrikaanssprekende studente.
  • En toe, in plaas daarvan om albei tale as gelyke tale van primêre onderrig in te stel, word die transformasie-perd ingespan om die afskaling van die Afrikaanse aanbod ter wille van ’n groter Engelse aanbod te regverdig – so asof die bruin komponent van die Afrikaanse gemeenskap nie ’n transformasie-aanspraak het nie.

Hierdie is nie ’n saak vir draadsitters nie.

Die geskiedenis gaan diegene wat niks meer gedoen het nie as om die hele proses gade te slaan en miskien meewarig die kop te skud, net so hard oordeel soos diegene in die owerheidstrukture van die US wat verantwoordelik is vir die besluite wat tot die vernietiging van Afrikaans as onderrigtaal aan daardie instelling gelei het.

Hierdie is die moment waarop, soos Helen Zille na sommige van ons verwys het, die burgers van die Republiek van Stilte sal moet opstaan om getel te word.

Hierdie is nie ’n saak waaroor u net in u binnekamer met u eggenoot of langs die braaivleisvuur met u vriende fluistergesprekke kan voer nie. Hierdie is ’n tot hiertoe-en-nie-verder-nie-moment vir gans die Afrikaanssprekende gemeenskap.

Langenhoven het by geleentheid in die senaatsdebat oor die vervanging van Nederlands as amptelike landstaal met Afrikaans gevra:

‘As Nederlands julle taal is, waarom praat julle dit nie? As Afrikaans julle taal is, waarom skryf julle dit nie?’

Wat aan die US aan ’t gebeur is, dring die vraag aan ons op: As Afrikaans julle taal is, waarom gedoog julle hierdie onreg?

Soos met elke goeie vraag word die kiem van die antwoord in die vraag gedra.

Ná al die pleidooie wat op dowe ore geval het, al die debatte waartydens daar nie na rede geluister is nie en die bestuur en die senaat en die raad kop omlaag voortgebeur het om Engels tot uitsluiting van Afrikaans as die US se taal van onderrig ingestel te kry, het daar net een manier oorgebly waarop hierdie dier wat op Stellenbosch los is oorwin kan word en dit is deur ’n beroep op die howe.

Die vraag is dus nie soseer of Gelyke Kanse die saak sal wen of nie. Die vraag is of die breë Afrikaanssprekende gemeenskap kan bekostig om die saak nie te voer nie.

Soos met elke goeie vraag word die kiem van die antwoord in die vraag gedra.

Kan u u voorstel watter oordeel die geskiedenis oor ons sou uitspreek indien ons sonder slag of stoot sou toelaat dat Afrikaans as onderrigtaal aan die US te gronde gaan?

Wat soos ’n paal bo water staan, is dat indien Gelyke Kanse die saak wen, sy werk dan eers sal begin en dat Afrikaanssprekendes daardie organisasie dan sal moet uitbou om toe te sien dat ’n prinsipiële oorwinning nie wegsyfer in die sand van berekende of onverskillige niksdoen en versuim nie.

Ek het goeie moed dat daar ’n saak aan die konstitusionele hof voorgehou sal word wat op sterk grondwetlike pilare staan.”

  • Hierdie is ’n verkorte weergawe van die voorbereide toespraak wat Heunis gisteraand op ’n openbare gespreksbyeenkoms van die Afrikanerbond op Malmesbury sou lewer.

Dr. Heunis SC is president van die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Afrikaans  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.