Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nou word géén vakbond meer ernstig opgeneem nie

Die moontlikheid van samewerking tussen Solidariteit en ander vakbonde lyk al hoe skraler namate vakbondlede al hoe meer middelklas word, skryf Andries Bezuidenhout.

Foto ter illustrasie. Foto: ISTOCK

Daar was ’n tyd toe dit nie vreemd was vir Afrikaners om aan vakbonde te behoort nie.

Op ’n pragtige foto uit 1938, geneem tydens Eeufeesherdenking van die Groot Trek, staan ’n vrou in volle Voortrekkermondering wat van onder die rand van haar kappie na die kamera kyk. In haar hand is ’n koerant getiteld Klerewerker.

Klerewerker was die mondstuk van ’n sosialistiese en veelrassige vakbond genaamd die Klerewerkersunie waarvan menige Afrikanervrou ’n lid was.

Afrikaanse lede van die Klerewerkersunie het hul kultuur ook binne die konteks van die vakbond uitgeleef. Só byvoorbeeld het Hester Cornelius ’n teaterstuk met die titel Die offerhande geskryf, wat die storie vertel het van ’n boer wat sy grond verloor en wat dan, in die hoop om sy grond weer terug te koop, ’n diamantdelwer word.

Die toneelstuk is natuurlik vanuit ’n vakbondperspektief geskryf as propaganda teen die bose kapitalistiese bestel. In die drama sluit die delwers by ’n vakbond aan, wat beter lone namens hulle beding.

’n Ander vurige vakbondaktivis was Bettie du Toit, wat vanaf die 1920’s reeds aktief was om vroue in klerefabrieke te organiseer. Op ’n keer is sy in Johannesburg se fort opgesluit. Haar vakbondaktiwiteite het haar ook in stryd gebring met haar enigste broer, wat ’n nasionalis was.

Die nasionaliste het anders na die wêreld gekyk.

Met die opkoms van Afrikanernasionalisme in die 1930’s was baie vakbondlede bekommerd oor die nuwe politieke verwikkelinge. Hulle het gereken Afrikaners is beter daaraan toe as hulle saam met ander werkersklasmense by vakbonde aansluit en gesamentlik vir beter lone onderhandel.

Die nasionaliste het anders na die wêreld gekyk. Vir hulle moes Afrikanerwerkers saam met ander Afrikaners teen Engelse oorheersing opstaan.

Vir hulle was die idee van sterk vroue – vroue as vakbondaktiviste – iets wat heeltemal teen hul kultuur ingedruis het.

Die 1930’s en 1940’s was ’n heel interessante tyd in ons geskiedenis, deels omdat ’n groot deel daarvan gegaan het oor ’n stryd om die hart en siel van Afrikaneridentiteit. Dit was nie vreemd vir stedelike Afrikaners om aan werkersklasorganisasies soos vakbonde se aktiwiteite deel te neem nie.

Vanaf 1948 het dinge egter vinnig verander. Veelrassige vakbonde, soos die Klerewerkersunie, is deur wetgewing gekortwiek.

’n Voortsetting van vroeëre pogings om werk vir wit mense te reserveer – sogenaamde beskaafde arbeid – het verder gemaak dat Afrikaners se ekonomiese posisie drasties verbeter het, wat verder gemaak het dat vakbonde se boodskap van sosialisme en solidariteit op minder vrugbare grond geval het.

Minder gewig

Nou sal mense seker wonder waar hierdie nostalgiese (en vir sommige seker ook onwelkome) vertellings van Afrikaners en vakbonde vandaan kom.

Die rede is ’n interessante gesprek wat ek en my kollega Malehoko Tshoaedi nou die dag met Gideon du Plessis, Solidariteit se algemene sekretaris, en die oudredakteur Tim du Plessis by die Boekejol-boekfees in Pretoria gehad het.

Ons het oor Labour Beyond COSATU: Mapping the Rupture in South Africa’s Labour Landscape, ’n boek wat ek en Malehoko pas gepubliseer het, gepraat.

Die boek handel oor die redes vir die skeuring in Cosatu en oor die implikasies daarvan vir die toekoms van vakbondwese in Suid-Afrika.

Gideon het ’n baie interessante punt gemaak oor die impak van die skeuring in Cosatu en die ontstaan van Zwelinzima Vavi se South African Federation of Trade Unions (Saftu) op ander vakbonde soos Solidariteit.

Vavi se woord dra nou soveel minder gewig as in die verlede.

In die verlede, verduidelik Gideon, het die regering en maatskappye moeite gedoen om ander vakbonde by prosesse te betrek as ’n tipe teenwig vir Cosatu – deels omdat laasgenoemde so ’n dominante stem gehad het.

