Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nie tyd om op CR se tweede termyn te wag

Ace Magashule het besluit om in die howe voort te veg. Dit om Suid-Afrika formeel ’n piesangrepubliek te maak, waarin selfverryking van die sosialistiese elite voorrang kry.

Barnard Beukman

Dit volg op ’n woelige paar weke­ waarin heelwat van die nasionale fokus op die ANC se binnegeveg deur diewe was.

Byna ’n geval van hoeveel jy moes gesteel het om geskors te word, hoe ver jou saak in die howe­ moet wees en in watter stadium jy nog skotvry is, al weet almal jy is ’n dief.

Magashule en sy krimpende aantal trawante het reeds die stryd om magsbeheer in die ANC verloor. Maar klou vas om soveel van die masjinerie te verwoes as wat hulle kan. En voort te gaan met hul remblok-rol om pres. Cyril Ramaphosa se politieke program te ontwrig.

Dit is deels weens die oormatige geduld waarmee die sogenaamde radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie ter wille van “eenheid” tot onlangs hanteer is.

Midde al die gewoel het Ramaphosa wel veral twee belangrike en positiewe oomblikke geskep en beleef:

  • Magashule se skorsing as sekretaris-generaal en die manier waarop die RET-faksie skielik aan die hardloop is. Die wen van politieke magstryde is belangrik. Maar die land kan dit nie langer bekostig dat al sy en sy regeringslede se energie deur die bedenklike binnegeveg gedreineer word nie. Groter prioriteite verg aandag. Die oorwinning gaan net saak maak as die ANC nou vinniger en doeltreffender die diefkultuur uitbloei; en
  • Die president se optrede voor die Zondo-kommissie was van groot belang. Op min plekke in die wêreld gaan onderwerp ’n staatshoof hom daaraan om voor ’n regterlike kommissie indiepte-vrae te beantwoord oor sy regering, party en sy eie optrede. ’n Belangrike presedent is só geskep wat hopelik deel van die Suid-Afrikaanse kultuur gaan word. (Ja, oor hoe bevredigend en volledig hy vrae beantwoord het, is ’n ander saak, maar die simboliek is kritiek). Daarmee volvoer hy ook sy onderneming om korrupsie te beveg en sterk, onafhanklike vervolging te rugsteun. Daar is bewese vordering. Dit wil voorkom of Ramaphosa besef die ANC sal nie die onafhanklike uitkoms van vervolging, hofuitsprake of Zondo kan beheer nie. Dit is immers hy wat die ANC “beskuldigde nommer een” verklaar het.

Heelwat ANC-lede het ook die grootste deel van die afgelope 27 jaar geglo die parlement (lees: die meerderheidsparty) het uiteindelik die hoogste gesag in die land. Die volle implikasies van die oppergesag van die reg is ironies juis besig om die organisasie dood te smoor. Hulle kan dit nie vat dat regters oor hulle ’n oordeel kan vel nie (lees Jessie Duarte se klaaglied oor adjunkhoofregter Raymond Zondo se “swak behandeling” van oudpres. Jacob Zuma en die RET-faksie se getjank oor ’n “regterlike diktatuur”). Om tussen die spul as die goeie een uit te staan is nie juis ’n uitdaging nie. Vir nou is dit Ramaphosa. Maar sy uiteindelike sukses gaan deur heelwat meer bepaal word, soos:

  • Doeltreffende, kleiner regering en dienslewering wat kan begin met ’n nuwe en beter Covid-19-bestuurspoging;
  • Die ophou met die aanstel van enige Jan Rap en sy maat in kernrolle, solank hulle tog net swart is; en
  • Die bevryding van die ekonomie van die juk van die huidige struktuur van staatsondernemings.

Regtig, CR, ons het nie tyd om eers op jou tweede termyn te wag nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.