Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ollie Viljoen se storie oor ’n man in ’n kis
Dana Snyman

Oom Ollie Viljoen het Woensdag verjaar. 17 Maart.

Kort voor sy dood gaan kuier ek vir hom. Hy is by sy seun in Gordonsbaai, in die bed, swak. Een van die land se bekendste musikante.

Op die kassie langs die bed lê ’n selfoon, ’n pen, ’n paar blokkies sjokolade en ’n Ferdinand Deist-boek oor gebed. Teen die muur leun sy drie trekklaviere. Op een van hulle het hy gespeel toe hy saam met Hugh Masekela opgetree by die Uniegebou toe Nelson Mandela as ons eerste demokratiese president ingehuldig is.

“Het ek jou al die storie vertel van die ou in die doodskis?” vra hy en kom effens regop teen die kussings.

Oom Ollie is ook die man wat die TV-program Spies & Plessis begin het en storievertellers soos Tolla van der Merwe, Arno van Zyl en Nico Nel ontdek het.

“ ’n Oom van Moorreesburg het my die storie vertel.” ’n Flou glimlaggie versprei oor oom Ollie se gesig. “Die oom sê daar by hulle was ’n ou wat so gedrink het. Almal het probeer om hom reg te kry, maar elke keer val die ou weer voor die bottel.

“Eendag bel iemand die dominee: Dominee moet kom help, die ou het by hom in die huis uitgepaas en die ou se vrou is moeilik en hy weet nie wat om te doen nie.

’n Ou wat so ’n groot piepie het soos ek nou het, kan nie dood wees nie.

“Die dominee bel die ou se vriende en sê: ‘Vandag moet julle my help, manne. Ons moet hierdie man regkry.’ Toe bel die dominee ’n begrafnisondernemer op Piketberg en reël ’n doodskis. En toe ry hulle met die omgetiepte ou soontoe.

“Hulle sit die ou in die kis en vat hom na ’n grot in die berg naby die dorp. Daar’s mos grotte in daai berg. Hulle sit daar in die donkerte van die grot by die kis en wag. Later hoor hulle die ou in die kis beweeg. Maar hulle bly doodstil.

“Later vra die ou uit die kis uit: ‘Wat gaan aan? Waar’s ek?’ Die dominee sit daar – en die grot het so ’n hol klank – en die dominee sê in ’n groot stem: ‘Jy’s dood, broer.’ Die ou raak weer stil in die kis, maar ná ’n rukkie vra hy weer: ‘Nee, man, sê my nou: Waar’s ek?’

“ ‘Jy’s dood, broer,’ sê die dominee weer in daai stem. ‘Jy’s in die doderyk.’ ”

“Die ou lê weer ’n rukkie, en toe sê hy weer uit die kis uit: ‘Nee, jinne, dis onmoontlik, ’n ou wat so ’n groot piepie het soos ek nou het, kan nie dood wees nie.’ ”

Ek sien nog hoe oom Ollie daar op die bed lê en lag, geluidloos lag, terwyl sy lyf skud en sy ogies klein trek. Hoe hy terugsak teen die kussing en die kombers tot teen sy ken optrek, en sê: “Stories, ja. Stories.” Asof dit alles van die lewe moet verduidelik.

Teen die muur die drie trekklaviere waarop hy nooit weer sou speel nie. Buite die son wat helder oor die see skyn. Tussen angs en sekerheid.

’n Mens kan nie glo dit is al ses jaar gelede nie.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Dood  |  Stories
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.