Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nuwe sêding kry lêplek in die volksmond

As jy my vra het Bheki Cele, die minister van polisie, dit op daardie onlangse imbizo in Newcastle reggekry om, wat die Engelse noem, to coin a phrase.

Dis nou toe hy ’n wit boer wat hom ’n vraag gevra het toegesnou het: “Who do you think you are!”

Ek kan ’n lang lys opstel van politici aan wie ek dit sou wou vra. Om verveling by lesers te voorkom, sal ek volstaan by die minister wat daarin geslaag het om die spoorweë uit ’n war room tot in die grond in te bedryf.

Maar ek het ’n sterk vermoede “Who do you think you are?” gaan nog ’n prettige nasionale sêding word wat enige plek gebruik kan word, ook in die slaapkamer. Toe ek byvoorbeeld my vrou, nadat sy vanoggend geweier het om op te staan en vir my ontbyt in die bed te bring, gevra het: “Who do you think you are?” het sy die glas koue water op die bedkassie op my kop omgekeer.

Toe ek my bankbestuurder dit toegesnou het, toe hy my oor die oorskryding van my oortrokke limiet aangepraat het, het hy dié reëling opgehef en my net ’n week tyd gegee om my skuld af te betaal.

Nadat my tandarts my meegedeel het dat ’n inplantaat vir ’n enkele voortand R35 000 sal kos, roep ek uit: “Who do you think you are!”

Nadat my dokter my opdrag gegee het om op te hou rook, vra ek: “Who do you think you are?” Hy bieg toe maar dat hy self nog nie daarin kom slaag om die rookgewoonte af te leer nie. Só het ons maar almal ons ou swakkigheidjies.

Nadat my tandarts my meegedeel het dat ’n inplantaat vir ’n enkele voortand R35 000 sal kos, roep ek uit: “Who do you think you are!” Hy vra my toe of ek die res van my lewe soos ’n baba verpulpte groente wil eet, of liewer ’n skaaptjop. Ek het dadelik my tjekboek uitgehaal.

Was ek daardie boer in Newcastle, sou ek nie ’n oomblik gehuiwer het nie. Ek sou daardie cowboy-minister vra: “Who do you think you are?” Dalk ou Gene Autry? Roy Rogers? Clint Eastwood? Oorlede Kirk Douglas in Gunfight at the O.K. Corral?

Ter versagting moet ek darem erken dat die minister uitstekende smaak in hoede het. Hy dra die mooiste hoede. Ek sidder om te dink wat dit hom kos. Ek hou self van ’n mooi hoed, maar kan dit nie meer bekostig nie. My laaste ingevoerde Italiaanse Borsalino, met ’n kleurvolle pouveertjie, het gekos wat jy nie te lank terug nie vir ’n Ford F100-bakkie betaal het.

My pa het my geleer om ’n hoed te dra. Sy gunstelinge was ’n Battersby vir alledaagse drag, ’n Stetson (nie die Amerikaanse cowboy-weergawe nie) en ’n statige Homburg vir Sondae se kerk. Dr. D.F. Malan het sy Homburg seëvierend omhoog gelig nadat die Nasionale Party in 1948 die algemene verkiesing gewen het. My ma het ’n foto daarvan geraam. Dit het vir jare bokant die hall stand met my pa se hoede in die gang van my ouerhuis gehang. Toe die huis ná sy dood en die ANC se oorname in 1994 opgeruim moes word, het sy gesê: “What was, was . . .” en dit in die asblik gegooi.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Woorde  |  Taal  |  Boer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.