Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dr. Rina Venter: NP ‘versaak SA’ in oorgang
Rina Venter, die eerste en laaste vrou wat voor 1994 in ’n Suid-Afrikaanse kabinet gedien het.Foto’s: LISA HNATOWICZ

Suid-Afrika sou vandag anders gelyk het as daar in die onderhandelingsfase meer gefokus is op duidelike en haalbare bestuursdoelwitte om ’n doeltreffende staatsdiens te verseker. Pleks daarvan is daar primêr gefokus op ’n nuwe grondwet.

Dít is die kruks van dr. Rina Venter (80) se boek, ’n Stukkie van die legkaart, waarin sy krities en met binnekennis terugkyk na die oorgangstyd in Suid-Afrika toe sy as minister van gesondheid in oudpres. FW de Klerk se kabinet ge­dien het. Die boek bied ook insig in haar ervaring as vrou in die politiek en haar loopbaan as maatskaplike werker.

“Dit was nie maklik om oop te maak nie, maar ek het ’n plig gehad om daaroor te praat, want ek was dáár,” sê Venter. Ons gesels in haar huis in ’n veiligheidskompleks in Pretoria, waar sy haar ná haar man, Hennie, se dood in 2001 gevestig het. Sy het juis in dié omgewing gekoop om nader aan haar kinders en kleinkinders te wees, maar een van haar seuns het kort daarna na Australië geëmigreer. “Só leef ons mos deesdae,” sê sy oor die Skype-kuiers met kinders en kleinkinders.

Sy’t haar nooit regtig vir vroueregte beywer nie, want sy het uit ’n omgewing gekom waar vroue dinge gedoen het sonder om eers toestemming te vra, sê Venter.
Alles wat jy tot dusver in jou lewe gedoen het, het jou voorberei vir hierdie oomblik.

Venter was president van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) toe sy in 1984 gevra is of sy benoem kan word as parlementslid. Sy’t raad by Hennie en haar pa, Dick, gevra. Haar pa het gesê: “Alles wat jy tot dusver in jou lewe gedoen het, het jou voorberei vir hierdie oomblik.” Haar man het gesê sy moet self besluit, solank sy hom nooit vir dié besluit verwyt nie. Toe sy die politiek kies, het hy gesê: “Ek weet nie hoe ek hiermee gaan saamleef nie.”

Hy was ’n mediese dokter en toe word sy minister van gesondheid, ’n situasie wat hy volgens haar “manmoedig” hanteer het. Die politiek het haar vir jare weggeneem van Hennie en hul seuns, Dick en Adriaan. In haar boek beskryf sy dit as ’n hoë prys om te betaal, “sonder sin, indien ek realisties oordeel waar Suid-Afrika vandag staan”.

Dit het haar 12 jaar geneem om die boek te skryf en hoewel hulle ’n goeie verhouding gehad het, is die verskille tussen haar en oudpres. FW de Klerk duidelik.

De Klerk is byvoorbeeld nie so in voeling met wat op grondvlak gebeur soos sy minister van gesondheid nie. Hy isoleer sommige lede van sy kabinet tydens die onderhandelingsproses en is blind vir die ANC se “Charteristiese aanslag” op die NP-regering. Iemand wat amper naïef glo alle probleme gaan met ’n nuwe grondwet opgelos word . . .

Tog was De Klerk die visioenêr wat geweet het wát gedoen moes word, hoewel hy “ontsteld” was toe Roelf Meyer dit uiteindelik as “meerderheidsregering” verwoord het.

Tog was De Klerk die visioenêr wat geweet het wát gedoen moes word, hoewel hy “ontsteld” was toe Roelf Meyer dit uiteindelik as “meerderheidsregering” verwoord het. Met sy regsagtergrond was die nuwe Grondwet vir De Klerk die antwoord op die meeste vrae.

Ná haar uittrede uit die politiek het Venter kursusse gedoen in Ikebana, koekversiering en naaldwerk. Sy het 12 jaar aan haar boek geskryf.

Venter, daarenteen, was duidelik gefrustreerd omdat daar nie meer detail beskikbaar was of praktiese planne gemaak is nie. Sy het verstaan wát gedoen moes word, maar het gedink te min aandag word gegee aan hóé dit gedoen moet word. As maatskaplike werker het sy geglo die land se probleme kon opgelos word deur eerstens maatskaplike probleme aan te pak.

Die ANC het in die oorgangstyd politiek op ’n héél ander vlak bedryf as die NP. Die NP het sy eie posisie volgens Venter verswak omdat die party die onderhandelingsproses wou bestuur én een van die partye in die onderhandeling was. Die ANC het begin met ’n omvattende plan om wit Suid-Afrikaners skuldig te laat voel oor álles, maar veral apartheid – tot op die punt dat mense sommer wou boedel oorgee.

