Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nog talle brandende vrae

Dalk is die tyd nou ryp om ’n indaba te hou waaraan almal kan deelneem om praktiese planne te formuleer oor doeltreffende brandbestryding en -voorkoming in veral die Wes-Kaap, skryf Braam Hanekom. Dit kan nie net in die owerhede se hande gelaat word nie.

’n Brandslaner stoei eergister met vlamme in die Botrivier- en Houwhoekpasgebied.Foto: jaco marais

Terwyl ek verlede naweek deur Bettysbaai se verskroeide aarde ry, hoor ek skielik ’n bobbejaan uit die swartverbrande berg kerm. Eers dog ek ek verbeel my, maar dit was aanhoudend. Bobbe­jane is vir baie ’n pes, maar toe wou ek saam huil. Ek het gewonder waar die ander diere van die Kogelberg is. Oor die plante hoef ons nie te wonder nie . . .

Mag ek dit eers duidelik stel: Wat ek hier skryf, is nie gemik op die brandbestryders wat hul lewe in gevaar gestel het om brande in bedwang te bring nie.

Groot opofferings is gemaak en dit word waardeer. Dit is ook nie ’n poging om mense verdag te maak nie. Dit is eerder ’n pleidooi om saam te dink oor die pad vorentoe.

My hart gaan uit na almal wat die afgelope tyd, soos in die geval van Wuppertal, die Overstrand-gebied en Knysna, intens deur brande geraak is.

Dieselfde geld diegene in townships wat so dikwels uit­gelewer is aan vernietigende brande.

Tog, wanneer ons fyn na Kogelberg en ander bewaringsgebiede kyk, ontstaan groter vrae.

Die skade wat aan die flora en fauna in die Kogelberg-bewaringsgebied aangerig is, is moeilik om te bereken. Luidens berigte is nagenoeg 12 800 ha se fynbos vernietig.

Fynbos móét brand, maar beslis nie so dikwels soos die afgelope tyd in die Kogelberg nie. Volgens data hieroor wil dit voorkom of die brande daar die afgelope dekade kommerwekkend toegeneem het.

Soms voel dit regtig of die Wes-Kaap in iemand se visier is, maar die provinsie is beslis nie die uitsondering nie.

Ons moet onsself voortdurend daaraan herinner dat Kogelberg nie sommer enige gebied is nie – dit is in 1998 deur die Verenigde Nasies as ’n Unesco-biosfeerreservaat van wêreldbelang erken.

En met goeie rede. Die gebied bevat meer as 1 600 plantspesies, een van die planeet se episentrums van biologiese verskeidenheid. Dit oortref glo selfs die reënwoude van Suid-Amerika in biodiversiteit.

CapeNature doen voortreflike bewaringswerk daar onder leiding van mense soos Mark Johns, maar dit lyk of die uitdagings van buite tans groter is as wat hulle kan hanteer. Selfs die ongeoefende oog kan sien dat die gebied die afgelope jare op veral sommige plekke te veel gebrand het.

Groot kans op meer brande

Maar terug na die brande in die groter Overstrand-gebied.

Die eerste brand het reeds rondom Kersdag by Karwyderskraal buite Hermanus ontstaan. Op Oujaarsnag het dit bo Mooiuitsig by Bettysbaai begin brand. En einde verlede week het dieselfde by Masakhane buite Gansbaai gebeur.

Soms voel dit regtig of die Wes-Kaap in iemand se visier is, maar die provinsie is beslis nie die uitsondering nie.

Daar is ’n rede hoekom Working on Fire (WoF), ’n werkskeppingsprogram met meer as 5 000 mense landwyd in diens, 200 basisse regoor Suid-Afrika het. In sommige bosbougebiede in die noorde was daar die afgelope jare ook veel meer brande as in vorige jare.

Terwyl gerugte oor nalatigheid en brandstigting tans die ronde doen, gaan al hoe meer stemme internasionaal op wat waarsku dat klimaatsverandering, tesame met ’n vinnige bevolkingsgroei, die risiko vir brande verhoog in enige streek met ruie plantegroei.

Om brande van dié omvang te bestry is egter soos ’n militêre operasie waar bronne keer op keer strategies herontplooi moet word.

Voeg daarby politieke onstabiliteit en mense wat deur vuur protes aanteken en jy het moeilikheid.

Daar sal altyd iemand wees wat onnadenkend met ’n oop vuur handel, of soos in die geval van Bettysbaai, onnadenkend ’n fakkel die lug in skiet.

Brande gaan dus al hoe meer voorkom en dit help nie ons kla maar net daaroor of pak ál die skuld op die ou wat die fakkel afgeskiet het nie. Hy moet sy straf kry en die strawwe vir brandstigting moet verhoog word.

Maar daar is groter vrae: Hoe moet ons reageer op brande soos dié? Wat is die teenvoeter?

