Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nuwe lig ná jare gewerp op die Illuminati

In ’n trommel vol ou dokumente en foto’s kom ek af op ’n blou pamfletagtige boekie waarvan ek so half van vergeet het: Die Illuminati-CFR-komplot, uitgegee deur die Christelike Kultuuraksie, Posbus 652, Pretoria. In 1975.

Dana Snyman

Dit was my oorlede pa se boekie. Waar hy dit gekry het, weet ek nie. Op die eerste paar bladsye het hy name en sinne onderstreep. Die boekie was al die jare op sy boekrak.

Een van die name wat Pa onderstreep het, is dié van Nathan Rothschild, een van Amerika se Rothschild-familie. Die Roths­childs het glo die Illuminati in die 1700’s tot stand gebring saam met Adam Weishaupt, ’n Rooms-Katolieke priester. Dit gaan oor ’n eenwêreldregering, die Antichris en die Bybelse eindtyd.

Die Vrymesselaars en Kommuniste is volgens die skrywer van die boekie, Myron C. Fagan, glo ook by hierdie duiwelse komplot betrokke. Ook die liberaliste. “Dit klink so onskuldig en humanitêr om ’n liberalis te wees,” staan op die eerste bladsy. “Maak egter seker dat iemand wat as ’n liberalis bekend staan, nie in werklikheid ’n rooi Kommunis is nie.” Party mense sal sê dis steeds só.

Dit lyk of Pa die boekie net tot op bladsy 14 gelees het, want ná bladsy 14 is niks meer onderstreep nie. Ek het ook die boekie destyds probeer lees, maar het weinig daarvan verstaan. Ek het net geweet ek behoort bang te wees oor alles wat daar geskryf is, iewers is magtige mense wat my wil beheer en ons land wil vat. Dit moet in 1980 gewees het, die jaar toe ek in matriek was.

In die jeugweerbaarheidklas het die onderwysers met ons oor die Illuminati gesels. Iemand het gesê op Warmbad is baie Vrymesselaars. ’n Ander een het gesê hy weet waar hulle bymekaarkom.

Iemand het gesê op Warmbad is baie Vrymesselaars.

Dit was ’n skok om te hoor die Illuminati, met behulp van die Vrymesselaars, is op ons buurdorp doenig. Die vyand is in ons midde. Een aand in daardie jaar het ’n paar van ons latte uit die koshuis geglip. Ons is saam met WP Burger in sy Ford-paneelwa Warmbad toe waar ons ’n aanval geloods het op wat ons gedink het is die Vrymesselaars se vergaderplek. Eintlik het ons net ’n paar van die plek se ruite met klippe uitgegooi en toe weer weggejaag.

Dis vreemd om nou deur die boekie te blaai. “Die Iluminati se plan is om bestaande regerings en godsdienste te vernietig. Mense moet meer en meer in opponerende kampe verdeel word oor godsdienstige, ekonomiese, maatskaplike en ander sake, presies soos wat vandag in ons land die geval is en oral in die wêreld,” staan op bladsy 3. Dit lyk dus of dit tóé al die eindtyd was. Dié wat aan allerhande samesweringsteorieë glo, sê steeds dieselfde dinge.

’n Rukkie gelede het ek op my eie spore in die Bosveld teruggery. Op Warmbad, wat nou Bela-Bela is, was ek weer by daardie geboutjie wat ons daardie nag 40 jaar gelede aangeval het, vol blinde jongmensdrif en eiegeregtigheid. Die ruite is intussen vervang, maar die geboutjie is steeds wat dit destyds was: ’n plek waarin Eskom se transformators is, wat help met die dorp se elektrisiteitstoevoer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.