Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nuwe jaar, maar selfde probleme
Henry Jeffreys

Ons het die nuwe jaar en die nuwe dekade betree met dieselfde kopsere van die jaar en dekade wat ons pas gegroet het, en Suid-Afrikaners het min rede tot optimisme oor die toekoms. En pres. Cyril Ramaphosa se Nuwejaarsboodskap het min gedoen om dié nasionale luim op te helder.

Inteendeel, dit het net die neerslagtigheid verdiep. Ons moet dus die lendene omgord, want die aanduidings is dat dinge nog baie slegter sal gaan voordat dit verbeter.

In die onmiddellike toekoms het Ramaphosa twee belangrike geleenthede om die land te inspireer.

Hierdie naweek spreek hy die ANC se jaarlikse 8 Januarie-vieringe in Kimberley toe. Die byeenkoms sal ’n geleentheid wees om reguit met die party se lidmaatskap te praat oor die rigting vorentoe – vir sowel die party as die land. Moet egter nie die asem ophou dat hy die harde werklikhede wat die ANC in die gesig staar, sal ophaal nie.

’n Mens wil simpatie hê met die president wat soveel belofte getoon het toe hy verlede jaar die leierskap van die ANC oorgeneem het. Baie van die hoop wat hy gebring het, het intussen weggesyfer in die sand van politieke dienstigheid en die behoefte om in die politiek te oorleef.

’n Mens wil simpatie hê met die president wat soveel belofte getoon het toe hy verlede jaar die leierskap van die ANC oorgeneem het.

Ramaphosa bly omring deur hardnekkige oorblyfsels van die Jacob Zuma-era, en die ANC bly in die greep van leiers soos die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule, wat die land sien as iets om bates van te stroop om hulself te verryk.

Ramaphosa is goed bewus daarvan dat Zuma se kornuite nie sal huiwer om hom uit die kussings te lig nie, soos wat hulle in 2009 met oudpes. Thabo Mbeki gedoen het. Dit is die swaard van Damokles wat oor hom hang.

Die tweede geleentheid vir Ramaphosa om sy stempel af te druk, is op 13 Februarie wanneer hy die staatsrede voor ’n gesamentlike sitting van die parlement lewer. Weer eens moet daar nie te veel verwag word nie. Die staatsrede is gewoonlik ’n voorspel tot die begrotingsrede en sal waarskynlik grotendeels op ekonomiese kwessies fokus.

Suid-Afrika is in ’n ongekende ekonomiese krisis, met weinig tekens van verligting. Die nuwe jaar en dekade het begin met nog ’n ronde beurtkrag deur Eskom, die gewas aan die hart van die land se ekonomiese krisis.

Die ongemaklike waarheid is terwyl die ANC aan die bewind is, is Suid-Afrika se kanse op herstel so te sê nul.

Die naweek se beurtkrag was wel kortstondig, maar dit is ’n aanduiding van wat vir die res van die jaar op huishoudings en sakeondernemings wag.

Die ongemaklike waarheid is terwyl die ANC aan die bewind is, is Suid-Afrika se kanse op herstel so te sê nul. Dit is tyd dat die party dit hoor. Maar vir Ramaphosa om dit te doen, sal politieke selfmoord wees.

Ramaphosa se weifelende geaardheid kan ook vanjaar die aansienlike welwillendheid wat hy onder gewone Suid-Afrikaners geniet, ondermyn. Sy gewildheid is wel ’n potensiële wapen wat hy gerus kan inspan teen die konkelaars in die ANC.

Suid-Afrikaners is maar alte bewus van die ANC se aptyt vir onverskilligheid en roekeloosheid. Hulle sal die president baie dinge vergewe, maar nie dat hy net omrol en gaan lê teen sy ANC-teisteraars nie.

Die ANC het die Mbeki-opsie ondersteun juis omdat die voormalige president so ongewild was. Dit is nie dieselfde met Ramaphosa nie – hy word nie beskou as verhewe en selfs arrogant nie. Ramaphosa is baie meer “die mense se president” as wat Mbeki was.

Hy en sy raadgewers moet hard dink oor hoe hulle sy algemene gewildheid tot sy voordeel kan aanwend teen sy kritici in die ANC se hardebaard-geledere. Doen hulle dit nie, is dit nag vir Ramaphosa en ook vir Suid-Afrika in hierdie blinknuwe jaar en dekade.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Nuwe Jaar  |  Korrupsie  |  Presidensie  |  Staatskaping  |  Beurtkrag  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.