Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nóg ’n loesing wag in Europa op regses

Nadat meer as ’n miljoen vlugtelinge in 2015 oor Duitsland gespoel het, is ’n narratief gevestig van ’n regse reaksie wat die einde van bondskanselier Angela Merkel sou beteken.

Dat dié narratief vals is, is vroeër vanjaar al met die verkiesingsuitslae in Nederland en Frankryk bewys, waar die regse ekstremiste lelik pak gekry het.

Alles dui daarop dat dit op 24 September in die Duitse verkiesing herhaal gaan word.

Die regs-ekstremistiese Alternative für Deutschland (AfD), so wys peilings, gaan ’n ent onder 10% van die stemme kry. Die rede hiervoor, het die konserwatiewe dagblad Die Welt vandeesweek geskryf, is ’n reaksie onder gematigdes wat geskrik het vir die skielike steun vir die AfD, ’n party wat baie neo-Nazi’s herberg. Dié week is ook die uitslae van ’n paar peilings gepubliseer, waaruit blyk dat die betrekkinge tussen die oorspronklike Duitsers en immigrante – oorwegend Moslems – uitstekend is.

Om mee te begin, is bevind dat 96% van die 4,7 miljoen Moslems in Duitsland hulle met dié land vereenselwig. Dié persentasie geld afsonderlik vir Moslems wat van elders kom én vir dié wat in Duitsland gebore is.

Die vlugtelinge van 2015, meestal taamlik opgeleide mense wat vir die geweld in Sirië gevlug het, is nie by die studie betrek nie.

Verder het 60% van Moslems voltydse werk en 20% deeltyds. Dit wyk nie drasties af van die syfers vir die “autochtone” Duitsers (soos hulle genoem word) nie, ofskoon uiters ortodokse Moslems sukkel om werk te kry.

Daarby gaan 84% van jonger Moslems wat in Duitsland gebore is buite werkure gereeld vriendskaplik met nie-Moslems om. Luidens ander peilings dryf dié groep nes die nie-Moslems in groot getalle van hul geloof af weg.

’n Ander peiling wys die Duitse bevolking is as geheel uiters verdraagsaam.

Dis belangrik, aangesien mense met ’n migrasie-agtergrond (van wie ’n beduidende deel Christelik of niegelowig is) meer word. Slegs 10% van mense ouer as 65 het ’n migrasie-agtergrond; vir dié jonger as 65 is dit al 38%.

Die punt is dat immigrante, veral die tweede en derde geslag, blykbaar Duits word.

’n Ander peiling wys die Duitse bevolking is as geheel uiters verdraagsaam. As hulle gevra word om “ons” van “die ander” te onderskei, blyk dit dat 82% meen mense van ander godsdienste hoort by “ons”, 72% sluit immigrante en 71% sluit vlugtelinge daarby in.

Daarteenoor sluit 75% en 80% van die AfD-ondersteuners dié groepe juis uit.

“Veel inklusiewer kan ’n samelewing skaars wees,” is die gevolgtrekking van die weekblad Die Zeit.

Wat die verkiesing betref, ’n waarskuwing: Met nog byna ’n maand oor voor stemdag, het die helfte van die kiesers nog nie besluit vir wie hulle wil stem nie. Die kans dat hulle vir ekstremiste sal stem, lyk egter klein.

Meer oor:  Angela Merkel  |  Duitsland  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.