Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nostalgie en politiek
Objekte wat herinner aan herstellende nostalgie – waar onthou veilig en onskuldig is, en die verlede geromantiseer word as ’n tyd sonder trauma, verdriet en verlies. Foto: ISTOCK

Solank Suid-Afrikaners ontevrede is met die hede, sal hulle teruggryp na die verlede, skryf Jo-Ansie van Wyk.

Onthou jy nog die 1980’s – ’n dekade van onskuld? Op ’n onlangse internasionale konferensie oor geheue, melancholie en nostalgie het prof. Niklas Salmose van die Linnaeus-Universiteit in Swede, dié dekade uitgesonder. Polities is dit gekenmerk deur die einde van die Koue Oorlog en die verbrokkeling van die Sowjetunie, om ’n nuwe internasionale orde en zeitgeist in te lui.

In die afwesigheid van sosiale media was mense toe grootliks afhanklik van konvensionele mediabronne soos koerante, televisie en radio.

Hoekom hunker mense terug na daardie jare?

Hoekom hunker mense terug na daardie jare? Salmose reken dis ’n meganisme om die ontnugtering met die hede te hanteer – ’n soeke na ’n retrotopie pleks van ’n utopie. Die melancholie en nostalgie oor dié tyd is onskuldig en daar bestaan geen skuldgevoelens oor die verlede nie.

In dele van die ou Oos-Duitsland, manifesteer dit as Ostalgie – ’n hunkering na die Oos-Duitse staat, sy kultuur en lewenswyse. In Warschau in Pole manifesteer dit as blokalgia, ’n verwysing na die stad se woonstelblokke en die lewenswyse van inwoners tydens die kommunistiese era.

Suid-Afrikaners staan nie buite hierdie verskynsel nie. In die referaat wat ek by die konferensie aangebied het, het ek gefokus op politieke nostalgie en geheueverlies in Suid-Afrika, die politieke manipulasie van die verlede en die gevolge daarvan.

Amnestie/amnesie

Die Griekse herkoms van die woord amnesie (geheueverlies) verklaar dit as vergeetagtigheid en geheueverlies. Politici en sosiale entrepreneurs, na wie die akademikus Maria Todorova as “agente van nostalgie” verwys, span dikwels geheueverlies vir politieke gewin in. Die verlede word doelbewus vergeet, uitgevee of in ’n ander lig aangebied.

’n Voorbeeld van politieke geheueverlies in Suid-Afrika was die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK). Dit is daarom ironies dat amnesie en amnestie dieselfde herkoms het.

Die WVK was ’n voorbeeld van staatsamnesie, waar persone in ruil vir ’n blootlegging van gebeure amnestie kon kry. Amnestie was dus geïnstitusionaliseerde amnesie, waar die verlede selektief onthou en/of vergeet is.

Die Franse filosoof Paul Ricoeur het na amnestie as ’n geheimsinnige pakt verwys, ingevolge waarvan staatsgeïnduseerde geheueverlies en amnestie gesamentlik daartoe bydra dat die verlede doelbewus en gerieflik vergeet word.

Dis ’n gerieflike en verleidelike politieke instrument. ’n Meer onlangse voorbeeld daarvan was pres. Cyril Ramaphosa se toespraak verlede jaar op Versoeningsdag (16 Desember). Ramaphosa het staatsgeïnduseerde geheueverlies behendig omskep in staatsgeïnduseerde onthou/heugenis deur Suid-Afrikaners te herinner aan die politieke vergrype van die verlede.

Elders in die land is die gebeure van 16 Desember 1838 – die Slag van Bloedrivier – herdenk, terwyl ander Suid-Afrikaners die stigting van Umkhonto we Sizwe (MK) op 16 Desember 1961 herdenk het.

Verdeling, in plaas van versoening, het die president oor die politieke doellyn gedra, te midde van onrustigheid in sy eie party.

Verlede geprivatiseer

Staatsgeïnduseerde geheueverlies manifesteer in die keuse van vakansiedae, die verwydering en/of oprigting van monumente, die verbieding van die ou vlag, naamsveranderings en in veranderings van skoolleerplanne.

Die sogenaamde vrygeborenes is van die eerste en vernaamste slagoffers hiervan. Luister gerus na die gesprekke van skoolkinders: Vir hulle was 1994 Suid-Afrika se jaar nul en die bevrydingstryd was glorieryk.

Die gevolge hiervan is kognitiewe dissonansie, want die leerplan verskil van gesprekke rondom die pappot en die braaivleisvuur.

Vrygeborenes besef dat die bevrydingstryd en die huidige Suid-Afrika verskil. Julius Malema en sy meelopers besef die politieke waarde van hierdie kognitiewe dissonansie en vervang hierdie staatsgeïnduseerde geheueverlies met ’n gemeenskapsgedrewe heugenis of onthou. Die EFF skep vernuftig ’n tipe nostalgiese tuisnywerheid waar die “ware” en dus ’n geïdealiseerde verlede en sy beloftes gekommunikeer word.

In kontras daarmee sing sommige Afrikaners ’n getoonsette weergawe van Bloedrivier se gelofte en liedjies soos “De la Rey”. Ander Afrikaners wend hulself tot ’n tipe selfopgelegde geheueverlies, selfsensuur en onttrekking waartydens die verlede intiem in die privaatheid van wonings vergeet of onthou word. Die verlede word hier geprivatiseer omdat die verlede waarna die openbare domein verwys (of verswyg) anders is.

