Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
OB in pad van ’n perfekte storm

Wat vroeër ’n kleinlike faksiegeveg in die ANC was wat deur persoonlikheidskultusse aangevuur is, het ernstiger beleidsverskille tussen senior ANC-lede geword wat na staatsinstellings versprei het.

Dit neem die vorm van pro- en antiZuma-faksies aan en strek oor kernstaatsinstellings, soos die parlement en die kabinet, heen. Dit het nou ook na ’n Hoofstuk 9-instelling versprei: die kantoor van die openbare beskermer (OB).

Ralph Mathekga

’n Persepsie bestaan dat adv. Busi­siwe Mkhwebane “haar amp as ’n strategiese weerstandsentrum” vir bondgenote van oudpres. Jacob Zuma gebruik wat terugveg teen pres. Cyril Ramaphosa se beweerde skuif om die ANC oor te neem.

Dit is nogal kommerwekkend dat die sigbaarste skuif met betrekking tot institusionele en politieke herstrukturering sedert die verkiesing in Mei die institusionalisering van ANC-faksies in staatsinstellings is. Die eerste aanduiding daarvan was by die aanstelling van die kabinet, wat vertraag is omdat Ramaphosa gekonfronteer is deur die opposisiefaksie se stemmingmakery om sy kandidate aangestel te kry.

Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, lei die anti-Ramaphosa-groepering glo. Ramaphosa se kabinetskeuses laat dit duidelik blyk dat hy vriende nodig het en dat hy die boom geskraap het vir vriendskappe wat hy nog in die ANC kon kry. Te veel kompromieë is uit hom gewurg, met inbegrip van die insluiting van sommige Nkandla-apologete.

Die gevolg is ’n kabinet met lede wat mekaar nie kan verdra nie en radikaal verskil wat beleid betref.

Hierna was die parlementêre portefeuljekomiteevoorsitters aan die beurt. Dis ’n halwe waarheid dat die kabinet oor die mag beskik en dat dié poste derhalwe nie soveel saakmaak nie.

Al wanneer dit nie saakmaak nie, is wanneer die hoof van die uitvoerende gesag ten volle in beheer van die party is en die parlement sy leiding sal volg.

Die ANC is die party wat daaronder sal ly. Een van die faksies sal wen, maar teen ’n prys.

Maar die president sukkel tans om volle beheer oor sy party te kry. As hy nie daarin slaag om te verseker dat sy bondgenote beheer oor kernportefeuljekomitees het nie, sal dit beslis die proses van beleidstoepassing beïnvloed. Dit beteken dat beleidsverskille in die ANC ook in parlementêre portefeuljekomitees gelug sal word.

Dié komitees is die enjinkamer van beleidsformulering, wat in wette vervat word. Hul werk kan beleid verander of die finalisering en inwerkingstelling daarvan vertraag. Voorsitters het die opsie om vyf jaar lank eindelose openbare raadpleging oor beleid te orkestreer totdat almal moed opgee.

Die enigste portefeuljekomitees wat Ramaphosa kan ignoreer, is dié wat deur sy bondgenote beheer word.

Die OB se besluit om Ramaphosa se presidensiële veldtog geesdriftig te ondersoek, het haar kantoor in die pad geplaas van die perfekte storm wat enersyds in die parlement en andersyds tussen die parlement en die uitvoerende gesag aan die opsteek is.

Mkhwebane se ondersoek na Rama­phosa se veldtogskenkings sal beroepe om ’n ondersoek na haar bevoegdheid aanvuur.

So ’n ondersoek sal deur ’n parlementêre portefeuljekomitee gedoen moet word en die werk van so ’n komitee sal geïnterpreteer word na gelang van die waargenome of werklik dominante (ANC-)faksie in daardie komitee.

Die ANC is die party wat daaronder sal ly. Een van die faksies sal wen, maar teen ’n prys. Dit kan die integriteit van sommige van die instellings raak omdat faksies daarop gedy om staatsinstellings aan te val wanneer dit hulle pas. Dit geld selfs die goeie faksies, want hulle is ook in wese faksies.

  • Mathekga is ’n politieke ontleder en skrywer van Ramaphosa’s Turn.
Meer oor:  Anc  |  Faksies  |  Geveg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.