Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nuwe normaal: Versigtig wees, maar nie bang
Annelie Botes

Saterdagoggend het ek hier in die Baai ’n jollifikasie beleef soos lanklaas. Tydens ’n kermisagtige boekbekendstelling op die grasperk agter die Grand Hotel in Sentraal. Eens ’n pronkbuurt versier met statige geboue uit ’n vervloë era.

Die geleentheid het gespil rondom die bewusmaking van Care Haven, een van die Oos-Kaap se oudste psigiatriese institute. Omdat Care Haven skuins oorkant die Grand Hotel geleë is, kon die pasiënte ook die boekkermis bywoon, met hulle eie kunskraampie onder ’n gazebo.

Om ’n opbondeling van mense te vermy, is ’n feestelike buitelug-atmosfeer geskep waar besoekers vanaf 10:00 kon inhop en uithop soos dit hulle pas.

Die vermaarde prof. Albert Troskie en wêreldaangeskrewe pianis en violis Erika Bothma het goedgeefslik ’n span musikante byeengehark. Onder die klanke van tjello, viool, fluit en Langpiet se konsertina, met die blou-blou see in die verte, kon die skare gesels, by buitetafels sit met koue wyn, by die kuns- en boekkraampies snuffel en hoenderrolle eet teen R10.

Kinders én grootmense en laggende pasiënte het seepborrels geblaas terwyl hulle luister na Boccherini se “Minuet” en saamsing met “Ek soek na my Dina”. En hulle verlustig in ouer garde wat impromptu volkspelepassies doen op die gras.

Haar maskerlose gesig lag breed terwyl sy ’n glasie lig en saamsing met “Bobbejaan klim die berg”.

Vir ’n kort tydgleuf het inperking en die koronavirus nie op mense ingespeel nie. Ek het ’n foto geneem van ’n terneergedrukte vrou wie se bejaarde, blinde swaer onlangs in sy plaaswinkel by Alexandria vermoor is. Haar maskerlose gesig lag breed terwyl sy ’n glasie lig en saamsing met “Bobbejaan klim die berg”.

Terwyl ek oor die opgewekte skare kyk, het ’n knop in my keel kom sit. Want ek het geweet daar is eenkantmense wat vir die eerste keer in maande sosiaal tussen ander mense kom. Uitgehonger vir normaliteit. Naarstig smag na samesyn. Tot daartoe was hulle te bang om te waag. Maar in die lenteson op die Grand Hotel se grasperk, op die wysie van “Jan Pierewiet”, het hulle gemoed ’n grens oorgesteek.

Soos een vrou gesê het: “Vanoggend het ek nuwe moed gekry. Vanoggend is die beste ding wat nog vanjaar met my gebeur het.” ’n Manlike pasiënt het ernstig kom vra: “Kan Mevrou binne ’n maand nóg ’n boek skryf? Dan kom ek weer, en ek gaan van my Sassa-geld spaar vir vier hoenderrolle.”

Ons praat van “die nuwe normaal”. Maar hermietskap is ver van die mens se ingebore trop­instink. Ons móét versigtig wees. Maar ons moet ophou om báng te wees. Aanhoudende bangwees is ’n skadelike toestand.

In Jesaja 41:10 sê die profeet: “Moenie bang en bekommerd wees nie; Ek is by jou.”

In vers 8:15 sê die Prediker: “Daar is niks beter vir die mens in hierdie wêreld nie, as dat hy eet en drink en vrolik is onder al sy geswoeg.”

Soek ’n lappie gras om in die son te dans. En sing “Aanstap rooies” uit jou bors.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Koronavirus  |  Vrees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.