’n Ander voorbeeld van ontwerpte geheueverlies is die gebrek aan ’n gesprek rondom die gebeure in die ANC se opleidingskampe. Slegs enkele publikasies verwys na menseregteskendings en diegene wat daaroor navraag doen word gerieflik uitgeworpenes.

Laat ons dit nou maar erken: Die ANC het meesterlik ’n kontra-narratief en ’n mite van die bevrydingstryd en sy soms bloedige verlede as slegs heroïes en glorieryk geskep. Kortom, ’n nostalgiese en geïdealiseerde blik op die verlede.

Verlede verromantiseer

Laurika Rauch vang die kern van nostalgie vas in haar gelyknamige liedjie wanneer sy sing: “My held was Elvis, my Elvis / My “Heartbreak Hotel”/ Toe jy nog vir my met / ’n Tiekie kon bel . . .”

Nostalgie se afkoms is van die Griekse woorde nostos (’n tuiskoms, huiswaarts) en algia (tuiste).

Koshuiskinders het ’n Engelse woord hiervoor: homesick. Ouma en oupa het gewoon heimwee gehad.

Politieke verlange na ’n orde wat was, kom aan albei kante van die Suid-Afrikaanse politieke spektrum voor. Benewens die ANC se bevrydingsromantiek vind dit ook neerslag in die EFF se kwasi-militêre voorkoms.

Sommige wit Suid-Afrikaners omskep op hul beurt hul voorstedelike kombuise in plaaskombuise, kompleet afgerond met ’n (moderne) Aga-stoof en woonhuise word ontwerp in die styl van plaasopstalle. Ouma se kappie pryk op die kapstok by die voordeur en Oupa se karwats, netjies gevleg, bly ’n gesprekspunt.

Die akademikus Svetlana Boym verwys hierna as herstellende nostalgie – waar onthou veilig en onskuldig is, en die verlede verromantiseer word as ’n tyd sonder trauma, verdriet en verlies.

Anders as waar herstellende nostalgie die huis (die verlede) onbevraagd herskep, talm peinsende nostalgie volgens Boym op bouvalle. Kortom: Dit bevraagteken die verlede en daar is ’n beskouing van die verlede sonder enige romantisering of verdoeseling daarvan.

Albei vorme van nostalgie manifesteer in Suid-Afrika. Terwyl sommige Suid-Afrikaners die politieke orde voor 1994 vir alle mislukkings van die staat blameer, reken ander Suid-Afrikaners dat die verlede juis daar hoort – in die verlede. En dat apartheid nie vir alle gebreke van die staat verantwoordelik gehou kan word nie.

Mandela en geheueverlies

Wat is egter die nut van politieke nostalgie? Volgens Todorova behoort ons krities om te gaan met sogenaamde “geheue-entrepreneurs” wat nostalgie vir politieke doeleindes aktiveer of afskakel.

Mense moet dus polities waaksaam wees vir politieke nostalgie sodat hulle nie mislei word nie.

Nostalgie bly ’n simptoom en ontsnappingsmeganisme van ’n ongemaklike verlede én hede. Die politieke elite se onvermoë om die beloofde politieke utopie te verwesentlik word vervang met ’n geïdealiseerde retrotopie of ten minste die artefakte daarvan (bevrydingsliedere, militêre uniforms, parades, slagspreuke, vlae en herdenkings).

Staatsondersteunde nostalgie herdenk hierdie retrotopie. Enige besoeker aan die Vryheidspark in Pretoria sal opmerk dat politieke geheueverlies daar voorkom. Sommige reken dieselfde kan van die Voortrekkermonument gesê word.

Nelson Mandela het een van die interessantste gevallestudies van politieke nostalgie en geheueverlies geword.

Dit het ’n politieke doodsonde geword om hom te kritiseer. Let egter op hoe vernuftig sy geskiedenis en persona tot ’n kommersiële handelsproduk omskep is. Sy gevangenisnommer, 46664, het ’n winsgewende handelsmerk geword. So is 466/64 Fashion byvoorbeeld ’n modemaatskappy wat ’n sogenaamde bevrydingsklerereeks, geïnspireer deur Mandela, verkoop.

Na-mite van 1994

Nostalgie is egter ook ’n lokval. Restoratiewe nostalgie is byvoorbeeld een van die verklarings vir die opkoms en instandhouding van nasionalistiese politieke aktiwiteite. Nostalgie is soms ook ydel in sy verheerliking van die verlede as glorieryk en beskrywing van die hede as ondraaglik.

Ná 1994 is ’n ná-mite plaaslike geskep. Hierdie mite daag Suid-Afrikaners se geheue van die geskiedenis én die geskiedenis van die land se geheue en herinneringsvermoë uit.

Suid-Afrikaners onthou en vergeet op verskillende maniere. Die toekoms van onthou en vergeet in Suid-Afrika is onseker solank politieke gewin die dryfveer daarvoor is. Suid-Afrikaners onttrek na en hou verskillende retrotopieë en utopieë in stand, wat weer deur politieke entrepreneurs uitgebuit word.

Hierdie toedrag van sake sal nie verander solank die hede nie aan die verwagtinge van alle Suid-Afrikaners voldoen nie.

Prof. Van Wyk is ’n hoogleraar in internasionale politiek verbonde aan Unisa.

Meer oor:  Jo-Ansie Van Wyk  |  Herinneringe  |  Onskuld  |  Geheue  |  Tagtigerjare  |  Amnesie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.