Ja, Ouma, ons nuwe Nommer Een reken daar’s nog nie een boer vermoor nie en Zumpie Junior sê sonder om te blik of te skrik hy’t nie met die Kroektas geheul nie.

Blouwillem
Ek het nogal gewonder wanneer die groen blare gaan begin inskop.
Ja, my liewe ou moedertjie, toe adjunkhoogregter Raymond Zoldo mooitjies nou die dag sê dat private dagga orraait is, het daar saam met grondgryp, staatskaping, kabeldiefstal, oorbytery, onnievloek, liegery by die VN, slaggate, resessies, duur brandstof en vrot brandweerstasies nou nog ’n onheiligheid opgedagga.
Die volk is onder ’n wolk, maar u hoog, hoër, hoogheid, hulle sê mos ’n ou bok hou van groen blare.
Oom Johnny sê die Zoldo-uitspraak het soveel grys (of dalk groen?) areas dat hy wonder of ons land se hoogste grondvathof nie dalk teen sy eie uitspraak kan appelleer nie.
Die oom voorspel: “Julle gaan sien ’n arme konstabeltjie gaan nou ’n ou vasvat omdat hy in dagga handel dryf en wat gaan daai rakker vir hom sê? ‘Ja, konstabel, ek smous dagga, maar dagga is ’n plant en as ek plante verkoop, maak dit mos van my ’n bloemis? En ek dryf net ses dae ’n week handel: Maandagga tot Saterdagga.’ ’’
Dik Daan sê vir hom as oudpolisieman is die ergste die arme dagga-snuffelhonde van die polisie wat nou almal op vroeë pensioen moet gaan terwyl hulle almal ’n teef en paar brakkies het om voor te sorg.
“Maar nog erger is vir my dat die daggavoorstanders beweer dat hul wondermiddel selfs vir babas se koliek werk. ’n Arme pienkvoet van twee maande kan nog nie eens pap eet nie en nou moet hulle op daai brose ouderdom leer rook!”
Ek sien supt. Wayne Mindernaar van die Johannesburgse metro sê enigiemand wat onder die invloed van dagga bestuur, sal ingevolge die nasionale verkeerswette in hegtenis geneem word. Volgens hom is sulke gerookte bestuurders se oë groter as normaal, hulle praat vinniger en lyk senuweeagtig. Regtig, superindentent?! In daai geval is ons almal daggarokers, want as ’n spietkop mý aftrek (selfs al is ek doodonskuldig), rek my oë groter as pierings, praat ek dat die spoeg spat en lyk ek senuweeagtig omdat ek senuweeagtig ís.
Ai, waar’s die dae toe ons skole nog dwelmvry was?
En weet ek nie wat ek met my lisensie gedoen het nie omdat ek deur die blare is.
Ai, waar’s die dae toe ons skole nog dwelmvry was? Al was ek in Hoërskool Wonderboom, hoog teen Magaliesberg se kruin (nee, nie ons nie, die skool), het ons nooit gewonder oor boom nie.
Nee wat, in ons tye daar in die 60’s was die enigste dwelm wat ons ooit geken het die nuwe blonde LO-juffroutjie wat in ons st. 8 jaar daar begin skoolhou het.
Onskuldige bloedjies, soos die dametjie wat in die Kaap vir ’n werkonderhoud gegaan het. “Juffrou, het jy tik op skool gehad?” “Nee, nooit meneer, in my tyd was daar net dagga en papsak.”