Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons wêreld
Nuwe lewe ná die virus vir die stad, die dorp en buurt

Die korona-grendeltyd het een onverwagse gevolg gehad: Jy het waarskynlik meer bekendes raakgeloop as in enige ander tyd die afgelope paar jaar – en meestal gedurende die oefentyd soggens.

Tussen ses en nege het die strate weer aan voetgangers behoort. Waar jy kyk, was daar stappers, drawwers, stootwaentjies, fietse en honde.

Oral het mense mekaar gegroet (en skelm staan en gesels), en so het die virus binne ’n maand reggekry dít wat stadsbeplanners wêreldwyd al jare lank met groot projekte probeer vermag: om ’n ouwêreldse dorpsatmos­feer te skep waar mense kan voel hulle is deel van ’n gemeenskap.

Bun Booyens
Bun Booyens

Party stede het hulself in die grendeltyd as ’t ware herontdek. Milaan, Italië, het byvoorbeeld pas besluit om 60 km van sy strate permanent vir motors te sluit en tot fiets- en voetgangersones te verklaar.

Melbourne, Australië, wil honderde parkeerplekke in fietsbane te omskep. Ander stede wil ook nou “stadige” strate hê en maak sypaadjies breër en paaie nouer, met die snelheidsperk so laag as 20 km/h.

Detroit, Amerika, immer sukkelend, is reeds ’n paar jaar besig met ’n koop-en-sloop-projek. Amper 40 000 vervalle geboue word platgeslaan om ’n “stedelike plaas” vir sy inwoners te skep.

Sulke planne hoef egter nie groot te wees nie. ’n Dekade of drie gelede het min dorpe in die Boland straatkafees gehad. Eers nadat mense begin uitwys het hoe Franschhoek se sypaadjiekultuur floreer, het ander dorpe hul regulasies verslap. Vandag is daar talle woelige straatkafees in talle dorpe, sonder dat dit nodig was om nuwe infrastruktuur te skep. Die munisipaliteite moes eintlik maar net ’n tree terugstaan.

As ons iets goeds uit die grendeltyd kan neem, dan is dit ’n besef van hoe baie jou onmiddellike leefwêreld tot jou lewensgenot kan bydra – of, in arm buurte, tot jou frustrasies en woede.

Talle stede moedig deesdae hul inwoners aan om daktuine aan te lê sodat hulle kontak met die natuur kan behou. Washington DC, Amerika, gee belastingkorting aan mense wat die regte soort bome op aangewese plekke aanplant. Ander stede ken erfenisstatus toe aan bome met ’n stamomtrek van meer as 220 cm om te keer dat dit afgekap word.

Onlangs is daar selfs ’n opskietwoud in New York, Amerika, se bedrywige Times Square aangebring – “akupunktuur vir stedelinge”, luidens een berig.

Voor die virus was dit reeds opvallend hoeveel opskietprojekte ’n mens begin sien het, soos langtafel-etes in ’n afgesperde straat.

By een van ons dorp se skole was daar die afgelope paar jaar soggens ’n mobiele koffiestalletjie in ’n toek-toek buite die hoofhek. Dit is onlangs vervang met ’n koffiewinkel in twee vraghouers net binne die hek, en dit het ’n plek geword waar ouers, kinders en onderwysers mekaar raakloop en kan gesels. Die struktuur kan maklik verskuif word, sou omstandighede verander.

Die inperkingtyd was vernietigend vir talle besighede en dit gaan jare neem om die skade te herstel, maar dit lyk tog of mense ’n sterker dorpservaring van ouds beleef het. Hulle het mekaar herken en gegroet.

As ons iets goeds uit die grendeltyd kan neem, dan is dit ’n besef van hoe baie jou onmiddellike leefwêreld tot jou lewensgenot kan bydra – of, in arm buurte, tot jou frustrasies en woede.

Hopelik word vlak 1 ’n tyd van vars planne vir ons buurte, dorpe en stede.

  • Booyens is ’n vryskutskrywer.
Meer oor:  Grendeltyd  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.