“Dis ’n baie slim strategie wat jou integriteit aanval,” sê Venter. “Die NP het hard gewerk om apartheid af te skaf, maar die ANC het gemaak of ons aan apartheid vasklou.” Dit was ’n woordgeveg wat die NP net nie kón wen nie. “Ek is as maatskaplike werker opgelei om objektief te bly en empaties betrokke te raak. Jy laat nie toe dat jou emosies jou op loop neem nie,” sê Venter.

In die kabinet het sy telkens gewaarsku wanneer sy gevaarligte sien flikker. “Maar dan is daar gesê: ‘Rina gaan haal altyd die bobbejaan agter die bult . . .’ ”

Selfs met ’n doktorsgraad, sê Venter, is sy nie gesien as ’n “akademikus” nie. “Ek was maar die welsynsmeisie, die ‘do-gooder’ . . .

Hoekom is haar kundigheid – sy het ’n doktorsgraad in veranderingsbestuur – nie destyds beter aangewend nie?

Selfs met ’n doktorsgraad, sê Venter, is sy nie gesien as ’n “akademikus” nie. “Ek was maar die welsynsmeisie, die ‘do-gooder’ . . . Welsyn is beskou as ’n funksie van die staat. Hier is die siening oor welsyn: Jy moet ’n goeie hart hê en omgee vir die armes,” sê sy. Sy het wel haar kennis in die departement van gesondheid toegepas toe sy begin het om die 17 gesondheidsadministrasies – verskillende departemente op nasionale, provinsiale en streeksvlak en in tuislande vir verskillende rasgroepe – te rasionaliseer. Dit was maar een voorbeeld van “die hele apartheidsduplisering van dienste”.

Sy was vol vertroue dat hierdie proses gefinaliseer sou word.

Maar toe 27 April 1994 aangekondig word as ’n verkiesingsdatum en daar is steeds nie duidelikheid hóé die oorgang prakties gaan werk nie, “toe weet ek ek het nie meer invloed nie”.

Nadat die ANC oorgeneem het, is talle senior staatsamptenare wat van kritieke belang was in die bestuur van die land, amper oornag afgedank. Venter skryf dit toe aan die swak ooreenkoms oor regstellende aksie wat bereik is. As sy vandag “sien hoe die land in duie stort”, dink sy terug aan die geleenthede wat daar was. Dit stem haar “opgebruik en moedeloos”.

“Wat ons gedoen het, was nie goed genoeg nie,” sê sy.

Of, soos sy dit in die slotwoorde van haar boek verwoord: “Suid-Afrika is geplaas op ’n glybaan na verval.”

Die eerste keer toe Venter teen gesag opgestaan het, was ’n keerpunt in haar lewe.

Die eerste keer toe Venter teen gesag opgestaan het, was ’n keerpunt in haar lewe. In 1961 het haar predikant, ds. Johannes Wannenburg, haar ontbied en opdrag gegee om alle NG lidmate wat by die SAVF-kantoor aanmeld vir maatskaplike hulp, na die NG kerkkantoor te verwys. Sy snap gou die kerk het sy oog op die staatsubsidie . . . Haar pa se raad het by haar opgekom: “Jy is nooit ’n slaaf van denke nie. Dink vir jouself.” Venter het haar man gestaan. Met die wegry, sê sy, het haar voet op die pedaal gebewe, “maar ek het vreeslik goed gevoel”.

Venter het as jong maatskaplike werker vir die eerste keer met die harde werklikheid van politiek te doen gekry toe sy kinders uit hul ouerhuis moes verwyder omdat hulle donker van gelaat was. Apartheid het nie geduld dat wit ouers bruin kinders grootmaak nie . . .

“Ek was maar drie maande in die pos, vol ywer en entoesiasme. Jy gaan nou mense help . . . Dis ’n gesonde naïwiteit.” En toe word sy na ’n skool ontbied om ’n bruin kind uit ’n wit ouerhuis te verwyder.

“Ek het nie gedink dis deel van my werk om dié goed te doen nie. Die Kinderwet het my toegelaat om sorgbehoewende kinders te verwyder, maar toe besef ek hier is ander kriteria ter sprake. Skielik tref dit my: Dis apartheid in sy volle wese.

“Toe val my hele appelkar om . . . Dit gaan nie meer oor die beginsels van maatskaplike werk nie, maar oor ’n politieke stelsel met ander waardes . . . Jy is nooit weer dieselfde mens daarna nie. Jy kan nie wees nie.”

  • Van Eeden is ’n vryskutjoernalis.
Meer oor:  Rina Venter  |  Politiek  |  Np  |  'N Stukkie Van Die Legkaart  |  Apartheid  |  Oorgang  |  Oudminister
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.