Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nigeriese president duidelik uit voeling met land

Nigerië se president het vir homself straks heelwat nuwe probleme op die hals gehaal met sy verbod op Twitter, skryf Liesl Louw-Vaudran.

’n Koerantopskrif in Abuja vertel kort en bondig wat die reaksie op die verbod op Twitter in dié land is. Foto: Reuters

Die Nigeriese president, Muhammadu Buhari, het verlede naweek aangekondig dat Twitter in sy land “gekanselleer” is.

Sommer net so. Gekanselleer. Soos ’n kraan wat toegedraai word.

Dit is duidelik dat Buhari óf heeltemal uit voeling met sy land se mense is óf dat hy baie meer venynig en onderduims is as waarvoor ’n mens hom gewoonlik krediet gee.

Ry hy dan nooit deur Lagos se besige strate en sien dat elke liewe straatverkoper, taximan en markvrou ’n selfoon het nie? Kom hy nooit in die spoggerige plekke waar jong mense laatnag op Lekki-eiland kuier nie?

Het hy nie gelees waar Chimamanda Ngozi Adiche in haar roman Americanah praat van Lagos wat ’n mens “oorrompel” nie? Dit is ’n plek waar alles in die oortreffende trap gebeur en waar elkeen ’n selfoon het, skryf sy.

Van Nigerië se beraamde 200 miljoen inwoners het 39 miljoen ’n Twitter-rekening.

Nigerië is verreweg Afrika se digsbevolkte land. Dit lê aan die hart van Afrika-kultuur: ’n Wonderlike mengsel van energie, met ’n donker onderwêreld tot ’n baldadige, skatryk elite.

Van Nigerië se beraamde 200 miljoen inwoners het 39 miljoen ’n Twitter-rekening.

Die meeste mense leef onder die moeilikste omstandighede denkbaar. Maar hulle is verknog aan sosiale media.

YouTube-films word in agterplase gemaak en miljoene keer op sosiale platforms vertoon.

Sosiale media is baie gewild in Nigerië en daar is 39 miljoen mense in dié land met ’n Twitter-rekening. Foto: AP

Die land produseer Nobelpryswenners en lei deesdae van die grootste instellings soos die Wêreldhandelsorganisasie en die Afrika-Ontwikkelingsbank.

Nigerië is natuurlik ook die hoofkwartier van skelm charismatiese priesters, mafiabase en Islamitiese fanatici.

’n Mens kanselleer hulle nie sommer nie.

Buhari se aksie teen Twitter was uit weerwraak omdat hulle een van sy boodskappe verwyder en sy Twitter-rekening tydelik vir 12 uur opgeskort het.

In die boodskap het Buhari misdadigers met geweld gedreig “deur dié van ons wat Nigerië se burgeroorlog beleef het”.

Liesl Louw-Vaudran

Buhari, wat nou al vir ’n tweede keer president is nadat hy in die tagtigerjare as weermaghoof die mag gegryp het, het volgens Twitter sy reëls oortree deur geweld te stook. ’n Bietjie soos ’n ander leier wat nou nog nie sy Twitter-rekening teruggekry het nie.

Benewens die opgeskorte rekening, is Buhari duidelik vies dat Twitter besluit het om sy hoofkantoor in Wes-Afrika in Ghana eerder as in Nigerië te vestig.

Die 78-jarige leier is deesdae in sy pasoppens. Die laaste paar maande dreig ernstige geweld op baie plekke in die land. Dit is benewens die bedreiging van Boko Haram en ander terreurgroepe in die noorde van Nigerië. Buhari probeer soek na enige verskoning om die aandag van die haglike binnelandse situasie weg te lei.

Maar hy ken duidelik nie sy eie mense nie. ’n Groot optog word vir die volgende paar dae beplan en jy kan maar seker wees mense gaan protesteer totdat sosiale media ten volle herstel is.

Soms kan ’n mens maar net die skouers optrek oor die onsinnighede wat sommige regerings in Afrika aanvang.

• Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Twitter  |  Muhammadu Buhari  |  Nigerië  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.