Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nierassigheid, nieseksisme was Titus se rigsnoere

Nierassigheid en nieseksisme was altyd rigsnoere in wyle dr. Danny Titus se lewe, skryf Nico Botha.

Wyle dr. Danny Titus, ’n voormalige uitvoerende direkteur van die ATKV. Foto: Argief

In die baie huldeblyke wat sedert die dood van dr. Danny Titus, voormalige uitvoerende direkteur van die ATKV, verskyn het, word daar nie veel melding gemaak van hoe hy in Nederland uitgekom het om regswetenskap aan die Universiteit van Leiden te studeer nie.

Op Titus se begrafnisdiens op 27 September in Fourways, het Zach en Elsie Mokgoebo wat lank in Soweto in die bediening van die Verenigde Gereformeerde Kerk gestaan het, ook gevra waarom daar niks oor die Belydende Kring gesê word nie.

Danny en die Mokgoebo-egpaar was jarelange vriende en Zach was instrumenteel daarin dat Danny ’n studiebeurs gekry het om na Nederland te gaan.

Hoewel Danny destyds as staatsaanklaer wetlik verplig was om swart mede-Suid-Afrikaners ingevolge die paswette aan te kla, het mense soos Mokgoebo (tóé sekretaris van die Belydende Kring) sy geweldige potensiaal raakgesien en aanbeveel dat hy uit die land weggeneem moes word om verder te gaan studeer.

In 1979 het die Belydende Kring ’n sterk bewoorde teologiese verklaring die lig laat sien waarin die beeld van God as die een wat aan die kant van die verontregtes staan, verwoord is.

Maar wat is die Belydende Kring?

Die Belydende Kring, of Broederkring soos dit aanvanklik bekendgestaan het, is in 1974 in Bloemfontein gestig onder die leierskap van mense soos Allan Boesak en Sam Buti, destyds ’n dominee van die NG Kerk in Afrika in Alexandra.

Die doel van die Belydende Kring was om op grond van die belydenis dat Jesus Christus die Here is, ’n stryd te voer teen kerklike apartheid en teen die apartheidstelsel. Die Belydende Kring het aanvanklik bestaan uit dominees van die NG Kerk in Afrika en die NG Sendingkerk. Later is besef watter groot teologiese, ideologiese en strategiese fout dit was om kerkraadslede en veral vroue uit te sluit en vandaar dus die naamsverandering van Broederkring tot Belydende Kring.

In 1979 het die Belydende Kring ’n sterk bewoorde teologiese verklaring die lig laat sien waarin die beeld van God as die een wat aan die kant van die verontregtes staan, verwoord is.

Eenheid en geregtigheid was die twee pilare waarop die Belydende Kring gestaan het.

Dis oukei om swart te wees

Nico Botha

Danny was ’n baie aktiewe lid van die Belydende Kring in sy Boksburg-dae. In dié proses het hy skouers geskuur met mense soos Elia Tema uit Orlando, Soweto, Piet Moatshe uit Boschfontein by Brits, Gerrie Lubbe en Klippies Kritzinger van die Reformed Church in Africa (RCA) vir Indiërs wat vanweë hul standpunte van hul status as dominees ontneem is.

Danny het ook kennisgemaak met vroue soos Elsie Mokgoebo, Julia Tladi, Alata Kritzinger en vele ander. Daar was dus geen verbasing toe Danny later met sy “ATKV-baadjie” by ’n roudiens vir Mpho Ntoane wat in Nederland gesterf het, in Soweto opdaag nie.

Danny was altyd ontsettend bly oor die geleentheid wat die Belydende Kring hom gebied het om in die buiteland te gaan studeer en met ’n proefskrif oor menseregte aan die Universiteit van Leiden te promoveer. Hy het in Nederland ook die geleentheid benut om as diplomaat opgelei te word.

Hy het later baie met homself gespot deur te sê dat die opleiding as diplomaat hom nie veel gehelp het nie, omdat hy dit moeilik vind om ’n blad voor die mond te neem. Hy het daarvan gehou om sy sê te sê. Maar dit was daarom juis ’n plesier om met hom debat te voer. Hy het baie skerp argumente geopper, maar laat ander altyd die reg gegee om hul standpunte te stel.

Die waardes en beginsels wat hy met die Belydende Kring-lepel ingekry het sou hom altyd rig in sy optredes. In die Belydende Kring het hy geleer – soos by die Universiteit van Wes-Kaapland waar hy sy BA- en LLB-grade verwerf het – dat dit in ’n stadium in ’n mens se lewe oukei is om swart te wees.

Ook toe hy ’n vrye, selfstandige keuse uitgeoefen het om sy gewig by die ATKV in te gooi, sou hy telkens drink uit hierdie bron van nierassigheid en nieseksisme.

Nie as ’n uitdrukking van velpigmentasie nie, maar as ’n manier om jouself te bevestig en solidariteit te betoon met ander onderdruktes.

Hy het altyd “swart” as ’n bewustheid, ’n mentaliteit verstaan en nie as iets waarvoor mens die lewe hoef af te lê nie.

Hy het danksy die samestelling van die Belydende Kring ook sy tande kon slyp aan nierassigheid en ’n groter gevoeligheid vir gender.

Uiteindelik sou Danny hierdie dinge op ’n uitmuntende wyse in sy lewe beliggaam. Ook toe hy ’n vrye, selfstandige keuse uitgeoefen het om sy gewig by die ATKV in te gooi, sou hy telkens drink uit hierdie bron van nierassigheid en nieseksisme.

Hy kon uiteindelik half met gemak al hierdie dinge in ’n kreatiewe spanning tot mekaar in sy eie persoonlikheid dra. Dit het baie te doen gehad met sy progressiewe verstaan van die spanning tussen eenheid en diversiteit.

Mense soos hy word al minder.

* Botha is emeritusprofessor in teologie aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nico Botha  |  Danny Titus  |  Nierassigheid  |  Apartheid  |  Menseregte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.