Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nog nie één in ’n oranje oorpak
Rapule Tabane

Burgerlike organisasies het pres. Cyril Ramaphosa in ’n brief gevra om seker te maak 2020 is die jaar van die oranje oorpak vir diegene wat by staatskaping betrek word. Dit sluit aan by die beroep wat al lank op die regering gedoen word om strenger teen korrupsie op te tree en ’n afskrik-boodskap oor te dra aan enigeen wat dit oorweeg om die staatskas te beroof.

In ’n normaal funksionerende demokrasie behoort dit nie nodig te wees om bykomende druk op die president en die staatstrukture uit te oefen om net hul werk te doen nie. Maar die organisasies wys tereg daarop dat nie ’n enkele individu wat by staatskaping betrek is, al tronkstraf uitdien vir misdade wat teen die land gepleeg is nie.

“Die protagoniste van staatskaping loop nog skaamteloos rond. Van hulle is gewoonte-ontwykers van hofverskynings of van die kommissie van ondersoek na staatskaping. Ander hou hulle besig met politiekery in organisasies om alliansies te probeer vestig om die mag te behou en uit die tronk te bly.

“Sommige wat kniediep in bewerings van korrupsie is, bult hul politieke spiere genadeloos en steek ’n stok in die wiel waar mense hul allerbes doen om die staat te hervorm. Sommige sit in die parlement – hul blote teenwoordigheid maak ’n bespotting van dié instelling, sy prosesse en sy eer,” skryf die organisasies in hul brief.

Maar hulle besef ook dit was twee jaar van welwillendheid, mooi woorde en groot beloftes, maar geen ware optrede nie.

Hulle sluit in die SAKP, die raad vir die bevordering van die Grondwet (Casac), die Ahmed Kathrada-stigting en talle ander wat gefrustreerd is omdat die wiel van die gereg so stadig draai.

Dit is almal organisasies wat hulle agter die president geskaar het. Maar hulle besef ook dit was twee jaar van welwillendheid, mooi woorde en groot beloftes, maar geen ware optrede nie.

Dit is te verstane dat sulke organisasies wat die politiek en die regering versigtig monitor, op dié kwessies sou fokus.

Myns insiens skiet die regstelsel, wat die polisie, die Valke, korrektiewe dienste en die vervolgingsowerhede insluit, oor die algemeen tekort. Die gemeenskap bid dat verkragters, moordenaars, diewe en dies meer agter tralies sal beland, maar die hartseer werklikheid is dat te veel van dié verfoeilike karakters nog die strate saam met ons bewandel.

Amptenare het nie die nodige wil om op te tree nie en kyk weens die gepaardgaande korrupsiekultuur anderpad wanneer misdaad gepleeg word.

In die aanloop tot gister se staatsrede het ek gewonder of ons enigsins nog ’n staatsrede met nuwe beloftes aan die publiek moet hê. Moes dit nie eerder ’n sessie wees om na te dink oor wat die afgelope twee jaar bereik is en wat nog gedoen moet word nie? Die ekonomiese prentjie is neerdrukkend en lyk al hoe erger, ondanks die hoop wat aan die einde van die Zuma-era opgevlam het.

Om na die brief aan Ramaphosa terug te keer: Die waarheid is dat die onus op adv. Shamila Batohi rus om haar kaarte te wys. Sy is van die Internasionale Strafhof hierheen gebring en word hoog geag, maar het baie stadig beweeg. Sy het al baie gepraat oor wat behoort te gebeur, maar min oor werklike optrede.

Ja, die nasionale vervolgingsgesag was lank wanfunksioneel en moet poste vul, maar openbaar ’n onverstaanbare gebrek aan entoesiasme en ’n voete gesleep met die groot sake. As sy nie nou optree nie, sal dit net moeiliker raak soos wat Ramaphosa se opponente momentum kry – soos wat hulle het nadat ’n lasbrief vir Jacob Zuma se inhegtenisneming uitgereik is.

Daar kort behoorlike regeringsoptrede oor sleutelkwessies wat ons gemeenskap kelder. So nie, sal die welwillendheid, belofte en optimisme van die nuwe daeraad in ons gesig ontplof soos wat talentvolle mense emigreer en die oorblywendes oor die krummels baklei

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.