Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nog nie tyd vir ‘Jerusalema’ nie

In ’n week wat begin het met ’n voorspelling uit die buiteland dat Suid-Afrika die gevaar loop om binne ’n dekade ’n mislukte staat te wees, behoort pres. Cyril Ramaphosa se “Covid-19-staatsrede” eergisteraand ’n mate van gemoedsrus te bied.

Heindrich Wyngaard

Maar dit het geen verskil gemaak aan die misbruik van mag van ’n ANC-feitesending wat verlede week met lugmagvervoer na Zimbabwe gereis het nie.

Selfs die aanbod om die koste daarvan aan die staat terug te betaal verander nie die indruk dat Ramaphosa se veldtog teen korrupsie in eie geledere ’n opdraande stryd sal bly nie.

Ook help sy toespraak nie veel om die skokkende staatskapingsgetuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek meer verteerbaar te maak nie.

Juis in hierdie konteks dan was die president se toespraak ’n ligpunt. Beskou vanuit ’n linguistiese oogpunt, indien niks anders nie, was dit ’n toespraak wat allereers vertroue wou inboesem.

Landsburgers moes hoor Suid-Afrika is goed in beheer van die hantering van ’n ongekende situasie wat ons ses maande gelede getref het: “Ons het ’n verskriklike en destruktiewe storm deurstaan,” het die president gesê.

Wat veral die oor en die oog met die regstreekse lewering van sy toespraak getref het, was die deurentydse gebruik van “ons”. Nie “die regering” of “ek” nie, maar “ons” – wat dit duidelik gemaak het die oorhoofse bedoeling van die toespraak is om eenheid en nasietrots te bevorder. Die woorde “we” en “us” kom sowat 100 keer in die toespraak voor.

Niemand moet egter onder die wanindruk verkeer dat ’n afskaling na vlak 1 van inperking ons vrye teuels gee om onverantwoordelik op te tree nie.

Slegs twee keer in die toespraak is daar na die “kabinet” verwys – en nie op ’n selfverheerlikende wyse nie, maar bloot as ’n feitestelling: Die kabinet het besluit dat die land na vlak 1 moet beweeg; die kabinet sal die land se ekonomiese rekonstruksie-en-herstelplan in die komende weke saam met ander rolspelers finaliseer.

Ook die persoonlike voornaamwoord “ek” is spaarsamig gebruik, en waar dit wel gebruik is, was dit om die lof van ander eerder as die eie ek te besing en ’n persoonlike beroep vir samewerking te doen: “Ek wil die mense van Suid-Afrika lof toeswaai vir die prestasie met die hantering van die pandemie”; “Ek doen ’n beroep op almal met ’n slimfoon om die Covid Alert South Africa-selfoonapp af te laai”; “Ek wil die land se frontlinie-werkers bedank”.

Niemand moet egter onder die wanindruk verkeer dat ’n afskaling na vlak 1 van inperking ons vrye teuels gee om onverantwoordelik op te tree nie. Hieroor was Ramaphosa eweneens onomwonde. “Ons bevind ons steeds midde-in ’n dodelike epidemie,” het hy gemaan.

Die land se openbare gesondheidsorg-reaksie is daarom steeds daarop gefokus om die verspreiding van die virus te beperk, toetsing te verhoog, en te help met die ontwikkeling van ’n entstof.

Dit het wel van die land en sy mense geverg om “twyfel en sinisme” te oorkom om “die ergste openbare gesondheidsbedreiging in menseheugenis” met mening te pak, het hy verder gesê.

Die ekonomie én die samelewing het ’n duur prys hiervoor betaal (minstens 15 000 lewens is verloor) en daarom moet daar nou saamgespan word om die ekonomie te herstel, maar veral ook om ’n tweede piek in infeksies te voorkom. “Dit vereis ’n gesamentlike poging deur elke Suid-Afrikaner om ons nasie tot voorspoed en ontwikkeling te herstel,” het Ramaphosa gesê.

Terwyl die moontlikheid van ’n mislukte staat seker altyd met ons sal wees, het ons minstens tans nog ’n leier wat die enorme ná-Covid-19-taak op hande goed kan artikuleer en leiding daarmee gee. Miskien moes hy net eers teruggehou het met sy uitdaging dat ons hierdie jaar Erfenisdag op die maat van die danstreffer “Jerusalema” vier.

  • Wyngaard bied Sondae om 20:00 die aktualiteitsprogram Kommentaar op RSG aan.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.