Kon die brande by Karwyderskraal en Bettysbaai vroeër met groter lugsteun geblus gewees het?

Toegegee, een van die helikopters het klaarblyklik op 1 Januarie meganiese probleme ondervind, en die wind het ook later sterk suidoos gedraai. Die res is geskiedenis.

Dit is maklik om terugskouend jouself slim te hou, maar sou ons, as ons geweet het wat die uiteinde sou wees, dalk ander besluite op 1 Januarie geneem het?

Kon ons die weervoorspellings fyner gemonitor het? Moes ons ná die tyd die “gebluste” brand langer dopgehou het, wetend dat dit nog dae lank ondergronds kan smeul?

Dieselfde geld Karwyderskraal, waar dit al sedert Kersfees gebrand het. Op 12 Januarie – twee weke later en ná reuse-skade – was daar meer brandweerwaens, brandspanne en ander nooddienste op Bettysbaai as tevore. Helaas te laat.

Voeg daarby politieke onstabiliteit en mense wat deur vuur protes aanteken en jy het moeilikheid.

Soos ’n militêre operasie

Verskeie departemente en organisasies werk saam om brande in toom te hou. Dit sluit in plaaslike owerhede se nooddienste, CapeNature en die mense van WoF.

Om brande van dié omvang te bestry is egter soos ’n militêre operasie waar bronne keer op keer strategies herontplooi moet word. Mense se lewens is op die spel.

Dit verg duidelike bevelstrukture en seepgladde samewerking tussen die verskillende brandbestrydingseenhede. Burokratiese besluit­nemingsprosesse kan só ’n operasie verlam. Ál die eenhede moet byvoorbeeld dieselfde radiostelsels op ooreengekome golflengtes gebruik en die oefening moet vanuit ’n sentrale bevelsentrum gelei word.

Dit blyk ook dat die aanwending van helikopters een van die doeltreffendste maniere is om brande op veral ontoeganklike plekke te bestry. Maar dit is duur en private kontrakteurs se dienste moet ingekoop word.

Wie besluit om ’n helikopter in te roep? En wanneer? En hoe lank? En wie betaal uiteindelik die rekening? Hoe gemaak as ’n brand op ’n private eienaar se grond uitbreek – iemand wat nie ’n helikopter kan bekostig nie – en langsaan is ’n natuurskat wat in vlamme kan opgaan?

Maar kom ons gee die brand­bestrydingsorganisasies die voordeel van die twyfel. Hulle doen moeilike en lewensgevaarlike werk.

Die arbeid ís beskikbaar deur WoF, maar oënskynlik bestaan die beleidsraamwerk nie om dit voorkomend in te span nie.

Eenvoudig te veel op die spel

Een laaste kwessie: “Wat het geword van proaktiewe brandbestryding?” vra prof. Ben du Toit van die departement bos- en houtkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

Hy noem voorsorgmaatreëls soos om brandbare materiaal te verminder en buffersones te skep waar wegholbrande gestuit kan word. Die brandstoflading moet dus op stra­tegiese plekke verminder word.

“Hierdie beleid word al dekades lank suksesvol toegepas in verskeie lande en voorheen ook in Suid-Afrika onder die destydse departement van bosbou,” sê Du Toit. “Tans word dit duidelik nie meer doeltreffend bedryf nie.”

Skoongemaakte “brandpaaie” rondom townships en ander kwesbare gebiede wat ons weet om verskeie redes vatbaar is vir brande, behoort dus deel van die strategie te wees. Dit sluit ook woongebiede soos Bettysbaai en ander sensitiewe bewaringsgebiede in.

Die arbeid ís beskikbaar deur WoF, maar oënskynlik bestaan die beleidsraamwerk nie om dit voorkomend in te span nie.

Daar is egter ook ruimte vir die publiek om mee te doen. Suid-Afrika het progressiewe wetgewing wat voorsiening maak vir die bestaan van “Regional Fire Protection Associations” (FPA’s), wat dit vir private grondeienaars moontlik maak om saam met instansies soos plaaslike owerhede en CapeNature verantwoordelikheid vir brandbestryding te aanvaar.

Dalk is die tyd nou ryp om ’n indaba te hou waaraan almal kan deelneem om praktiese planne te formuleer. Dit behoort die ower­hede, bewaringsinstansies, akademici en gewone natuurliefhebbers (die gewone publiek) in te sluit.

Soos met soveel ander kwessies in Suid-Afrika kan die toekoms nie net in die staat se hande gelaat word nie. Daar is eenvoudig te veel op die spel.

  • Groot dank aan Bun Booyens, Tony Weaver en prof. Ben du Toit vir hul waardevolle insette. Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Meer oor:  Wes-Kaap  |  Brandbestryding  |  Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.