Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nuwejaar se donkerte in met ’n flitslig

Dis ’n nuwe jaar, al voel niks nuut nie. ’n Mens is onseker van soveel dinge.

Wanneer gaan die Covid-19-virus nie meer daar wees nie? Hoeveel sterftes gaan daar nóg wees? Wat gaan ek doen as ek skielik ’n droë hoesie het, en ’n hoofpyn, en swaar begin asemhaal? Gaan daar vir my ’n bed in die hospitaal wees?

Hoe lank gaan ek nog ’n simpel masker moet dra wanneer ek uit die huis uit gaan? Help dit regtig dat die virus nie versprei nie? Of moet ek soos daardie popsanger met die retro-sammajoorsnor goed begin sê soos: “Viruses spread through particles of spit slower than authoritarianism does through mandatory masks.”

Dana Snyman

Is die virus nie dalk regtig in ’n laboratorium in China gekweek nie, alles deel van ’n fyn plan van die Chinese om die wêreld te oorheers? Het die entstof teen die virus nie werklik iets met die Bybelse 666 te doen nie?

Gaan ons korrupte politici en amptenare nie die meeste van die geld steel wat bedoel is vir die entstof wat ons nie gou gaan kry nie?

Gaan die NG Kerk werklik skeur? Wanneer gaan Jesus vir party predikante belangriker as die verordeninge in die Kerkorde word?

Hoe gaan die WP-rugby-unie ooit al sy skuld betaal kry? Hoe moet dit voel om Markus Jooste te wees? Of Ace Magashule? Of is hulle maar soos alle gieriges?

Gevoelloos.

Hoekom het ek op die oomblik meer vrae as antwoorde oor sekere belangrike sake? Nie dat daar ’n tekort aan mense is wat jou met hul antwoorde teister nie. Soos daardie pastoor van Kimberley wat op ’n droewige begrafnis waarop ek was – die vrou het haar eie lewe geneem – aan die einde van sy liefdelose preek gesê het as enigeen sy of haar hart vir die Here wil gee kan dié een gerus opstaan. Hy het nogal teleurgesteld gelyk toe niemand opstaan nie.

En dan is daar die ouens, manne met ’n besondere liefde vir hulself, wat iewers heen ry en hul boodskappe op hul selfone opneem en dit op Facebook plaas. Kaal, selfaangestelde keisers in Mahindra-bakkies wie se volgelinge brood soek, maar slegs klippe en woede kry. Alles is altyd die media se skuld, of die liberaliste, of almal wat nie soos hulle is nie.

Ek wil nie so liefdeloos raak soos ek nou is nie, maar al hoe meer mense wil hê jy moet glo wat hulle glo en doen wat hulle doen, en as jy nie wil nie, is jy soos een van die spotters wat gelag het toe die mitiese Noag sy ark gebou het.

Demmit, ek raak moeg daarvoor.

Dit is of daar al hoe minder respek is vir die individu, en gebrokenheid in hierdie gebroke land en wêreld. Word jy met ander se onsekerheid en swakheid gekonfronteer, só voel dit, word van jou verwag om Trumpagtig te sê: “You’re fired!”

Om in liefde saam met ander te probeer leef, nie net hulle wat soos jy is nie, voel soms soos om met ’n flits in die donker te stap. Help my asseblief daarmee, en laat ek nooit vergeet hierdie virus is werklik nie, mense gaan dood daaraan, ook ek kan, en ander ly. Amen.

Meer oor:  Dana Snyman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.