Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
NOP kort vars en nuwe denke

Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) is nog nie dood nie, maar blyk in ’n soort politieke noodeenheid te wees. Drastiese aksie is nodig om die plan te red voordat dit in die vergetelheid wegsink.

Die vraag is wat kan gedoen word om die NOP te red. Daar is net meer as ’n dekade oor vir die plan se keerdatum – 2030 – om sy doelwitte te lewer.

Ongelukkig het te veel jare verlore gegaan weens ’n gesloer om die plan deur die ANC aanvaar te kry. Dit kan grotendeels voor die deur van oudpres. Jacob Zuma gelê word, wat die toepassing van die plan skoorvoetend benader het.

Die NOP is in 2011 gepubliseer, maar eers in 2017 deur die parlement aanvaar, en in dieselfde jaar deur die ANC se verkiesingskonferensie in Mangaung. Trevor Manuel, destydse minister van finansies belas met onder meer die NOP, was as ’t ware op sy knieë om Zuma en die ANC te kry om die plan amptelik te aanvaar.

Ramaphosa moet ’n stelsel in plek kry om sy ministers se prestasie al dan nie aan die doelwitte van die NOP te koppel en dit te meet.

Pres. Cyril Ramaphosa het twee weke gelede in sy staatsrede vlugtig na die NOP verwys en gesê die land moet die doelwitte daarvan omarm en nastreef.

Dit is nie genoeg en ook nie sterk genoeg gestel nie. Baie meer is nodig van Ramaphosa. Hy was per slot van rekening saam met Manuel en hul kollegas in die nasionale beplanningskommissie die mede-argitekte van die NOP.

Ramaphosa moet ’n stelsel in plek kry om sy ministers se prestasie al dan nie aan die doelwitte van die NOP te koppel en dit te meet.

’n Mens kry die indruk dat ministers en senior regeringsamptenare net na die NOP in toesprake verwys om dienstige punte by die president aan te teken. Dit moet verander.

Die oorblywende Zuma-meelopers in die ANC en die regering sal struikelblokke wees.

Die tyd wat dit sal neem om hulle aan boord te kry, sal nog meer tyd van die 2030-teiken steel. Hoe meer tyd daar verloor word met die toepassing van die NOP, hoe skraler is die kans om die teikendatum te haal.

Die doelwitte van die NOP is duidelik, maar in die heersende omstandighede geensins maklik nie. Byna ’n dekade van Zuma het die uitdagings vergroot en baie meer kompleks gemaak. Daar is egter geen ander keuse as om dit tromp-op te pak nie.

Hoe nader ons aan 2030 kom, hoe meer onhaalbaar lyk die doelwitte en die tydraamwerk wat destyds hoopvol gestel is.

Dit opper die vraag of dit nie dalk tyd is om opnuut te dink oor die NOP nie. Dalk was ons té ambisieus met die opstel van die oorspronklike plan, en veral die teikendatum.

Die Afrika-Unie het ook ’n soortgelyke plan vir die ontwikkeling van die vasteland. Dit is bekend as Agenda 63, wat beteken die teikendatum is 2063. Dit is ’n baie meer realistiese teikendatum as dié van die NOP.

Een van die doelwitte van die NOP is om armoede en ongelykheid uit te wis. Dit is ’n massiewe doelwit en ’n mens moet wonder oor wat die outeurs gerook het toe hulle dit in 2011 neergepen het. ’n Herbedink van die NOP is nie so vergesog as wat dit klink nie. Dit kan ’n baie meer realistiese produk met meer haalbare tydraamwerke lewer.

Politici hou daarvan om die vrugte van hul arbeid te proe terwyl hulle nog aktief is. Soos dinge nou lyk, sal Rama­phosa nie daar wees in 2030 nie.

In die geval van die Afrika-Unie sal die meeste van die huidige leiers al lank vergete wees teen 2063. Dis nou indien daar intussen nie nog ’n Robert Mugabe of Omar al Basjir toegelaat word om op die toneel kom nie.

Hoe ook al, die toekoms van die NOP lyk baie onseker. Die plan kort ’n stewige, ondersteunende inspuiting van energie en dalk selfs ’n totale heroorweging met die oog op vars, nuwe denke.

Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Cyril Ramaphosa  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.