Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nie te laat om sake reg te stel
Leopold Scholtz
Leopold Scholtz.

Omdat ek vandag op die terrein van die regsgeleerdheid oortree, is dit gepas dat ek met ’n Latynse aanhaling begin. Dié woorde is deur die Romeinse historikus Suetonius, uit die mond van Julius Caesar, opgeteken toe dié van sy vrou, Pompeia, geskei het omdat sy van ’n oortreding verdink is: Uxorem Caesaris tam suspicione quam crimine carere oportet. (“Caesar se vrou moet verhewe wees bo sowel verdenking as misdaad.”)

Pompeia is nie aan ’n misdaad skuldig bevind nie. Maar omdat Caesar van haar ontslae wou raak, was skinderstories al genoeg vir hom.

In die eeue sedertdien het dié aanhaling vleuels gekry, onder meer in die regsberoep. Dis dikwels van toepassing gemaak op regters, landdroste, staatsaanklaers, advokate en prokureurs.

Die regbank word dikwels afgebeeld as ’n geblinddoekte vrou met ’n weegskaal in haar een hand. Met ander woorde, die reg – en die mense wat daarvoor verantwoordelik is – moet, soos Caesar se vrou, sigbaar bo alle argwaan verhewe wees.

Geen mens by sy gesonde verstand kan ontken dat taal as uitsluitingsmeganisme gebruik kan word nie – en dat dít inderdaad teen die Grondwet sou wees nie.

Die onlangse uitspraak van die konstitusionele hof oor die reg van die Universiteit Stellenbosch (US) om Afrikaans as onderrigtaal ondergeskik aan Engels te maak het groot argwaan oor Caesar se vrou – die regstelsel – gewek.

Dit is die geval in twee opsigte: Ten eerste was dit ’n bevestiging van die ANC-gedrewe ideologiese oogklappe waarmee die konstitusionele regbank se lede na die reg kyk. Daar is talle aanhalings van regters waaruit blyk dat hulle die Grondwet hoofsaaklik deur ’n transformatiewe prisma verstaan.

Dis hoekom hulle, ondanks die helder taal van art. 29(2) en 30 van die Grondwet, met ’n uitspraak wat daarop neerkom dat daar in werklikheid nie staan wat daar staan nie. Om Afrikaans as onderrigtaal te wil behou word outomaties gelykgestel met apartheid, rassisme en die uitsluiting van swart mense.

Geen mens by sy gesonde verstand kan ontken dat taal as uitsluitingsmeganisme gebruik kan word nie – en dat dít inderdaad teen die Grondwet sou wees nie. Maar pleks van om praktiese maniere te vind om die behoud van Afrikaans met inklusiwiteit te versoen, is daar ’n outomatiese reaksie wat ’n mens nie anders as intellektueel armoedig kan noem nie.

In die lig van die wyse waarop die hof die Grondwet tot op breekpunt buig, is dit oordrewe om van ’n konstitusionele krisis te praat?

In die lig van die wyse waarop die hof die Grondwet tot op breekpunt buig, is dit oordrewe om van ’n konstitusionele krisis te praat? Een wat deur die belangrikste waghond van die Grondwet teweeggebring is?

Die staatsreggeleerde prof. Koos Malan het die uitsprake van die konstitusionele hof in ’n pas verskene boek ontleed. Sy gevolgtrekking is dat die hof die ANC-ideologie van transformasie volg, pleks van die Grondwet.

Daar is ook ’n tweede element aan die krisis. Dit is die wyse waarop een van die regters, Edwin Cameron, ontoelaatbare kontak met een van die respondente in die saak, prof. Wim de Villiers, rektor van die US, gehad het.

Die argwaan ontstaan dat Cameron die kanselierskap van die US aangebied is in ruil vir die “regte” uitspraak oor Afrikaans. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek het geen bewys dat dit so was nie en maak ook nie so ’n kategoriese bewering nie. Maar Caesar se vrou moet bo álle argwaan verhewe wees. Só ook Cameron en De Villiers.

As die regsberoep in die breë die integriteit wil bewaar wat van hom vereis word (en wat hy oorwegend tot dusver aan die dag gelê het), sal die hof se uitspraak nietig verklaar moet word.

Die saak moet opnuut verhoor word, en Cameron sal homself moet wraak (hoekom gebruik ons nie meer dié pragtige ouderwetse begrip nie?), oftewel onttrek. Dis nie te laat om sake reg te stel nie.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Grondwet  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.