Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nou’s die tyd om 2010 se ‘reis van mens tot mens’ te onthou

Terwyl 2020 ongetwyfeld as die jaar van die koronakrisis opgeteken sal word, herinner Heindrich Wyngaard ons aan waarvoor 2010 onthou word.

Fifa se Wêreldbekersokkertoernooi – dít waarvoor 2010 veral onthou word. Foto’s: GETTY IMAGES

’n Jaar van nou af, of een of twee of drie dekades later, sal dié van ons wat nog hier is, terugkyk op die situasie waarin ons onsself op hierdie oomblik bevind – die tyd van ’n korona-inperking, ’n grendelstaat – en dié van ons wat nog hier is, sal vir mekaar vra: “Onthou jy nog?”

Wat ons sal onthou, sal grootliks afhang van wat die uiteindelike uitkoms van die pandemie sal wees. Teen die tyd dat hierdie artikel vorm aangeneem het, was daar wêreldwyd nagenoeg 800 000 infeksies en byna 40 000 sterftes; in Suid-Afrika, meer as 1 300 infeksies en vyf sterfgevalle.

Die telbord rol onophoudelik; die situasie bly vloeibaar.

Maar te midde van die groot onsekerheid wat heers, is daar wel sekerheid oor ander aangename en minder aangename gebeure wat dit voorafgegaan het. Of is jy só oorweldig deur nou se gebeure dat jy skoon daarvan vergeet het?

Oudpres. Barack Obama, Amerika se eerste swart president, het in 2010 ’n universele gesondheidsorg ingestel.

Toegegee, die afgelope dekade is heel moontlik een wat ons waarskynlik net sal wil onthou om onsself heeltyd te herinner aan die lesse wat ons daaruit geleer het.

Maar terwyl die sogenaamde “nege verkwiste jare” onder oudpres. Jacob Zuma ons dalk steeds terneergedruk laat, is dit ook so dat een van ons land se grootste oomblikke gedurende die Zuma-ampstermyn plaasgevind het.

Dit was Suid-Afrika se bewonderenswaardige, suksesvolle aanbieding van die Wêreldbekersokkertoernooi in 2010. Onthou jy nog? Die jaar van die vuvuzela. Sedertdien eggo die blaas van dié plastiektrompet beelde van 2010 oraloor – en in alle windrigtings.

Ons was die wêreld se witbroodjie. Ons was vir weke een van die vernaamste internasionale besprekingspunte, altyd in die hoofnuus en die bron van wat die gerespekteerde tydskrif Time genoem het die mees intense “planetary bubble” – op sosiale media en voor die televisieskerms van miljarde kykers in 208 lande – as wat voorheen met enige ander gebeurtenis in menslike heugenis die geval sou wees.

Sepp Blatter, nou gevalle Fifa-baas, het ons regering en reëlingskomitee so na aan tien uit tien gegee as wat jy kan kry – “nine going for ten”, was sy beslissing – vir die algehele organisering van die toernooi.

Die sukses is tot ’n groot mate toegeskryf aan die leierskap van dr. Danny Jordaan, ofskoon self agterna deur skandale agtervolg, as iemand “who gets it all done no matter what, with no excuses and no delays” (Sunday Times).

En die bewyse was daar vir almal om te sien: stadions wat betyds voltooi was; sokkergeesdriftiges wat met nuwe, moderne openbare vervoer rondgekarwei is; sigbare polisiëring, spesiale howe wat sake tjoef-tjaf afhandel.

Mark Zuckerberg was Timese persoon van die jaar.

Waaraan die sukses van die WB-toernooi egter weinig ’n verskil kon maak, was die verhoogde verwagtinge dat die regering dieselfde resep, doelgerigtheid en ingesteldheid van effektiwiteit sou toepas om die lewe van landsburgers te verbeter.

