Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Olifante kort migrasieroetes vir oorlewing
Elise Tempelhoff

Botswana, Zimbabwe en Suid-Afrika huisves die laaste volhoubare olifantbevolkings in Afrika. In die res van Afrika is olifante so te sê uitgewis: óf deur die loop van ’n grootkaliberjaggeweer óf deur stropery.

In 2016 het die Groot Olifantsensus getoon daar is na raming minder as 450 000 olifante in Afrika oor. Dit het skokgolwe deur die bewaringsbedryf gestuur. In minder as 100 jaar het Afrika se olifantbevolking van tussen 3 miljoen en 4 miljoen tot ’n handvol geval. Die oorblywende diere het almal suidwaarts migreer, weg van die grootwildjagters en die stropers.

Dit het nie sonder voorvalle plaasgevind nie. Die olifante het drade platgetrap, was in konflik met gemeenskappe omdat landerye verwoes is en het selfs mense doodgetrap.

Die feit dat die olifante weet hul lewe is in gevaar, is maar net weer ’n bewys daarvan dat hulle selfs intelligenter as sommige mense is.

Skep migrasieroetes, want olifante het toentertyd oor Afrika heen gemigreer.

En nou woon die grootste bevolking Afrika-olifante in die Okavango, in Botswana en in die Hwange-natuurreservaat in Zimbabwe. En hulle “verwoes” die ekologie. Maar waarheen moet hulle dan gaan? Hulle is nêrens meer veilig nie. En nou gaan Bo­tswana ook grootwildjagters instuur om die grootstes met die beste gene dood te skiet.

Omgewingsbewustes en wetenskaplikes waarsku dat pres. Mokgweetsi Masisi van Botswana se besluit om die olifantjagverbod op te hef op ’n bewaringsramp gaan afstuur. Hy het Vrydag tussen 60 en 70 olifantbulle vir R586 415 opgeveil om van April tot September gejag te word.

Dit bring my by ’n SMS van ’n Beeld-leser wat meen meer navorsing moet oor die effek van die reuse-olifantbevolking op Botswana se ekologie en landelike gemeenskappe gedoen word. Ek het ’n teenvraag: Waarheen moet hulle gaan?

Daar is reeds baie navorsing gedoen oor wat Afrika te doen staan om sy krimpende olifantbevolking te red. Die antwoord is: Skep migrasieroetes, want olifante het toentertyd oor Afrika heen gemigreer. Migrasie is in olifante se gene.

Die skep van die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied (Kaza) sou die antwoord wees. Dit sou Angola, Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe met mekaar verbind. Dr. Don Pinnock, olifantbewaringskundige en medeskrywer van The Last Elephants, sê Kaza is ’n “manjifieke” projek wat weens burokratiese rompslomp nie van die grond af kan kom nie.

Kaza se doel is eenvoudig: Maak migrasieroetes vir olifante en ander wild tussen die vyf lande oop. Kaza sou meer as 500 000 km² beslaan en die Caprivi, Khaudom, die Nyae Nyae-panne in Namibië, die Okavango-delta, Chobe en Moremi in Botswana, Parcial de Luiana in Angola, Sioma Ngwesi, Kafue en die Luwe-vlaktes in Zambië, die Victoria-waterval, Hwange, Chizarira, die Karibameer en die Mana-poele insluit.

Hebsugtige politici en “ontwikkelaars” en hul eiebelang is van die struikelblokke vir Kaza. Intussen hang die toekoms van Afrika se olifante aan ’n dun draadjie.

Meer oor:  Elise Tempelhoff  |  Olifante  |  Bewaring  |  Migrasie  |  Oorlewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.