Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nou laat Leroux se ‘voëltjiebrein’ mens éérs frons

“Mej. Transvaal frons versigtig, want té veel fronse laat plooie. Sy oorweeg die antwoord en vind dit aanvaarbaar in die vinknes waarbinne haar breintjie soos ’n pasgebore voëltjie wondbaar vroetel.”

Ek het bogenoemde beskrywing van ’n skoonheidskoningin se reaksie op ’n sinlose antwoord, ’n pragtige oomblik in ­Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein!, al male sonder tal gelees.

Elke keer laat dit my wéér glimlag. Ek put oneindige plesier uit die woordvaardigheid van ’n geniale skrywer, maar my diepe behae het ook te doen met my idealistiese en romantiese idees oor die waarde van kennis en die kosbaarheid van toegang daartoe. Daarom lees ek dikwels hierdie sinnetjies vir studente ter inleiding van my tweedejaarskursus oor Leroux se magistrale roman. Baie welkom, sê ek dan met opregte vreugde vir hulle. Hoe wonderlik dat julle hier is. Moenie wees soos Mej. Transvaal met die klein, wondbare voëlbreintjie nie. Lees wyd en diep, vra vrae en voer daardie kuiken totdat dit ’n arend is wat oor bergtoppe kan vlieg.

Sentimenteel ja, maar ek beur dapper voort. Aan sommige van die dosente-prekies waarvoor ek my as student slap gelag het en wat ek destyds verleentheidswekkend gevind het, hou ek nou in later jare styf vas. Daarom dat ek dié week, in die eerste lesing van ’n nuwe semester, maar weer die boek oopgemaak het daar waar hy al vanself oopval.

Lees wyd en diep, vra vrae en voer daardie kuiken totdat dit ’n arend is wat oor bergtoppe kan vlieg.

In my agterkop was die nuus dat Malala Yousafzai, die skoolmeisie wat vyf jaar gelede deur die Taliban in die kop geskiet is, nou filosofie, politiek en ekonomie aan Oxford gaan studeer. Sy is op pad na Lady Margaret Hall en as 20-jarige volg sy in die voetspore van die alumnus Benazir Bhutto, die voormalige Pakistanse premier wat glo een van Yousafzai se heldinne is.

Dit sou moeilik wees om ’n mooier einde te bedink vir die verhaal van ’n kind wat sedert haar 11de jaar in opstand gekom het teen die Taliban se verbod op skoolonderrig vir meisies.

Yousafzai is min of meer dieselfde ouderdom as die student wat, toe ek aan die hand doen dat hulle solank die voorgeskrewe roman aankoop en begin lees (en nadat ek wenke gegee het oor waar dit tweedehands vir ’n appel en ei opgespoor kan word) onder gelag verklaar dat hy die eerste 18 maande van sy universiteitsopvoeding agter die rug het sonder om een enkele boek te koop en dat hy beplan om dit so te hou. Buitendien: “Ons wag net vir die opstande om te begin sodat ons huis toe kan gaan.”

Wat, wonder ’n mens onwillekeurig, sou Etienne Leroux hiervan maak? Leroux het graag vertel hoe hy, in die Klein-Karoo tussen die Swartberge, in ’n vroeë stadium begin lees het. Hy het ’n afgesonderde jeug gehad en die biblioteek was sy speelplek. Op 10 of 11 het hy reeds al Dickens se boeke gelees en Thackeray begin aandurf. Met ander woorde: Hy was toe reeds meer belese as die letterkundestudent wat sy moderne langtandleser is.

Ek vermoed sommige studente sal aanvoer dat die leeshonger van ’n Leroux tuisgehoort het by ’n ander generasie en ’n ander leeftyd. Maar dan vra ’n mens jouself af wat hul generasiegenoot Yousafzai sal dink van studente wat boeke as beslommernisse beskou en die ontwrigting van hul opleiding gelate aanvaar of selfs gretig afwag. Wat sou sy dink van ’n formulering wat studenteopstande opsigtelik nie posisioneer as ’n middel tot ’n doel, wat met gratis opvoeding en toegang tot kennis te doen het, nie?

Daar kan net een antwoord wees, en wanneer ’n mens dit besef, gaan dit gepaard met ’n frons veel dieper as wat Mej. Transvaal haarself ooit sou toelaat.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.