Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Noord-Korea: Dít laat ’n mens sidder

Dalk die mees onheilspellende reaksie uit Amerika op die jongste Noord-Koreaanse missieltoets was van die invloedryke Republikeinse senator Lindsay Graham afkomstig.

Hy het in ’n onderhoud op CNN gesê: “As ’n oorlog met Noord-Korea uitbreek, sal dit Noord-Korea se eie skuld wees, en ons is op pad na ’n oorlog as dinge nie verander nie.”

Hy is dalk reg. Op grond van die missiel se baan en foto’s wat Noord-Korea uitgereik het, meen militêre kenners dat die hele VSA (en Europa) nou binne trefafstand is.

Al wat nog onseker is, is of dié land kernkoppe kon ontwikkel wat klein genoeg is om op die missiele te pas, en of dit die hoë temperature kan weerstaan wat ontstaan wanneer dit weer die atmosfeer vanuit die ruimte binnedring. Maar, word gesê, ook dít sal binne afsienbare tyd moontlik wees, want die Noord-Koreaanse tegnologie vorder rasendsnel.

Die vraag is: Kan énige Amerikaanse president saamleef met die wete dat ’n onstabiele diktator in Pjongjang ’n swaard bo sy kop hou? Dat ’n halfmal vent in staat is om enige Amerikaanse stad te verwoes?

Die harde werklikheid is dat daar eenvoudig géén goeie opsie is nie.

Die tweede (ewe belangrike) vraag is: Wat dóén jy daaraan? Diplomatieke en ekonomiese druk is reeds sedert die 1990’s toegepas en het nie gewerk nie. Inteendeel. Die opsie van oorlog kan op papier beter klink, maar is só vol slaggate dat g’n mens by sy volle verstand doelbewus daarop kan afstuur nie.

Ten eerste, so reken die Pentagon, kan ’n oorlog binne ’n dag of tien honderdduisende lewens eis, van wie die meeste burgerlikes. Dit kan albei Koreaanse state in smeulende puinhope omskep – en dis nog vóór enige kernwapen ingespan is.

Maar dit kan ook die internasionale politiek laat ontplof. Wat gaan China maak as sy Noord-Koreaanse bondgenoot se voortbestaan bedreig word? Militêr ingryp, soos hy in 1950 gemaak het?

As China en Amerika aanmekaarspring, word ’n gevaarlike nuwe dinamiek geskep wat niemand in Washington, Beijing, Seoel of Pjongjang kan beheer nie.

Die harde werklikheid is dat daar eenvoudig géén goeie opsie is nie.

Die sleutel vir vrede word in Beijing bewaar. Deur sy ekonomiese bande met Pjongjang hou China inderwaarheid die Noord-Koreaanse diktatuur aan die gang, selfs al is pres. Xi Jinping hoogs geïrriteerd met Kim Jong-oen se middelvinger aan die wêreld.

Kenners meen Kim se strategiese doel is die hereniging van die Koreaanse skiereiland.

En, soos die Noord-Viëtnamese kommuniste in die 1960’s en 1970’s bereid was tot ’n kragsinspanning teen die magtige VSA om dit te bereik, só sal die Noord-Koreane ook voortgaan om hulle en die wêreld uit te daag.

Dit laat ’n mens sidder.

Meer oor:  Amerika  |  Noord-Korea  |  Oorlogvoering  |  Oorlog  |  Kernoorlog  |  Kernwapens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.