Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
November se vrotvrugstatus in flopjaar
Piet Matipa

Waar huur ’n mens ’n sluipmoordenaar om ontslae te raak van November?

November is ná Januarie die vrotste vrug op die kalender.

November is amper die einde, maar ook nie. Dit is die maand waar ’n mens se liggaam die minste brandstof het, maar die vinnigste moet ry om alles klaar te kry.

November is soos om in ’n toffie te kruip na die eindbestemming toe. Dit koggel jou met die einde wat in sig is, maar stuur jou op ’n ompad soontoe.

Hoe verjaar ’n mens in November? Waar kry ’n mens die energie om fees te vier? Nie net dra jy die las van die vorige tien maande nie, maar jy is ouer ook – gestroop van die jeug se stamina.

Wat Desember red van vrotvrugstatus is dat dit vakansie en Kersfees het. Nie net rus jy nie, maar jy kry geskenke ook – sonder om enigiets hoef te doen daarvoor.

Januarie hou baie opwindende vooruitsigte in, maar wat dit vrotvrugstatus gee, is dat dit ooroptimisties is. Daar word voornemens gemaak, maar woord word selde by daad gevoeg, en skuldgevoelens kry die oorhand.

Die ergste van ou Januarie is dat die vakansie ver is, die sak is leeg gesuig deur Desember en verantwoordelikhede wag soos ’n rooimiershoop op ’n mens.

Terug by November. Dié maand het ná Desember die mees hoopvolle naam in die kalender, omdat die jaar begin rigting kry. Maar wanneer November aanbreek, is dit soos om waterloos in ’n woestyn rond te wandel.

Oktober en Julie het die minste hoopvolle name. In Julie is daar geen sprake van die einde wat in sig is nie, maar in Oktober is daar wel sprake, maar geen sig nie.

Die enigste rede hoekom ek Februarie verdra, is omdat ek ouer en wyser word in die maand van liefde. Maart, April, Mei is vir my soos wanneer ’n mens 22, 23 en 24 jaar oud word – wie de hel gee om?

Augustus en September het darem die hoop van seisoenverandering. Die morbiede kleurlose flora kry reënboogkleure wat darem bydra tot ’n knippie hoop.

Maar November is soos wanneer jy borsbrand en miltsteek kry terwyl jy hardloop.

Veral 2016 se November. Hierdie jaar was ’n groot effen­ef flippen flop. Om die vrot vrug in ’n flopjaar te wees, maak jou ’n effop.

Ek voel gewoonlik ’n veer oor die politieke klimaat, maar November het ook vir ons ’n groot twist gebring in Amerika se politieke vooruitsigte – oukei genoeg daarvan, dit is die langste wat ek ooit oor politiek gepraat het sonder om te gaap.

Ek het ook my linkervoortand vanjaar getjip. Die voortande is soos ’n vertoonvenster van die mond.

So, sluipmoordenaars, 2016 se November het nog ’n pols en wend glad nie moeite aan na sy einde toe nie.

Dit sal hartlik waardeer word as die vrot vrug van die flippen flop hanteer kan word.

Hopelik weet Desember van beter, of anders . . .

Meer oor:  Piet Matipa  |  November
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.