Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nuwe kabinet se werk uitgeknip

Pres. Cyril Ramaphosa se hand was toe nie heeltemal so vry met die samestelling van sy kabinet as wat hy sou gehoop het nie.

In die aanloop tot die aankondiging was die verwagting sterk dat adj.pres. David Mabuza nie in die nuwe kabinet sou wees nie. Dit het te doen gehad met vrae wat die ANC se integriteits­komi­tee oor hom gehad het. Dit blyk egter dat Mabuza die komitee oortuig het van sy geskiktheid – en Ramaphosa dus nie veel van ’n keuse gehad het as om hom weer as sy adjunk aan te stel nie.

Dit was slim politiek aan Mabuza se kant, wat klaarblyklik sy baas onkant betrap het. Ramaphosa is nou opgesaal met ’n adjunk wat met allerlei verdagte bagasie sy plek om die tafel sal inneem.

Die groot verrassing was die aanstelling van Patricia de Lille. Heel voorspelbaar is daar in DA-geledere gebrom dat haar aanstelling vergoeding was vir pro-ANC-optrede terwyl sy nog deel van die blou party was.

Haar aanstelling is omtrent net uit DA-geledere gekritiseer – dit lyk al te veel na ’n geval van suur druiwe.

Ramaphosa het nou ’n kabinet wat grootliks van vermeende staatskapers en onderpresteerders gestroop is. Dit spreek van ’n president wat sy selfvertroue herwin het en gereed is om die “nuwe daeraad” te lewer.

Die behoud van Tito Mboweni as finansminister en Pravin Gordhan as minister van openbare ondernemings was ook wys en selfs dapper. Veral in die geval van Gordhan, wat in die vyandige visier van die openbare beskermer is.

Die EFF is ook histeries oor Gordhan se aanstelling en dreig om Ramaphosa in die parlement daaroor hel te gee. En met baie meer EFF-LP’s in die Nasionale Vergadering beloof dit ’n tydperk van onverkwiklikheid vir die president.

Die EFF is ook histeries oor Gordhan se aanstelling en dreig om Ramaphosa in die parlement daaroor hel te gee.

Ramaphosa het egter sy besluite met die gepaardgaande beperkinge en al geneem en moet nou met sy nuwe kabinet werk daarvan maak om sy verkiesingsbeloftes na te kom. Dit sal allesbehalwe maklik wees – veral met Ace Magashule in Luthuli-huis en Mabuza neffens hom in die Uniegebou.

Die doenlysie is lank en ingewikkeld. Dit moet egter sonder versuim deur die nuwe span aangepak word.

Heel bo aan die lysie is om ekonomiese groei en werkskepping aan die gang te kry. Mboweni en die nuwe minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, sal moet spring om ’n sinvolle en uitvoerbare beleid in plek te kry.

Hulle kan sterk teenkanting in die parlement van veral die EFF verwag, en in die strate van die vakbonde en allerlei linkse formasies.

Ramaphosa sal na verwagting die rigting aandui en sy ministers sal daarna ná Mboweni se tweede begrotingsrede vanjaar beslag daaraan moet gee.

Ramaphosa se besluit om Zweli Mkhize as nuwe minister van gesondheid aan te stel het ook ’n wenkbrou of twee gelig. Soos sy voorganger is Mkhize ook ’n opgeleide geneesheer.

Hy het by sy voorganger die nasionale gesondheidsversekeringplan geërf, een van die regering se mees ambisieuse beleidsvoornemens, wat daarop gerig is om gratis mediese sorg aan alle Suid-Afrikaners te bied. Dit is ontsettend duur en word in baie kringe as onbekostigbaar beskou.

Die ander area van belang is onderwys, en hier was Ramaphosa se verskuiwing van Naledi Pandor van hoër onderwys na internasionale betrekkinge en samewerking ’n verrassing én ’n teleurstelling. Sy was uitstekend in haar vorige portefeulje.

Daar is dus geen tekort aan uitdagings en prioriteite vir die nuwe uitvoerende gesag nie.

Ramaphosa en sy span sal gewis die druk voel om suksesvol te regeer te midde van ’n tekort aan hulpbronne en kundigheid en ’n oormaat van kompleksiteite en moontlike struikelblokke.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.