Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nou vir ouers vra by ANC ná CR se landbouvryery
Barnard Beukman

“Stille waters, diepe grond, onder draai die duiwel rond.”

Dit is die spreekwoord wat opkom as ’n mens so na die gronddebat luister. En interessant is die berigte oor ini­- siatiewe wat begin hoop bied het dat hier tog by rasionele oplossings uitgekom kan word eerder as populistiese rampspoed.

Word hier na strooihalms gegryp of is daar die laaste paar weke nuwe hoop gebore? Die laaste paar dae het ek ’n klompie gesprekke gevoer met onder andere rolspelers in die georganiseerde landbou, die ANC, staatsdepartemente en andere naby aan die vuur. En só ’n blik uit verskillende hoeke gekry oor wat afgespeel het:

- Pres. Cyril Ramaphosa en sy gedagtegenote is steeds in ’n moeilike politieke hoek, maar soek ’n rasionele uitkoms.

- Sy sleutelministers oor die kwessie is Maite Nkoana-Mashabane van landelike ontwikkeling en grondhervorming en Senzeni Zokwana van landbou, bosbou en visserye. Albei is oorblyfsels van die Zuma-kamp en veral sy verkeer op glibberige terrein.

- Hulle is by ’n verlammende toutrekkery betrokke oor wie grondhervorming moet beheer.

- Ramaphosa se nuwe beheer oor die aanstelling van direkteurs-generaal (DG’s) het Mike Mlengana, DG van landbou en ’n bondgenoot van sy grondsienings, teen Zo­kwana se heksejag beveilig.

- Die harde werk die laaste dekades van Agri SA en ander landbousektore om bande met die sowat 100 000 swart boere in die landbouwaardeketting te smee, was hul troefkaart in binnegesprekke. Die swart boere se sluit van geledere met wit boere was deurslaggewend.

- Adj.pres. David Mabuza se betrokkenheid by die grondkwessie het begin vrugte afwerp en hy het onomwonde verklaar dat suksesvolle kommersiële boerderye nie geteiken word nie.

- ANC-leiers, insluitend Rama­- phosa, Mabuza en Paul Mashatile, het landbouleiers se bona fides aanvaar dat hulle volhoubare oplossings soek, erken dat die herstel van menswaardigheid ná apartheid ook in landbou nodig is en dat hulle wil help om die grondkwessie te beredder. Hulle het geluister na voorstelle oor hoe om grondeienaarskap te verbreed deur opleiding, finansiering en die doeltreffende bestuur van grondoordrag – veral grond wat reeds beskikbaar is.

- Die landbouleiers is genooi na ’n kritieke interaksie met ANCbesluitnemers die komende week, wat sleutelspelers uit die opponerende faksies insluit. Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, gaan ook teenwoordig wees. Dit kan ’n bepalende byeenkoms wees om al die planne aan ’n breër ANC te verkoop.

- TLU SA se besluit dat sy lede se belange ook die beste gedien word deur gesprekke en die ondertekening van ’n samewerkingsooreenkoms oor landbouontwikkeling met Agri SA en die swart organisasies Afasa en Nafu, versterk die proses.

- En ja, die veelbesproke Landbouweekblad-inisiatief (wat in By belig word) het grootliks bygedra om wedersydse vertroue te skep, word bevestig.

Deur die drif is die wa nog glad nie. En daar kom nog ’n rivier of twee af, waarvan verkiesingspropaganda een is. Maar groeiende optimisme is die deurlopende tema.

- Beukman is Beeld se redakteur.

Meer oor:  Barnard Beukman  |  Anc  |  Landbou  |  Grondregte  |  Grondonteiening  |  Grond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.