SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Nóg ’n slegte week vir ANC (en pres. Cyril)
Barnard Beukman

Sedert die ANC se Ace-lys van kandidate – besaai met staatskapers, diewe (minstens een vermeende veedief), meineedplegers en minstens een watersaboteur – uitgereik is, is dit asof die organisasie van balans geruk is en nog nie weer kon herstel nie.

Dit is amper soos die ikoniese toneel in Andrew Lloyd Webber se Phantom of the Opera waar die masker van die hoofkarakter se gesig afgepluk word. Die masker het net die helfte van sy gesig bedek sodat ’n mens altyd net die goeie kant kon sien. Almal het na hul asem gesnak toe die aaklige deel ook onthul word.

Tot voor dit het die veldtog van “stem ANC om Cyril sterk te maak” net begin stoom opbou. Ook sommige Beeld-lesers het die vraag begin vra of dit nie die aangewese ding is om te doen nie.

Maar as daar ooit ’n emmer koue water oor ’n idee gegooi is, is dit juis daaroor.

En tereg. Die storie dat Cyril Ramaphosa ’n sterk uitslag vir die ANC by die stembus kort om te oorleef, raak al hoe onoortuigender. As hulle hom wil uitdaag, gaan hulle dit doen.

Hulle het nie ’n “jy-het-swakker-as-JZ-gevaar” nodig nie.

Skielik het Ramaphosa lomp en ondoeltreffend gelyk toe hy ook opgestel is om in die geweldgeteisterde Alexandra teen Herman Mashaba, plaaslike DA-burgemeester, te gaan uitvaar.

’n 60%-plus-ANC gaan bloot ’n nuwe arrogansie van onaantasbaarheid skep, met die Ace-trawante op die lyste aan die voorpunt. Ook sou Ramaphosa wetenskaplik daarop kon wys dat hy die faktor is wat nog enige stemme ingebring het en juis weens staatskaping nie meer kon kry nie. Nee wat, hoe nader aan so 54% of 55%, hoe beter vir almal. En die doel van so ’n “taktiese stem” heilig net nie meer die middele nie.

Die afgelope week het die amok voortgeduur wat die jong maar swaargewig-joernalis Pieter-Louis Myburgh se Gangster State in die ANC veroorsaak het.

Daar is baklei oor hoe die organisasie moet reageer, of hulle kameraad Magashule se saak namens hom mag stel en of die Vrystaatse ANC-jeugliga opgekoopte eksemplare van die boek mag verbrand (as Myburgh wonder hoekom sy Vrystaatse verkope so gestyg het).  

Skielik het Ramaphosa lomp en ondoeltreffend gelyk toe hy ook opgestel is om in die geweldgeteisterde Alexandra teen Herman Mashaba, plaaslike DA-burgemeester, te gaan uitvaar. Net mooi niemand het daardie deursigtige poging tot militante mobilisering vir politieke gewin gekoop nie. 

Nie eens die inwoners self nie, blyk uit Mail & Guardian se ondersoek ter plaatse onder die subopskrif: “Alex has become the election battleground – and the ANC is losing”. 

Daar is nog ’n klompie weke voor stemdag en die ANC eindig gewoonlik sy verkiesingsveldtogte sterk af. Maar met die interne linker- en regterhande wat teen mekaar baklei, blyk dit nog ’n opdraande stryd vir die organisasie te wees om sy wegblyers van 2016 se munisipale verkiesing by die stembus te kry. 

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Anc  |  Barnard Beukman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.