Die hoop was dat ’n nuwe begin gemaak sou word om meer doeltreffendheid in skole, hospitale en die plaaslike regering te bewerkstellig, maar die hoop het beskaam, want ná die sokkertoernooi het die wêreld se aandag elders heen verskuif, baas Blatter is huis toe en die man van Nkandla se vraatsugtigheid het behoorlike vastrapplek begin kry. Maar hei!

Oudpres. Nelson Mandela was in 2010 nog met ons (selfs al was dit pynlik om hom so broos by die sluitingseremonie van die WB-toernooi te moes sien). Die Bulle het die Stormers in Soweto in die Vodacom Super Rugby-eindstryd laat pap en wors op die gras eet.

En elders het oudpres. Barack Obama, Amerika se eerste swart president, universele gesondheidsorg ingestel; die Suid-Afrikaans-gebore (onortodokse) innoveerder Elon Musk het sy eerste Space X-sukses in die buiteruim behaal; Apple se iPad is bekend gestel; die Facebook-stigter Mark Zuckerberg was Time se persoon van die jaar; en in Dubai is die Burj Khalifa-gebou, die hoogste ter wêreld, geopen.

Ook rampe het egter die nuuskalender gehaal, waaronder die ekologies katastrofiese BP-oliestorting aan die kus van Mexiko; die vernietiging van Haïti weens ’n ongekend-magtige aardbewing – en nader aan ons: Tien skoolkinders is dood toe ’n taxibestuurder, Jacob Humphreys, by die Buttskop-spooroorgang in Blackheath voor ’n trein ingery het.

Dit was ook die jaar dat die oudpolitikus Frederik van Zyl Slabbert gesterf het, soos ook die verregse militante leier Eugène Terre’Blanche, die oud-Springbok Ruben Kruger en die skrywers Alba Bouwer (Stories van Rivierplaas), Lewis Nkosi (uit die Drum-generasie) en Alf Wannenburg (tydgenoot van Richard Rive en James Matthews).

Die voormalige nasionale polisiehoof Jackie Selebi word aan korrupsie skuldig bevind.

Ander nuusopskrifte: “Adv. Barbie”, Cezanne Visser, word tot sewe jaar tronkstraf gevonnis vir die seksuele molestering van jong meisies en vroue; die voormalige polisiehoof Jackie Selebi word aan korrupsie skuldig bevind – en in November, vier maande ná die WB, was die internasionale kollig terug op Suid-Afrika toe Anni Dewani in ’n beweerde kaping vermoor is, terwyl sy en haar man, Shrien, hul wittebrood in die Kaap gevier het.

Weinig van hierdie gebeure kom sommer by ’n mens op as jy terugdink aan 2010. In die meeste gevalle, behalwe as jy ’n persoonlike belang by enige van die voorgenoemdes het, sal die primêre verwysing na daai jaar die Wêreldbekersokkertoernooi wees.

Die AWB-leier Eugène Terre’Blanche is in 2010 dood.

Dit was die jaar dat ons land gewys het waartoe ons in staat is as ons spertyd-gedrewe ’n nasionale projek moet afhandel en alle sektore, openbare en private, saamspan om sukses te behaal. Maar dit was ongetwyfeld ook die gees van saamstaan onder gewone landsburgers, die hand van vriendskap aan besoekers, ubuntu en – soos wat Nic de Jager RSG-luisteraars Sondae so mooi vra om te doen – “wees lief vir die naaste” wat geseëvier het.

Wanneer ons in 2030 op 2020 terugkyk, sal ons hopelik dieselfde warm herinneringe kan oproep oor hoe ons onsself in hierdie korona-krisistydperk gehandhaaf het.

“Die langste reis vir elke enkele mens op aarde is die reis van mens tot mens,” het Alba Bouwer immers eens gesê.

Noudat korona ’n nuwe betekenis aan haar woorde kom gee het – en persoonlike kontak, anders as met die WB-feesvierings in 2010, ontmoedig word – is dit ’n reis van hart tot hart wat in die onvoorspelbare hede vereis word . . .

  • Wyngaard is ’n sosiopolitieke kommentator.
Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  2010
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.