Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nou moet jy net kophou, Cyril

Die wedloop om pres. Jacob Zuma op te volg, het skielik baie bevolk geraak met aankondigings dat Lindiwe Sisulu en Baleka Mbete ook tot die stryd toegetree het. Daar is sprake dat Jeff Radebe en Zweli Mkhize ook hul name in die hoed sal gooi.

Tot verlede week was net adj.pres. Cyril Ramaphosa en Nkosazana Dlamini-Zuma die gunstelinge. Albei van hulle het nou ’n groot taak op hande om die nuwe toetreders af te weer.

Dlamini-Zuma word in sommige kringe as die gesalfde van haar eksman, Jacob Zuma, beskou. Maar hy kan nou meer van ’n meulsteen as ’n aanwins vir haar wees namate sy gewildheid in die ANC onder druk kom.

Zuma het op die ANC se onlangse beleidskonferensie die buitengewone voorstel gemaak dat wie ook al die opvolgstryd verloor (hy het duidelik net aan Ramaphosa en Dlamini-Zuma gedink), aangewys moet word as adjunkpresident van die regerende party.

Dit is onmiddellik deur Mathews Phosa, ook ’n moontlike kandidaat, verwerp as ondemokraties. Dit is onwaarskynlik dat die ANC dit sal doen uit vrees vir ’n ongemaklike presedent.

Ramaphosa en Dlamini-Zuma moet steeds beskou word as die gunstelinge.

Veral Ramaphosa het ná die beleidskonferensie tot die aanval oorgegaan en probeer om sy gerapporteerde sterker posisie in verskeie provinsies te konsolideer. Hy moet egter nie die nuwe teenstanders onderskat nie.

Sisulu is van adellike ANC-afkoms, die dogter van die ikoniese Walter en Albertina Sisulu, en ’n bekwame minister. Sy is deur verskeie streke van die ANC-vroueliga in die Oos-Kaap benoem, wat nie goeie nuus is vir Dlamini-Zuma nie, wat ook deur dié liga benoem is. Dit dui op tweespalt in die vroueliga wat tot dusver verenig gelyk het in sy ondersteuning van haar.

Mbete het haar eie probleme. Sy sukkel byvoorbeeld om ontslae te raak van persepsies dat sy ook bande met die Guptas het. Vir baie in die ANC het sy haar nie juis in glorie gehul met haar hantering van die EFF se knaende uittarting van Zuma in die parlement nie.

Intussen hou Ramaphosa aan om te beïndruk.

Sy het ook ’n belangrike besluit om te neem oor die verwagte mosie van wantroue in Zuma. Sy moet besluit of die stemming oor die mosie oop of in die geheim gaan wees. Dit kan bepalend wees vir haar kandidatuur.

Intussen hou Ramaphosa aan om te beïndruk. Hy sit nou afstand tussen hom en Zuma en speel duidelik vir die groeiende galery van kaders wat teen die president gekant is.

Hy het verlede week op die SAKP se nasionale konferensie te velde getrek teen korrupsie en veral die kwaadaardige invloed van die Gupta-familie op die regering. Hy is bo Zuma verkies as spreker by die konferensie.

Intussen kan ons solank voorberei vir die moontlikheid van ’n Ramaphosa-Sisulu-vennootskap vir die presidensie van die ANC en die land.

Dieselfde geld ’n moontlike vennootskap tussen Ramaphosa en Mkhize, die ANC se tesourier-generaal, wat ook benoem is. Hy word beskou as ’n bekwame en deurdagte politikus wat enige president se termyn sal verryk eerder as ondermyn.

Ondanks al die mededingers is die opvolgwedloop steeds Ramaphosa s’n om te verloor. Sy tydsberekening om sy stem dik te maak, was perfek. Daar is nog genoeg tyd vir die land om hom behoorlik te hoor.

Hy moet nou net kophou en die nodige werk op voetsoolvlak doen om sy kandidatuur onder ANC-takke te verstewig. Dit sal ook help as hy strategiese bande smee met veral Sisulu en Mkhize. Enige sodanige idee met Dlamini- Zuma kan fataal wees.

Hy moet elke geleentheid gebruik om presidensieel te lyk – iets wat hy op die oomblik nogal goed doen.

Meer oor:  Zuma  |  Cyril Ramaphosa  |  Presidentskap  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.