Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
OB-reputasie moet herstel word. Maar kan dit?
Llewellyn Prince

Die jaar het nog nie eens behoorlik op dreef gekom nie, of adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), is reeds – soos verlede jaar – vir alles behalwe haar uiters belangrike werk in die kalklig.

Sondag het dit bekend geword dat die beleërde Mkhwebane beplan om Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, se aankondiging vroeër dat sy ’n DA-mosie goedgekeur het dat die parlement verrigtinge moet begin om Mkhwebane uit haar amp te verwyder, in die howe gaan betwis.

Mkhwebane se voorgenome regsaksie kom op ’n tyd dat die kantoor van die OB sy begroting vir regskoste vir die huidige boekjaar van R20 miljoen reeds met 100% oorskry het soos sy links en regs hofaansoeke teen haar moet verdedig.

En dit blyk dat die parlementêre proses wat haar moontlik uit haar amp kan verwyder, nie haar enigste kopseer is nie. Verlede week het dit ook bekend geword dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) haar persoonlike inkomstebelasting sedert 2011 ondersoek.

En dit blyk dat die parlementêre proses wat haar moontlik uit haar amp kan verwyder, nie haar enigste kopseer is nie.

Boonop is daar ook ’n hangende kriminele ondersoek teen Mkhwebane nadat die organisasie Accountability Now vroeër ’n klag van meineed teen haar by die Valke ingedien het ná die verdoemende uitspraak teen haar van die konstitusionele hof verlede jaar in die Absa- Reserwebank-hofgeding. In die uitspraak is onder meer bevind dat sy onder eed gelieg het.

Behalwe dít alles versoek Accountability Now ook die Regspraktykraad om Mkhwebane van die rol van advokate te skrap. Dieselfde organisasie se aansoek waarin hy vra dat ’n hof Mkhwebane ongeskik vir haar amp moet verklaar, word op 10 en 11 Februarie in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Bogenoemde is net enkele van Mkhwebane se uitdagings – wat bestaande persepsies verder versterk dat sy ongeskik vir haar uiters belangrike amp is.

Dan praat ons nog nie eens van die reeks verdoemende hofuitsprake verlede jaar teen haar nie.

Asof dit nie genoeg is nie, word Mkhwebane ook nog daarvan beskuldig dat sy deel van ’n sekere faksie in die ANC is. Sy het dit al ’n paar keer in die parlement ontken. Dit het egter weer verlede week na vore gekom toe Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes wat met die Ace Magashule-faksie in die ANC verbind word, openlik gesê het dat die ANC nie die DA-mosie sal steun nie. Die ANC het later vure doodslaan toe dit sy uitlatings as sy “persoonlike mening” beskryf het.

Mkhwebane self beskou alle optrede teen haar, selfs die SAID-ondersoek, as deel van georkestreerde pogings om haar te intimideer weens ongunstige bevindinge wat sy al teen verskeie hoëprofiel-individue gemaak het.

Die punt is egter dat al die ongewenste verwikkelinge rondom Mkhwebane die reputasie van die eens gerespekteerde amp groot skade aanrig en reeds aangerig het.

Dit is daarom in belang van gewone Suid-Afrikaners, wie die kantoor van die OB teen misbruike deur politici en regeringslui moet beskerm, dat alles moontlik gedoen word om daardie skade en reputasie van die amp so vinnig moontlik te herstel.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Llewellyn Prince  |  Politiek  |  Parlement  |  Klagte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.