Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
O, gits! Hoe verlang julle nou na mekaar
Martie Retief Meiring

Of dit nou ’n apokalips of ’n nuwe daeraad is, ek het besluit om vir die heel laaste keer in my lewe te probeer hekel. ’n Bont, bont blokkieskombers.

Suf geprobeer om via Google te leer, erken ek uiteindelik die droom om te kan hekel sal nooit realiseer nie.

Dis nie die soort waarheid wat met denkende mense gedeel word nie, maar in hierdie vreemde tye word so iets nogal gerusstellend.

Dis soos om te besef daardie boek wat jy nog altyd wou geskryf het, nie geskryf gaan word nie; daardie elektriese BMW waaroor jy droom, is skielik ’n dom droom. Selfs om te leer fietsry is uiteindelik sommer ’n lawwe voorneme. En jou plan om uiteindelik van daardie al vergete gekoopte sy ’n bloese te stik, is net so onbegonne soos dit in die eerste plek was.

Hier is skielik ’n heel nuwe wêreld wat aangepak en ontdek moet word. Jy word met jou huis gekonfronteer.

Hoe werk hierdie monster van ’n stofsuier dan nou weer?

Waar word die Jeyes Fluid gehou?

Hoekom op aarde is die groen borde by die wit borde geplaas?

En, aitsa, kyk hoe oulik is die kruiepakkies gerangskik.

En moenie praat hoe colour coded die handdoeke gebêre is nie.

En jou wraggies, die regte deksels is by die regte potte geplaas.

Baie odes is al aan huiswerkers opgedra. Maar, demmitol, jóú verhouding is spesiaal.

Die wonderwerke hou nie op nie (goed, die boegoetee is in die badkamerkas geplaas). Hoe slim tog om die stoepgoed so mooi te rangskik, om nie eens te praat van die regte sleutels wat op die regte hakies gehang is nie.

Baie odes is al aan huiswerkers opgedra. Maar, demmitol, jóú verhouding is spesiaal.

Haar koffie smaak beter as joune.

Jy rol wel jou oë as die taxi’s weer laat is, en sy rol háár oë as jy vergeet het om swart sakke te koop.

Maar as sy ’n koppie koffie aandra, is jy goddank bly dis nie jy wat op taxi’s moet staatmaak nie. En skoolgeld moet betaal. En huurgeld moet betaal. En skoolklere moet koop. En nog tyd moet kry om die jongste kind by ’n dokter te kry.

Hulle het genoeg meel en suiker. Niks groente. Maar dit gaan goed. Die kinders maak haar mal.

Ons bel. Ons verlang na mekaar. Dit gaan goed. Sy’t gehoor hulle kan nie kerk toe gaan nie. Dis Bybelse tye. Die pastoor sê so. Sy help die kinders met hul werk. Hulle het genoeg meel en suiker. Niks groente. Maar dit gaan goed. Die kinders maak haar mal.

Het ek onthou om krag te koop?

Moenie bleikgoed by die waspoeier gooi nie, wag tot sy weer kom, sy weet hoe. En nee, goddank, daardie liewe man van haar sal eers oor ’n maand terug wees. Hy het weer sy foon verloor (of weggedobbel).

Ek moet onthou om die agtertraliedeur ook te sluit. En onthou om water in die strykyster te gooi.

Onthou. Stilte. Data klaar.

Veral mis ek haar “thanks God “as sy ’n verlore ding kry.

Meer oor:  Korona  |  Huiswerkers  |  Huis  |  Tuisbly
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.