Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nuwe politici, ou probleme, nuwe woorde
Bun Booyens

Politieke modewoorde kom en gaan. Twintig jaar gelede, toe Thabo Mbeki president geword het, het ’n paar dosyn nuwe gonswoorde binne enkele maande in parlementêre debatte begin opduik.

Op die persgalery kon jy tydens vervelige toesprake “krieket” speel met die sprekers se modewoorde: een lopie vir “project” en “sustainable”, twee vir “integrated” en “co-ordinated”, drie vir “non-racial” en “non-sexist” (twee bylopies wanneer albei in een sin gebruik is), ’n vier vir “focus” en “target”, en dan ’n ses vir “urban and peri-urban areas”, of wanneer die skuld vir een of ander mislukking op ’n “third force” gepak is.

Dit was asof niks destyds as ’n roetinetaak deur die regering afgehandel kon word nie. Dit moes eers “unpack” word (twee lopies) en die status van ’n projek kry, verkieslik dan een met verskeie “key focus areas”.

Die Mbeki-era se gonswoorde het darem wel ’n duidelike tema gehad: Sy pogings om die ekonomie op dreef te kry en sy groot droom van ’n Afrika-renaissance.

Die Zuma-era se woorde was sonder ambisie, en eintlik bly maar net “Nkandla”, “fire pool” en “hê-hê-hê” oor. Buite die parlement was daar nog nooit ’n president wat so dikwels “buite konteks” aangehaal is nie; binne die parlement het die debat selde bo die vlak van “Order, honourable member! Order!” uitgestyg.

Die huidige arsenaal gonswoorde getuig van die spanning, wantroue en faksiegevegte binne die ANC, met “smeerveldtog” en “heksejag” wat opnuut gewild is.

Die huidige arsenaal gonswoorde getuig van die spanning, wantroue en faksiegevegte binne die ANC, met “smeerveldtog” en “heksejag” wat opnuut gewild is. Maak nie saak hoe onbeholpe of skelm ’n kader is nie, dis ander mense – dalk ’n derde mag? – wat hulle probeer beswadder.

Hiermee saam hoor jy deesdae dikwels ook die ongewone modewoord “political”. Kaders vee ernstige aantygings van die tafel af met ’n eenvoudige verweer: “It’s political”, asof korrupsie en selfverryking ver bo die politiek verhewe is.

So het Zuma pas getwiet dat hy “hartseer” is oor die korrupsieklagte teen “kameraad Zandile Gumede”, burgemeester van groter Durban. “Ek hoop nie dit is polities gemotiveer nie,” laat weet Nr. 1 (deesdae Beskuldigde nr. 1) via Twitter. Ook die hofsaak teen hom is glo “political”.

Wel, wat anders as “political” kan dit wees wanneer ’n professionele politikus weens professionele vergrype aangekla word?

Dan is daar die kwasi-akademiese “narrative” wat helaas ook tans veld wen. Ace Magashule kla byvoorbeeld oor die “narrative” wat die joernalis Pieter-Louis Myburgh in sy boek Gangster State skep oor wanbestuur en korrupsie in die Vrystaat. Ace mor ook oor die “media narra­tive” dat hy glo besig is om pres. Cyril Rama­phosa te ondergrawe.

Hoekom weerlê hy dan nie bloot hierdie aantygings nie? wonder ’n mens. Twee of drie stewige feite en – kaboem! – die hele “narratief” verander in fiksie. Maar daar is waarskynlik ’n derde mag aan die werk teen Ace. ’n Geïntegreerde, volhoubare, gekoördineerde smeerveldtog, raai ek. En, wie weet, selfs ’n totale aanslag.

Meer oor:  Bun Booyens  |  Politiek  |  Verkiesing 2019  |  Heksejag  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.