Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Olé! (’n Mens sou sweer ons het ver gewen)
BlouWillem

Ja nee kyk, nou voel ons almal sommer baie beter, of hoe?!

Aan die glimlagte, olé-olé-olé-olé’s en Mexi­kaapse golwe sou jy sweer ons het die All Blacks met 60 punte afgestof.

Nie gedink dat ek ooit in my lewe so tevrede sou voel oor verloor nie, maar wys jou net met hoe min ons deesdae tevrede is.

Daar is ’n ou spreekwoord wat daarop neerkom dat as ’n ou man sterf, ’n hele biblioteek op daardie oomblik afbrand.

Dit was nog nooit so waar nie as met Giel Nieman, Lappe Laubscher en Joe Venter se heengaan sommer so binne twee weke. Koppe vol geskiedenis van ’n ou Pretoria, die oorloë in ons verlede, elke stukkie sportgeskiedenis en dan natuurlik rugbystories.

Giel het nog onlangs sy boek oor die geskiedenis van rugby in die Tweede Wêreldoorlog waaraan hy 28 jaar gewerk het, gepubliseer. Behalwe dat ou Giel ook gewerk het aan ’n boek oor die geskiedenis van klubrugby daar in die vroegste jare het hy ook in sy lewe meer as 180 toetswedstryde oor die aardbol heen bygewoon. En, bygesê, anders as die minister van sports, op eie koste!

Lappe sien ek in sy boekwinkeltjie in Menlopark. Daai lekker glimlag en altyd ’n storie of drie.

En wie nou daar in Bloemfontein gaan skryf oor ’n gholftoernooi in Zastron, Rouxville en Bultfontein of van Tolletjies Toerien se
hole-in-one in Vrede se vyfde putjie, weet ons nie. Al wat ek weet, is dit is baie sleg van die biblioteke.

Maar nou ja, eer jou Bokke, sou die coach mos sê.

’n Kostelike, tipiese klubstorietjie wat ou Giel onlangs vertel het, is van die twee spelers van Hamiltons in Oos-Londen wat daar in die 1970’s afgestuur is oor ’n bakleiery in die wedstryd teen Cambridge. Nadat Cambridge ’n drie gedruk het, het die bakleiery losgebars tussen twee ouens van Hamiltons wat mekaar vir die drie geblameer het. Ja, en toe kry albei die trekpas en later ’n driewedstrydskorsing van die Grens-rugbyunie.

Miskien moes iemand Saterdag daar agter die pale op Nuweland maar ook ’n fluiter op ons losskakel se kaalgeskeerde oor gesit het dat hy kon wakker skrik. Maar nou ja, eer jou Bokke, sou die coach mos sê.

En dan ou Lappe se storie oor Braam van der Vyfer wat daar in die vroeë 1980’s die eerste skeidsslegter geword het wat self in ’n wedstryd punte aangeteken het. Só het dit gebeur: Onderstepoort speel intervarsity teen Wits se Medics. Die veeartse is later 60-0 voor en die skeidsslegter Braam probeer alles om die arme kommunissies op die telbord te kry, maar met elke strafskop vat Wits se skrummie ’n kortskoppie wat, nodeloos om te sê, op ’n nulletjie uitloop.

In beseringstyd gee hy wat Braam is reg voor die Tukkies se pale weer ’n strafskop, maar toe skrummie weer tik en laat waai, blaas Braam hard op die fluitjie, gryp die bal, stel hom op sy puntjie en klap hom deur die mikke. Eindtelling: 60-3. Ai, Braam, waar was jy in Albany?

Meer oor:  Blouwillem  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.