Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Het ons regtig nog 'n politieke party nodig?
Gert van der Westhuizen

Het Suid-Afrika regtig nog ’n politieke party nodig?

Dit is ’n vraag op baie Suid-Afrikaners se lippe nadat Herman Ma­shaba, oud-burgemeester van Johannesburg, se Action SA die naweek gestig is.

Daar was immers 48 name op verlede jaar se stembrief, sal die moedeloses en sinici onder ons sug. En wat het dit ons in die sak gebring?

Boonop kan mense met reg voel dat Mashaba se party dalk net die stem teen die ANC sal verdeel.

Aan die ander kant smag baie Suid-Afrikaners na ’n nuwe politieke stem wat hulle in groot getalle kan saamsnoer om ’n beter toekoms vir almal te beding.

Action SA roem hom juis daarop dat hy by die mense van die land gaan hoor het wat hulle pla, wat hulle wil hê en waarom so baie van hulle nie die moeite wil doen om stembus toe te gaan nie.

Action SA roem hom juis daarop dat hy by die mense van die land gaan hoor het wat hulle pla, wat hulle wil hê en waarom so baie van hulle nie die moeite wil doen om stembus toe te gaan nie.

Die kwessies wat Mashaba in sy toespraak aangeroer het, pla baie van die land se mense al baie lank: korrupsie, gebrekkige dienslewering, kaderontplooiing, onwettige immigrasie (met die klem op onwettig), die “sagte” diplomasie teenoor Zimbabwe, misdaad, die swak onderwysstelsel, toenemende rassepolarisasie, die kommerwekkende ekonomiese situasie en werkloosheid.

Dit lyk nie of die bestaande politieke partye veel kan, of wil, doen om dié probleme te probeer oplos nie.

Die ANC, wat terloops ook in die 1950’s by die mense gaan hoor het wat hulle wil hê, het die meeste van dié probleme veroorsaak en lankal van die mense vergeet.

Deesdae stel die ANC, om pres. Cyril Ramaphosa te parafraseer, skynbaar net daarin belang om die mense se geld te steel. Die ANC sal dié probleme in elk geval nie kan oplos as hy deur gereelde binnegevegte verlam word omdat hy onder meer korrupte adders steeds aan sy boesem vertroetel nie.

Die opposisiepartye maak ’n mens al lank nie meer opgewonde nie.

Op die oog af lyk dit of die DA meer as enigiets anders net daarin belangstel om sy verlore regse steun terug te wen.

In dié proses word verdeeldheid dikwels gesaai en dit lyk soms of die DA nie juis weet op watter politieke stoel hy wil sit nie.

Die EFF is eintlik nie veel anders as die ANC se vleuel vir “radikale ekonomiese transformasie” nie.

Die EFF is eintlik nie veel anders as die ANC se vleuel vir “radikale ekonomiese transformasie” nie.

Wat kan Action SA ons dan bied? Dit is uiteraard heeltemal te gou om te opgewonde oor dié party te raak.

Tog was dit Saterdag by die bekendstelling opmerklik hoe mense van verskillende rasse op sosiale media na mekaar uitgereik het en onderneem het om saam aan ’n beter toekoms te werk.

Dit behoort ook in Action SA se guns te tel dat hy nie soos die UDM, Cope en EFF ’n splinterparty is wat deur ontevrede ANC-lede gestig word nie. Mashaba het voorts onderneem dat Action SA nie ’n tuiste sal word vir onvergenoegde ANC-lede wat van dié party se korrupsie-bagasie saamsleep nie.

Wat die verlede betref, erken Mashaba dat die “wrede nalatenskap van apartheid” ongedaan gemaak moet word, maar hy steur hom duidelik nie aan die struggle-etiket wat bepaal dat byvoorbeeld die vakbonde en Zanu-PF se vergrype geduld word nie.

Almal weet dat Mashaba onkonven­sioneel en meer van ’n terloopse as beroepspolitikus is. Maar hy weet ook hoe die ekonomie werk en het sy eie sakeryk sonder die hulp van swart ekonomiese bemagtiging opgebou.

Hy het ook al gewys dat hy bereid is om met ander partye – van die VF Plus tot die EFF – saam te werk.

Mashaba se party verdien daarom ’n kans om homself te bewys. Die land en sy mense kan net daarby baat vind as Action SA óók sy stem laat hoor.

Van der Westhuizen is Netwerk24 se Stemme-redakteur.

Meer oor:  Action Sa  |  Gert Van Der Westhuizen  |  Politieke Party  |  Verkiesing  |  Party  |  Kiesers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.