Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
OB-ondersoek ’n gewaagde maneuver vir CR

Die parlementêre ondersoek na adv. Busisiwe Mkhwebane se bevoegdheid vir die amp van openbare beskermer (OB) sal die ANC-koukus se eerste groot toets sedert die inhuldiging van die sesde parlement wees.

Haar toekoms is nou in dié koukus se hande.

Ralph Mathekga

Mkhwebane is ’n oorlas vir pres. Cyril Ramaphosa en Pravin Gordha­n, sy kernbondgenoot. Albei is deur Mkhwebane in haar verslae vermaan.

Die belang van die Mkhwebane-kwessie strek verder as die gewigtige vraag of sy verwyder moet word of nie. Dit sal ook ’n duidelike aanduiding gee van die verhouding tussen die ANC-koukus en die uitvoerende gesag.

Die ANC is diep verdeeld oor wat met Mkhwebane moet gebeur. Van die lede van die uitvoerende gesag wil hê sy moet afgedank word. Ander ANC-lede wil haar beskerm. Die Ramaphosa-kamp is herhaaldelik daarvan beskuldig dat hulle ’n politieke veldtog teen haar begin het omdat hulle meen sy is ’n Zuma-strooipop wat die nuwe daeraad wil ondermyn.

Ook die ANC-koukus is verdeeld oor haar en daar is geen waarborg dat hulle vir haar verwydering gaan stem nie.

Dit gaan nie oor of Mkhwebane reg of verkeerd is nie, maar oor faksiegevegte in die ANC.

Dié faksies, wat ook in die parlement en die koukus geïnstitusionaliseer is, kan die party in die verleentheid stel ten tyde van die parlementêre toesigproses.

Dit sal ’n verleentheid wees as die koukus ’n uitdagende houding daaroor sou inneem terwyl Ramaphosa, hoof van die uitvoerende gesag, haar graag gister al verwyder sou wou gehad het omdat sy hom in ’n hoek gedruk het oor die finansiering van die CR17-veldtog.

In die lig van die huidige onvoorspelbaarheid van die ANC-koukus, is pogings om haar deur ’n parlementêre proses te laat verwyder ’n baie gewaagde maneuver waarin nie bekostig kan word om die teiken te mis nie.

As die koukus teen Ramaphosa besluit, sal dit as ’n uitdaging van hom en sy bondgenote beskou word. En as Mkhwebane oorleef, sal sy woedend uit haar hoek gestorm kom om die werk af te handel wat sy begin het.

Die moeilike vraag is of die ANC-koukus opdragte van Luthuli-huis gaan uitvoer en of hulle die politieke winde van die Uniegebou, waar die president gesetel is, gaan takseer.

Wat opposisiepartye betref, sou die EFF haar vir dapperheid wou vereer omdat sy die groot kanonne takel. Die DA sou weer haar rug wou sien.

Hoe ook al, die wyse waarop die ANC-koukus die kwessie hanteer, sal ’n duidelike aanduiding gee van wat onder Rama­phosa se regering moontlik is.

As pogings om Mkhwebane deur die parlement te verwyder misluk omdat die ANC-koukus nie daarby inkoop nie, sal dit tragies wees – nie net omdat dit Mkhwebane sal aanspoor nie, maar omdat die koukus op dié wyse ’n grens vir die president en sy kabinet sal stel.

Dit sal Ramaphosa se presidentskap meer ondermyn as ’n scenario waar sy met rus gelaat en nie parlement toe gesleep is nie.

In die lig van die huidige onvoorspelbaarheid van die ANC-koukus, is pogings om haar deur ’n parlementêre proses te laat verwyder ’n baie gewaagde maneuver waarin nie bekostig kan word om die teiken te mis nie.

  • Dr. Mathekga is ’n politieke ontleder.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.