Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
NP had meer ruggraat as ANC
Johann Maarman

Dit verg nogal heelwat murg in ’n mens se pype en ’n sterk ruggraat om vir die Despoot van Harare te kon sê: Lóóp, jou tyd is om.

Geen wonder nie genl. Constantino Chiwenga, Zimbabwe se weermaghoof, word nou as die eintlike bevryder van Zim beskou, hoewel dit pres. Emmerson Mnangagwa is wat ’n toiingrige en disfunksionele nasie uit die ashoop moet probeer trek.

Dit was Chiwenga se hand wat die stukke op die politieke skaakbord laat beweeg het toe hy vir die stomme ou Bob, wat lankal nie meer compos mentis is nie, gewaarsku het dat hy gaan val.

Die godskreiende wyse waarop Mugabe die broodmandjie van Afrika deur sy agterent getrek het, het die wêreld se hare laat regop staan. Die staatskas is so gestroop dat beroepsmense in Zimbabwe met dik grade agter hulle naam bereid was om in Suid-Afrika as tuiniers en karwagte te werk net om uit die kloue van Bob en sy bloeddorstige generaals te ontsnap.

Die res wat nie kans gesien het om oor die grensdrade te klouter nie en in Zimbabwe agtergebly het, moes maar tevrede wees met ’n hongerloon terwyl kameraad Bob se walglike vrou en sy ewe waglike en bedorwe seuns sommer die duurste sjampanje oor ’n R650 000 horlosie kon skink.

Dié in die NUK wat wel ’n renons in Zuma het, word egter sommer in die middel van die nag afgedank en vervang deur sikofante van die president.

’n Terminale politieke kultuur word geskep wanneer magshebbers vasklou, of hulle die reg en die mag toeëien om self opvolgers te salf, slinks gemaneuvreer om te verseker dat hulle die “regte” opvolgers kry. Bob wou sy vrou, Grace, salf. Zuma salf sy eksvrou, Nkosazana Dlamini-Zuma.

Maar dit was Chiwenga wat die Bob-kliek – ook bekend as die G40 – se tjank afgetrap het. Hierdie lojale struikrowerbende van Bob se snoete het geblink soos hulle saam uit die trog gevreet het en behoort eintlik in die Chikurubi-tronk in Harare te vrot.

Wat Nare Bob se G40 vir hom was, is die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) vir Zuma. Die skoenlekkers en knievallers van Msholozi.

Die NUK van die ANC het nou al hoeveel kanse gehad om Zuma na die warm plek te stuur, maar hulle flentergat-verskonings hoekom dit nie kan gebeur nie, is om van siek te word.

Dié in die NUK wat wel ’n renons in Zuma het, word egter sommer in die middel van die nag afgedank en vervang deur sikofante van die president.

Dit is hoe diktators werk. Bob het dit eers met Joice Mujuru (sy eerste adjunkpresident) gedoen en toe weer met Mnangagwa.

Zuma het dit gedoen met Pravin Gordhan, Mcebisi Jonas, Blade Nzimande en Nhlanhla Nene.

Die NP – net soos Zanu-PF – het dus meer ruggraat as die ANC se NUK. Die NP-koukus het die moed gehad om PW te laat gaan. Zanu-PF het Bob in die pad gesteek.

Zuma volg dieselfde modus operandi as Bob deur die veiligheidsministers as sy kanon te gebruik.

PW Botha was ook so ’n president wat sy veiligheidapparatus gebruik het om sy gesag af te dwing. Dit was asof hy alles reg wou bliksem en daarom het hy hom omring met valke soos Magnus Malan, Adriaan Vlok en Louis le Grange.

PW was seker een van die knorrigste presidente en het ook nie teenstand geduld nie. Hy kon die vloer vee met sy teenstanders in én buite die party. Maar die NP-koukus het darem sy ruggraat ontdek toe FW de Klerk-hulle vir PW mooi laat verstaan het dis tyd om te gaan rus. Natuurlik het hy vasgeskop, maar die skrif was aan die muur.

Die NP – net soos Zanu-PF – het dus meer ruggraat as die ANC se NUK. Die NP-koukus het die moed gehad om PW te laat gaan. Zanu-PF het Bob in die pad gesteek.

Die ANC se NUK? Nee, wat, ruggraatloos. . . en so stil soos ’n muis in slaapsokkies.

Meer oor:  Pres. Robert Mugabe  |  Grace Mugabe  |  Emmerson Mnangagwa  |  Zimbabwe  |  Wêreld  |  Menings  |  Politiek  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.