Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nuusmakers wat wel ’n groot verskil maak

Dit is nie noodwendig dat groot nuusmakers wel ’n groot of positiewe verskil maak nie. En meermale is hulle om die verkeerde redes in die nuus.

Dit was ook nie seker, toe ons met die kortlys gaan sit het, dat Beeld se Persoon van die Jaar vir 2019 – die titel vir ons nuusmaker – om positiewe redes aangewys sou word nie.

Barnard Beukman

Groot nuusmakers op die Suid-Afrikaanse toneel vanjaar sluit in adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, en al haar omstrede verslae en hofsake. Moontlik Mmusi Maimane of Helen Zille – die een skielik uit, die ander weer in.

Wat van pres. Cyril Rama­phosa, wat die ANC tot ’n verkiesingsoorwinning gelei het, maar met ’n skynbaar slakkepas vorder om sy agenda deurgevoer te kry. Ministers Tito Mboweni en Pravin Gordhan was ook telkens in die nuus. Of Elana Barkhuizen, die onderwyseres aan die Laerskool Schweizer-Reneke in Noordwes. Sommige sou Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, ook op die lys plaas, wat nog heelwat langer is.

Tog was daar uiteindelik hier om die nuuskonferensietafel konsensus dat niks die nuus­impak klop van die Springbokke wat die Wêreldbeker-rugbytoernooi gewen het nie.

Vandaar Beeld se Persone van 2019: Rassie Erasmus, Siya Kolisi­ en die Springbok-span.

In die twee jaar wat rugby se belangrikste toernooi in Japan voorafgegaan het, het die All Blacks, Engeland, Ierland en Wallis dié sport se internasionale ranglys oorheers.

Erasmus se beplanning, voorbereiding en taktiek op die veld was wel beter. En sy hele span het by die soms moordende plan ingekoop. Met onkonvensionele taktiek het hulle in die eerste plek nuus op die veld gemaak.

Daarna het hulle die Webb Ellis­-trofee gewen en die land soos ’n orkaan getref. Op bl. 2 en bl. 3 van By gee Gert van der Westhuizen sy vertolking van die gebeure.

Hopelik gaan die uiteinde wel ’n positiewe storie van uitkoms en oorlewing word en dra ons erkenning ’n greintjie by tot nuwe moed vir almal wat regstreeks daardeur geraak word.

Kolisi was nie net by verstek die kaptein wat die beker omhoog gehou het nie. Hy moes die geweldige druk en aandag as “eerste swart kaptein” deurstaan. En van ’n ernstige knie­besering herstel, met sy peil op die veld heeltyd onder die vergrootglas.

Maar hy het meer as sy kant gebring en naas die 61 duikslae van Pieter-Steph du Toi­t, Internasionale Speler van die Jaar, was Kolisi die Springbok met die tweede meeste in die toernooi op 57.

Vroeg vanjaar moes hy ook heelwat kritiek verduur toe hy in ’n onderhoud gesê het Nelson Mandela sou teen sportkwotas gekant gewees het en hy self wil op meriete eerder as velkleur gekies word.

Betekenisvol was die refrein van reaksie uit swart geledere, ook van kommentators en ontleders, dat die oorwinning ’n bewys is van wat ons kan regkry as ons saamspan – álle Suid-Afrikaners. Erasmus is as ’n “onwaarskynlike held” geloof.

Vir 2019 het ons bepaald nuusmakers aangewys wat ’n verskil maak.

Vir die Suid-Afrikaanse Storie van 2019 is die lys moontlikhede ook lank. Die drama in Suid-Afrikaanse krieket en Eskom is sterk aanspraakmakers, so ook die SAL, die Zondo-kommissie, die DA-drama, die verkiesing, die aanwysing van etlike misdadigers as voorsitters van portefeuljekomitees in die parlement, probleme met die Vaal­rivier, water en vele meer.

Hoewel nie altyd so sigbaar in stede nie, is die droogte in groot dele van die land en die uitwerking daarvan op veral die landbou ons keuse vir 2019. Dit is ongelukkig ’n negatiewe storie, ook met groot menslike impak.

Hopelik gaan die uiteinde wel ’n positiewe storie van uitkoms en oorlewing word en dra ons erkenning ’n greintjie by tot nuwe moed vir almal wat regstreeks daardeur geraak word.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Nuus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.