Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nuwe Bybel is g’n ‘papierpous’
Prof. Anton van Niekerk

Eersdaags word ’n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling in gebruik geneem. Dis ’n enorme prestasie.

Terwyl die eerste Afrikaanse Bybel in 1933 vertaal is deur nie meer nie as tien mansteoloë, was daar dié keer nie minder nie as 142 mense betrokke – onder wie (vir die eerste keer) ’n hele aantal vroue. Dis ook die eerste keer dat alle­ kerke wat die Afrikaanse vertaling gebruik, saamwerk. Dit het 15 jaar geduur en ’n taamlik komplekse metode is gevolg, met talle komitees en kruis-kontroles.

Dit is nie ’n letterlike vertaling van die Bybel nie, maar ook nie so gevul met “vryer” interpretasies soos die 1983-vertaling nie. Dit beweeg doelbewus nader aan die Hebreeuse en die Griekse brontekste. Daar is talle toeligtings en verduidelikings in voetnote. Dit is asof die vertalers die lesers baie meer in hul vertroue neem oor die dele waar die bronteks onduidelik of gekorrupteer is, of waar dit nie duidelik is of ’n teksdeel wel deel van die bronteks uitmaak nie, soos die afsluitende lofprysing van die “Onse Vader”.

Prof. Bernard Combrinck, projekleier van hierdie duiselingwekkende onderneming, en sy span moet van harte gelukgewens word met die prestasie. Terselfdertyd, as ’n mens die deeglikheid en omvang van alles onder oë kry, duik die vraag opnuut op: Wat is die Bybel en waarom is dit so belangrik?

Die wêreldletterkunde is onvoorstelbaar sonder al die Bybelse verwysings wat daarin voorkom. Dink byvoorbeeld net aan Thomas Mann se herskryf van die Josef-geskiedenis in sy bekendste roman. Vir Christene is die Bybel veel meer as ’n noodsaaklike bron van literêre verwysings, maar die versameling van gesaghebbende getuienisse oor wat die Nederlandse teoloog Herman Bavinck die “magnalia Dei” (die groot dade­ van God) noem.

Beteken dit dat Christene mekaar voortaan makliker sal vind noudat ons ’n beter gefundeerde teks lees? Ongelukkig nie.

Die Bybel kom op uit die belydenis dat God beslissend gehandel het in die geskiedenis en dat ons Hom kan ken op sterkte van daardie geopenbaarde handelinge. Hulle is opgeskryf oor ’n tydperk van byna 1 000 jaar deur gewone mense wat ook foute kon maak (en gemaak het!). Die nieverhalende dele van die Bybel is profetiese, apokaliptiese, asook (soos in die Psalms en Job) poëtiese toeligtings van hierdie “groot dade­”.

Christene bely die gesag van die Bybel op grond van die oortuiging dat God Self die kerk gelei het om na aan die begin van ons jaartelling die 66 kanonieke boeke – grootliks soos ons dit vandag steeds het – as die geopenbaarde Heilige Skrif van die Christendom te aanvaar.

Nou lê daar ’n nuwe vertaling van hierdie oeroue en vir vele mense absoluut gesaghebbende teks voor ons. Beteken dit dat Christene mekaar voortaan makliker sal vind noudat ons ’n beter gefundeerde teks lees? Ongelukkig nie.

Die teks “praat nie vanself” met ons nie. Die Bybel is nie, soos Karl Barth gesê het, ’n “papierpous” wat, asof in orakels, ondubbelsinnig betekenisvolle uitsprake maak nie. Die Bybel moet gelees en geïnterpreteer word. Daardie interpretasies word beslissend beïnvloed, nie slegs deur die (selfs pragtig nuut vertaalde) teks nie, maar deur die historiese belewenisse en waarderaamwerk van elke tyd se lesers van die Bybel.

Dit beteken ongelukkig nie alles is skielik glashelder nie. In die 1980’s is sowel die NG Kerk se “Kerk en Samelewing” as die VGK se Belhar-belydenis albei hartstogtelik deur hierdie kerke op die Bybel gegrond.

Genadiglik skei historiese ervarings en verwikkelinge wel uiteindelik die waarheid van die leuen. Dit kom wel nie maklik nie.

Die Bybel het baie antwoorde, maar ons soeke na daardie antwoorde roep eweneens baie en nuwe vrae op.

  • Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Vertaling  |  Godsdiens  |  Bybel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.