Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
NVG het nie die luukse van tyd

Die wiele van geregtigheid draai soms stadig, veral as dit kom by die vervolging van mense wat deel is van die politieke elite.

Tog het die voormalige minister van staatsveiligheid, Bongani Bongo, hom verlede week in die hof bevind op aanklagte van onder meer korrupsie en omkopery nadat hy glo op onbehoorlike wyse probeer inmeng het by ’n korrupsie-ondersoek by Eskom.

Bongo se hofverskyning sal verwelkom word deur burgers wat omgekrap is oor wydverspreide korrupsie in die openbare sektor en die oënskynlike traagheid van die owerhede om op te tree teen vermeende oortreders.

Die verwagting is dat nog vervolgings sal volg ná afloop van die Zondo-kommissie van ondersoek. Baie mense blyk egter gefrustreerd te wees met die kommissie se stadige vordering, en daar is toenemende kommer dat die kommissie nie veel sal oplewer nie.

Die aanstelling van adv. Shamila Batohi as direkteur van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het die hoop laat opvlam dat korrupsie uiteindelik betekenisvol getakel sal word. Die vervolging van Bongo kan dus as ’n wind van verandering in die stryd teen staatska­ping en korrupsie gesien word, veral ook teen die agtergrond van die optrede teen Zandile Gumede, die ANC se voormalige burgemeester van eThekwini.

Die publiek se frustrasie met die slakkepas van vervolging voortspruitend uit die Zondo-kommissie, is begryplik.

Sy is van haar pos onthef, ’n verwikkeling wat allerweë gesien is as ’n oorwinning vir pres. Cyril Ramaphosa en ’n gevoelige terugslag vir oudpres. Jacob Zuma se faksie in die ANC.

Batohi en haar span is hopelik reeds hard aan die werk om die verrigtinge van die Zondo-kommissie te bestudeer met die doel om vervolging in te stel teen diegene wat geïmpliseer is.

Die publiek se frustrasie met die slakkepas van vervolging voortspruitend uit die Zondo-kommissie, is begryplik.

Maar daar behoort ook begrip te wees vir Batohi se situasie. Sy het ’n verflenterde NVG geërf (juis weens staatska­ping) wat nie maklik reggeruk sal word nie. Nie net moet sy die NVG struktureel transformeer nie, maar ook die interne kultuur en etiek herstel. Sy moet nietemin voortdurend herinner word dat tyd ’n luukse is wat sy nie het nie.

Batohi se grootste uitdaging is die saak teen Zuma, wat steeds hardnekkig veg om die klagte teen hom tersyde gestel te kry. Tot nou kry hy die wind van voor in die howe.

Vir baie mense is hy die manifestasie van staatskaping. Die vervolging van Zuma is nie sonder politieke risiko nie. Hy geniet nog politieke steun, hoewel daar tekens is dat dit aan die kwyn is. Hy beskik ook nog oor bondgenote in die ANC, maar hul invloed word op die oog af stelselmatig deur pres. Cyril Ramaphosa gerysmier.

Sukses in die howe teen staatskapers is van kardinale belang vir die toekoms van die land. Dit sal vertroue herstel, nie net in die strafregtelike regstelsel nie, maar ook die land se regeringsvermoë in die geheel. Dit is noodsaaklik dat die uitkoms van die Zondo-kommissie as afskrikmiddel dien vir dienende en toekomstige politici en staatsamptenare.

Die land het duidelik baie werk om te doen om etiese en morele waardes by staatsamptenare in te skerp.

Dieselfde geld politieke partye wat ekstra moeite moet doen om te verseker hul openbare verteenwoordigers is mense met hoogstaande etiese en morele waardes en ’n ingebore sin vir diens aan die mense en nie die self nie.

Amptelike optrede teen staatskapers en korruptes sal ook ’n belangrike sein stuur aan die internasionale graderingsagentskappe wat nog finale uitsluitsel moet gee oor Suid-Afrika se nasionale skuldgradering.

Dit is lank reeds nag vir Suid-Afrika. Net ferm en pragmatiese optrede sal ons van die afgrond af wegkeer.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Korrupsie  |  Nvg  |  Vervolging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.