Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nou moet almal help keer
Max du Preez

Suid-Afrika gaan die volgende twee, drie maande ’n onvoorspelbaarder tydperk as selfs die onstuimige laat 1980’s en vroeë 1990’s beleef.

Pres. Jacob Zuma is nou soos ’n afgevuurde missiel wat buite beheer geraak het. Hy kan omtrent enige plek ontplof.

Vir die eerste keer sedert 1994 is daar ’n kans – ’n buitekans, maar ’n kans – dat die president in regstreekse botsing met die howe kan kom en onbeskaamd die Grondwet gaan minag.

Hy gee duidelik nie meer ’n duit om hoeveel skade hy aan die ekonomie en sy eie party aanrig nie.

Daar is ’n goeie kans dat ons ’n toename in politieke geweld voor en ná die ANC se verkiesingskonferensie in Desember gaan sien – selfs dat die konferensie nie gaan plaasvind nie, as dit begin lyk asof Zuma se voorkeurkandidaat, Nko­sazana Dlamini-Zuma, teen Cyril Ramaphosa gaan verloor.

Die afstel of ongedaan maak van die konferensie deur geweld of hofgedinge sal beteken die onsekerheid en onstabiliteit gaan toeneem, iets wat ons ekonomie nie kan bekostig nie.

Die burgery, die sakegemeenskap en beleggers het hul oë op middel Desember as die oomblik wanneer Suid-Afrika ’n nuwe rigting gaan inslaan.

Zuma dryf ’n proses om die na­sionale tesourie te ontman.

Zuma se skok-aanstelling van sy de facto-premier en hoof-rottweiler, David Mahlobo, as minister van energie is ’n voorsmaak van wat ons kan verwag.

Die Sunday Times het berig dat Wladimir Poetin van Rusland ’n afvaardiging na Zuma gestuur het met die eis dat die ooreenkoms wat Zuma-gesante met die Russiese kernkragreus Rosatom gesluit het nou ten uitvoer gebring word en dat Mahlobo, Poetin se man in Suid-Afrika, as verantwoordelike minister aangestel word.

Daar is mense met binnekennis wat praat van R250 miljoen wat klaar aan Zuma en die ANC as omkoopgeld betaal is. En niemand mors met Poetin nie.

Maar die hooggeregshof in Kaapstad het vroeër vanjaar dié ooreenkomste ongeldig verklaar en gelas die hele proses moet oorgedoen word. Dit en ander prosesse kan nog ’n jaar of twee neem – as dit nie geïgnoreer word nie.

Dit is heeltemal moontlik dat, soos beweer word, Zuma voor Desember vir Ramaphosa as adjunkpresident gaan afdank en dalk met Dlamini-Zuma gaan vervang en dat hy weer ’n fiktiewe “intelligensieverslag” as verskoning gaan gebruik. (Onthou, Thabo Mbeki het in 2005 ook van Zuma as sy adjunk ontslae geraak.)

Die skindermasjien op sosiale media het klaar die weg hiervoor voorberei met suggesties dat ’n “verdoemende” video van Rama­phosa bestaan, en dat hy gesorg het dat die FBI en die Britse bedrogeenheid die Guptas se geldsake ondersoek.

Tensy baie ANC-lede dié propaganda gaan glo, kan dit Ramaphosa se kandidatuur versterk, maar dit gaan beslis meer onstabiliteit bring.

’n Verdere kabinetskommeling waarin Zuma dalk van die laaste lede van die SAKP en ander teenstanders ontslae gaan raak, is ook moontlik. Nóg meer onstabiliteit.

Zuma dryf ’n proses om die na­sionale tesourie te ontman en belangrike besluitnemingsfunksies na die presidensie te skuif, wat diefstal uit die staatskas sal vergemaklik – ’n stap wat graderingsagentskappe en beleggers die horries sal gee.

Sy handlangers is besig om die parlementêre ondersoeke na Eskom te ondermyn.

Dit lyk nie asof Shaun Abrahams van die nasionale vervolgingsgesag aan die einde van November ’n verskoning gaan kan uitdink waarom Zuma nié weens korrupsie aangekla moet word nie. Meer desperaatheid.

Ontstellende vooruitsigte, ja. Maar ek dink tog ons instellings – die regbank, die burgerlike samelewing, die media – sowel as aktiviste binne en buite die ANC staan sterk genoeg om te keer dat die wiele heeltemal afkom.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Rubrieke  |  Menings  |  Politiek  |  Chaos  |  Drama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.