Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Notre Dame laat ’n stukkie geheue loskom
Wilhelm Jordaan

Soos miljoene ander mense het ek spontaan gehuil toe ek sien die Notre Dame-katedraal in Parys is in vlamme gehul.

Elkeen se trane en verslaenheid val sekerlik in die trant van die Britse kunshistorikus Kenneth Clark se opmerking in ’n ou TV-program: “What is civilisation? I don’t know, and I can’t define it in abstract terms, yet. But I think I can recognise it when I see it, and I’m looking at it now.” En met ’n gebaar wys hy na Notre Dame skuins agter hom.

Ja, Notre Dame, wat 800 jaar oud is, is inderdaad ’n simbool van die Europese geskiedenis en van die ganse Christendom. Meer bepaald ook Frankryk se rol daarin.

Eers agterna het ek verstaan my trane het ook te doen met ’n stukkie geheue wat losgekom het: In 1987 het ons gesin (toe sewe in getal) alle opgegaarde spaargeld opgebruik om amper sewe weke lank in Europa te gaan toer – as die “kuddetjie van sewe”.

Een van ons kosbaarste besittings is ’n foto wat van ons geneem is vanaf die trappe van die 770 jaar oue Domkerk, die Gotiese katedraal in Keulen, Duitsland, waar ons by ’n groot kennisgewingbord van die Duitse treindiens staan: Fahren Sie Nicht Ohne (reis nie daarsonder nie), wat reisigers maan om hul kaartjies vooraf te koop. Dié woorde had vir my ’n mistieke betekenis: Oral waar jy gaan, “reis” jóú mense met jou saam.

Daar sit ons toe – sewe Protestante in die boesem van die Roomse gevaar!

Sondag 2 Augustus 1987 was ons laaste toerdag in Parys. En ons besluit om Notre Dame weer te besoek en te kyk of ons dalk ’n oggendmis kan bywoon. Vir ons ’n dankbaarheidsmis.

’n Toesighoudende priester laat ons toe om oor ’n versperring te klim om daaraan deel te hê. Daar sit ons toe – sewe Protestante in die boesem van die Roomse gevaar!

Toe hoor ek hoe die diensdoende priester die Apostoliese Geloofsbelydenis in Latyn voordra: “Credo in Deum Patrem omnipotentem, Creatorem caeli et terrae,/et in Iesum Christum, Fil­lium Eius unicum, Dominum nostrum . . .”

Net daarna vul koorsang die kerk se enorme ruimte.

Opeens was ek oorstelp én bedroef. Oorstelp omdat die vreemde klanke van ’n uitgestorwe taal, so saam met hemelse musiek, my meevoer op ’n manier wat my moedertaal dit nie doen nie. En bedroef omdat dit my verlangend laat dink het aan lank, lank gelede, toe alles so eenvoudig was en maklik om te glo.

Terwyl ons later in die hotelkamer inpak vir huis toe vlieg die volgende dag het ek dié versie op ’n stukkie papier geskryf: “In die Notre Dame steek mense teen betaling van ’n frank kersies aan / vir die moeder van God. / En ek wonder: Waar is God? / Twee jong meisies in sjoe-sjoe broekies geklee doen ook mee / saam met ’n krom ou tantetjie / en bid blinkoog in die kerslig tot die Here God. / Toe brand dit in my: Sjoe, oweral is God.”

Jordaan is ’n buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Kerk  |  Herinneringe  |  Notre Dame  |  Bid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.