Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nog steeds verlief op André Letoit
erla-mari diedericks
Erla-Mari Diedericks

Toe sy hom die eerste keer sien, val daar nêrens ’n engel dood, lui die kerkklokke en skryf hy vir die res van sy lewe songs oor haar nie. Maar Koos Kombuis het Erla-Mari Diedericks in die jaar van die pestilensie laat besef sy is steeds ’n rebel.

Dit is Saterdagmiddag vyfuur toe ek onthou dat ek rasend verlief was op André Letoit.

Dit is nie verbasend nie. Ek sit juis met my glas wyn voor die kaggelvuur en wag vir Koos Kombuis se aanlyn optrede op my rekenaarskerm.

Hiraeth: Die Walliese woord vir verlange na ’n vervloë tyd; selfs ’n gevoel van spyt.

Dalk moes ek André daardie tyd van my obsessie oor hom vertel het. Dalk nie.

In die jare 80 bestaan Koos Kombuis nog nie. Daar is nog nie Huisgenoot-optredes en geld wat instroom nie. My ma dink nog nie Koos Kombuis is ’n sanger wat mooi Afrikaanse liedjies sing nie.

My ma haat die musiek. Wie vloek dan nou in songs?

Een Desembervakansie in die 80’s daag ek by ons huis in Port Elizabeth op met afgeskeerde, spierwit gekleurde hare, ’n Kovsies-graad en ’n tape van André Letoit. Op pad na Jeffreysbaai speel ek sy musiek oor en oor op my Walkman. Daar is nog nie CD’s nie. Daar is nog nie ’n ANC-regering nie. Daar is nog nie ’n mall in Jbay nie.

My ma haat die musiek. Wie vloek dan nou in songs? Sy dink sy musiek is ’n slegte invloed. Sy dink ek is ’n slegte invloed op myself.

Ek voel soos ’n vryheidsvegter

Ek kondig aan ek wil Stellenbosch toe om verder te swot. Maar heimlik weet ek waarom ek soontoe wil gaan. HY is daar. Die enigmatiese sanger wat vloek soos die duiwel, maar dig soos ’n engel. Sing hy dan nie hoe hy in Bakoven op Stellenbosch sit en skryf nie? Vir my is dit ’n teken. Hy wil hê ek moet hom vind.

André Letoit soos hy destyds gelyk het toe hy nog in Bakoven op Stellenbosch uitgehang het; die enigmatiese sanger wat vloek soos die duiwel en sing soos ’n engel. Foto: Verskaf

Ek het ’n plan. Dis vaag, maar dis ’n plan.

Sy adres is op die tape. Ek skryf vir hom. Dan pos ek die brief in ’n groot rooi posbus. Hy skryf terug. My ma vind die brief. Alle hel bars los. Sy besluit daar is net een uitweg. Ek moet verder swot en hopelik sal ek dan ’n man vang en grootword. Sy weet nie André Letoit is in Stellenbosch nie. . .

In die 80’s het Stellenbosch nog nie vandag se issues nie, maar daar is ander issues: Apartheid moet val. Daar is altyd iets wat moet val. Ons beplan die val van die ou bles ministers en die bevryding van ons broers en susters in verdrukking. Ek woon elke Nusas-vergadering by en word deur die veiligheidspolisie voorgekeer. Ek voel soos ’n vryheidsvegter.

Nêrens val ’n engel dood nie

Dit is ’n week voordat ek André sien. Hy sit in die hoek van ’n besige restaurant. Bakoven? Dalk.

Maar anders as in my drome ontmoet ons oë nooit nie. Hy erken my nie as sy sielsgenoot nie. Nêrens val ’n engel dood, lui die kerkklokke en skryf hy vir die res van sy lewe songs oor my nie.

Nee, dit gebeur nie, want hy is daardie tyd sexy en smeulend en omring deur al wat jong vrouestudent is.

Ek stap uit Bakoven en kyk nie weer om nie. Ek het nog nie geleer dat dinge nie gebeur soos in storieboeke nie. Ek weet nog nie dat ’n mens soms self die noodlot in jou hande moet neem nie.

Hy sien my. Hy soek blyplek. Maar ek sien die verbrokkeling van ’n droom en stap weg.

Dit is eers jare later dat ek hom weer sien. Dit is Yeoville. Dit is die 90’s. Ek is ’n joernalis by Beeld, sigaret in die hand en ek dra Dr. Martens met baie attitude.

Ek loop hom raak in Rockey Straat. Hy is hoog op iets. Drank? Dagga? In daardie straat kan ’n mens enigiets in die hande kry. Sy tande is geel. Dalk gebreek? Ek onthou so iets. Hy kyk my reguit in die oë. Hy sien my. Hy soek blyplek. Maar ek sien die verbrokkeling van ’n droom en stap weg.

’n Hoer in Beton

Dit is 1994. Johannes Kerkorrel leef nog. Apartheid is verby. Ons is die reënboognasie.

Dit was toe. Nou is dit Saterdagmiddag, 2020, die jaar van die pestilensie toe alles uitmekaargedonner het. Ek is 53 jaar oud.

Koos Kombuis soos wat hy deesdae lyk. Foto: Foto24

Koos Kombuis verskyn op my skerm. Dit is die eerste keer dat ek hom sien optree sedert die Voëlvry-dae. Sy tande is perfek. Valstande? Inplantings?

Sy glas wyn is nie meer in ’n Styrofoam-koppie nie. Myne ook nie.

Hy is ouer. Kla oor sy knie. Trek weg met van sy ouer liedjies, praat van die artritis in sy vingers. Ek vryf my eie pyn-deurtrekte vingers in simpatie. Ek ook, Koos, ek ook.

Want hy was uitgebrand. Ontnugter. ’n Hoer in Beton, ’n ou man met ’n bleskop en ’n kopdoek (sy eie woorde).

Ek sit en wonder of hy weet hy is ’n sell-out. Of hy besef hy het alles geword waarteen hy baklei het. Sy grootste krag was nog altyd sy ironie, die sweep van selfspot waarmee hy homself gekasty het.

Dan vertel hy hoe die lockdown eintlik betyds gebeur het. Want hy was uitgebrand. Ontnugter. ’n Hoer in Beton, ’n ou man met ’n bleskop en ’n kopdoek (sy eie woorde).

En ek besef: Hy het nog nie opgegee nie. Hy onthou wel wie hy was. Maar onthou ek nog?

Ná die show speel ek sy liedjies in die kombuis terwyl ek hardop saamsing, ’n glas wyn in die hand, ’n pot risotto op die stoof. Ek dans. Ek gil die woorde uit. My 18-jarige seun staan in die kombuisdeur en kyk my glimlaggend aan.

Sy dolkop ma.

Nog steeds ’n rebel ná al die jare. Nog steeds verlief op André Letoit.

*Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings in hierdie rubriek is haar eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  André Letoit  |  Koos Kombuis  |  Voëlvry  |  Nusas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.