Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nukkerigheid is tot niemand se voordeel nie

Maandag bel ek ’n vriendin om haar en haar man ’n goeie langpadreis en ’n geluksalige twee weke in die Krugerwildtuin toe te wens. 

Annelie Botes

Hulle moet dit indrink om te herspeel in die dae wanneer hulle op die ouetehuisstoep sit. “As my man net nie weer, soos altyd, beneuk en buierig is nie,” antwoord sy. Ek probeer dit wegpraat, maar haar sluise gaan oop. 

Dis sy ou laai, vertel sy, om op die langpad en tydens vakansietye opgeblaas te wees. Toe hulle twee jaar gelede deur Namibië toer tot in Walvisbaai, het hy dae aaneen nie met haar gepraat nie. Stug voor die televisie gesit en fout gevind met alles. En dít omdat sy hand taai was. 

By hul oorslaapplek in Mariental het sy padkos gemaak, onder meer sy gunsteling, kaas-en-appelkooskonfyt-toebroodjies. 

Toe hulle naby Rehoboth in die ry eet, drup die appelkooskonfyt op sy hand. Pleks hy stop en dit afwas uit die waterbottel, kies hy om ’n oorlog te voer. 

Hy slaan met sy taai hand teen die stuurwiel en kryt haar uit omdat daar nie ’n nat vadoek is nie. Sy sit opgekrimp en luister hoe hy tot in Walvisbaai tekere gaan oor slaggate, die son wat sy gesig brand, insekderms teen die voorruit. Dit help nie sy probeer die situasie ontlont nie; hy stoom voort. 

Van die tien dae in Walvisbaai kon sy geen goeie dag in haar herinneringsboek opskryf nie. As die brood nie suur smaak nie, is die biltong te nat of die bedlampie te dof of die wind waai hom uit sy verstand uit. 

Sleggehumeurde dikbekkigheid is ’n afstampende karaktertrek. Dis ’n aanduiding dat die persoon emosioneel nooit volwasse geword het nie. Ons almal verloor soms ons humeur of loop met bolkieste rond. Maar om jou kwasterigheid te misbruik om die mense naaste aan jou te beheer, is vrotsige emosionele verrinnewering.

Niemand wis wanneer en waaroor die persoon gaan uitbars en die hooimied aan die brand steek nie. Almal loop heeltyd op eiers. Niemand lag spontaan of korswel nie. Want netnou . . . 

Al voel die hart nie daarna nie, lag, gesels en hê erbarming waar moontlik. Probéér die ander party gelukkig maak.

Jare gelede het ek en die gryse kontrak gemaak om nóóit in die motor of op die langpad te baklei nie. Want niemand kan ontsnap nie. Ons mág ook nie baklei terwyl ons met vakansie is nie. Want ons het lank gespaar en uitgesien daarna. Bowendien is ons op vreemde terrein en normale gemaksones en vangnette is afwesig. 

Al voel die hart nie daarna nie, lag, gesels en hê erbarming waar moontlik. Probéér die ander party gelukkig maak. 

Dis nie vals nie, dis ’n teken van sterk karakter en goeie opvoeding. Anders sal jy noodwendig eendag ’n suurgesig-oumens wees daar op die ouetehuisstoep. 

Die skrywer Marty Rubin het gesê: “Freedom is the ability to instantly transform a bad mood into a good one.” 

Ek het my vriendin belowe ek sal elke oggend vir haar ’n teekersie op die klavier aansteek. En sommer een vir haar onbeskofte dikbekman ook. 

Meer oor:  Annelie Botes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.