Noudat Cosatu verswak is, word géén vakbond meer ernstig opgeneem nie. Die skeuring in Cosatu het met ander woorde ook ’n vermindering in die invloed van die vakbondwese in geheel tot gevolg gehad.

Sekere besigheidsmense sal natuurlik dankbaar wees hiervoor, maar ’n mens moet onthou vakbonde speel as deel van die burgerlike samelewing ook ’n belangrike rol as opposisie teen regeringsvergrype en korrupsie.

Vavi se woord dra nou soveel minder gewig as in die verlede en Cosatu is gereduseer tot maar een van die spelers in die ANC se bloedige opvolgstryd, deels weens hul eie toedoen.

Meer kwalifikasies

Dis geyk om te noem dat die geskiedenis ’n geneigdheid het om te herhaal, maar dalk omdat dit so waar is. Neem nou maar die vakbondwese.

Vanaf die 1950’s het Afrikaners al hoe minder in vakbonde belang gestel deels omdat hulle vanuit die werkersklas in die middelklas inbeweeg het.

’n Soortgelyke proses is besig om met die swart werkersklas te gebeur, wat ook ’n impak op die vakbondwese het.

In my en Malehoko se boek kyk ons en ons medeouteurs na hoe Cosatu se ledetal sedert 1994 verander het. In 1994 het ons die eerste van vyf opnames van Cosatu se lede gedoen, wat elke jaar kort voor die nasionale parlementêre verkiesings herhaal is. Die laaste opname is in 2014 gedoen, kort voor die laaste verkiesing en net voor Cosatu geskeur het.

Ek wil ’n paar vinnige statistieke noem om my punt te staaf.

Dit beteken byna 40% van Cosatu se lede het deesdae naskoolse kwalifikasies.

In 1994 het 30% van Cosatu-lede hulself as ongeskoold beskou, teenoor slegs 8% in 2014.

In 1994 het ’n weglaatbare getal Cosatu-lede hulself as professioneel beskou, maar teen 2014 klassifiseer net minder as 20% hulself as professioneel.

Baie van hierdie professionele lede is in die staatsdiens, meestal verpleegsters en onderwysers, maar ook in ander beroepe.

In 1994 het slegs 31% van Cosatu-lede matriek gehad, wat teen 2014 tot 45% toegeneem het.

In 1994 het slegs 3% tegniese diplomas gehad teenoor 20% in 2014.

Slegs 1% het in 1994 universiteitsgrade gehad en dié syfer het in 2014 op 17% gestaan.

Dit beteken byna 40% van Cosatu se lede het deesdae naskoolse kwalifikasies.

Informele geleentheidswerkers

Wat beteken hierdie tendense? Ek wil enkele punte hier uitlig.

As ons aan vakbonde dink, dink ons tipies aan die werkersklas. Dit lyk asof Cosatu se lede al hoe minder soos ’n werkersklas lyk en al hoe meer middelklas word.

Ek was ’n paar jaar gelede in ’n vergadering waar van die metaalvakbond Numsa se lede gekla het oor die feit dat hulle belastingvorms moet invul. Dit was vir hulle ’n nuwe ervaring.

Verder moet ons onsself afvra of vakbondlede dan glad nie meer ongeskoolde arbeid verrig nie. Dit blyk nie meer die geval te wees nie.

Andries Bezuidenhout

Die arbeidsmark het sodanig verander dat die meeste ongeskoolde handearbeid deur mense verrig word wat nie meer permanente dienskontrakte het nie – hulle werk vir arbeidsmakelaars, op tydelike kontrakte, of as informele geleentheidswerkers.

Geen van ons vakbonde kon nog daarin slaag om hierdie werkers suksesvol te organiseer nie.

Op ideologiese vlak is hierdie handearbeiders die mense wat, soos Afrikanerwerkers in die 1930’s, nog aan sosialisme sou kon glo.

Die res van die vakbondwese raak al hoe meer middelklas en waarskynlik, soos Afrikaners, daarmee saam eerder nasionalisties as sosialisties.

As ek reg is, beteken dit ook dat die moontlikheid van samewerking tussen Solidariteit en ander vakbonde selfs nog meer onwaarskynlik sal word as in die verlede en dat die vakbondwese in Suid-Afrika gekenmerk sal word deur mededingende nasionalismes eerder as ’n gedeelde klasposisie.

* Prof. Bezuidenhout is ’n sosioloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Andries Bezuidenhout  |  Solidariteit  |  Vakbonde  |  Cosatu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.